Grens. Leonette Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Grens - Leonette Smit страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Grens - Leonette Smit

Скачать книгу

dit voluit sal blom.

      As ek nie self insluimer nie, verkyk ek my aan die veld. Die grasse staan geil langs die pad. Dis asof hulle jubel. In sy volle lengte staan die grys-groen tamboekie lofprysend orent. Die vingergras hef hulle hande hemelwaarts op, met die palms oop om meer seën te ontvang. Dekgras, reeds swaar in saad, buig laag neer in aanbidding voor die Koning wat lewe en groei bewerkstellig. Fonteingras langs waterpoele wuif hul wit pluime heen en weer voor die Seun van Dawid wat kom. Pylgras staan kiertsregop; ’n erewag op die soom van die pad. Salueer die Skepper. Kolle wit en koraalkleurige kapokgras kaats gloeiend die glans en glorie van God terug – Hy wat die gras en die veld só versier en versorg.

      Deur die denneplantasies van Natal verander die weer. Dit word triestig. Plek-plek hang die mistigheid misterieus tussen die swart stamme van die denne. Soos ons verbyjaag, val die sonstrale strobo­skopies daardeur.

      Dit is al ná vier toe ons uiteindelik stilhou voor ons bespreekte chalet. Die kinders hardloop so uitgelate soos twee spelerige klein hondjies rond.

      “Kom help gou vir Pappa die koffers afdra, dan kyk ons in watter bedjie elkeen van julle gaan slaap.”

      “My bedjie is die een hier by die venster,” sê Klein-Johan.

      “My bedjie hiel,” vul Karien aan.

      Hulle klouter op die skoon dekens, sit die bedliggies aan, maak bedkassies oop om alles wat nuut is te verken.

      Ek begin dadelik dink aan aandete. Ons het nie plek vir baie voorraad gehad nie en moet nou gou speel voor toemaaktyd om iets by ’n winkel te gaan kry. Terwyl ek koffers uitpak, gaan koop Smit vir ons iets vars vir aandete – vis, brood, melk en iets vir ’n slaai.

      Toe hy terugkom, vat ons die kinders af strand toe sodat hulle die see en sand kan beleef voor dit donker is. Hoe betowerend is los, skoon seesand nie onder ’n mens se kaal voete nie! Impulsief wil ’n mens begin speel, in die sand neerplons en een word met die strand.

      Elk aan ’n handjie lei Smit die kinders na die nat sand waar die golfies skuimrandjies agterlaat. Aanvanklik gaan dit versigtig, maar later plas hulle baldadig met klere en al in die vlak seewater. Die nat strand word koper in die laatmiddaglig.

      Hulle geniet dit so dat ons lank ná die normale tyd eers by die bad­ritueel kom. Smit hanteer dit terwyl ek vinnig vir ons ’n vissie bak, broodrolletjies smeer en ’n slaai uitpak. Dis vir hulle lekker as hy dit doen, want hy bou soveel pret daarin. Ek is nie meer so mobiel nie en sukkel om hulle uit die bad te tel en af te droog. Dis baie makliker om die kosmaak te behartig as die badsessies. Maar ek sal vroeg moet gaan lê, want my voete lyk nie goed nie. Dik geswel van die dag se lang rit.

      Toe albei die kinders vas aan die slaap is, sit ek en Smit op die donker stoepie en tee drink met ons voete op die muurtjie. Die dreuning van die see, die rustige aandgeluide, die sterrehemel bokant die lyn tussen hemel en see oopgesprei, vorm die volmaakte tafereel waarin ons ontdaan word van opgekropte moegheid en spanning. Ons gedagtes plat af. Word soos gladgespoelde strande waarop geen versteuring van voetspore meer sigbaar is nie. Die reis hierheen was voorspoedig, die kinders slaap rustig en ons begin die helende effek van die see in die gemoed ervaar.

      Ons albei slaap nog vas die volgende oggend toe die kinders al op ons is. Hulle is opgewonde oor die konstante dreuning van die see en wil weer strand toe. Dis ’n lieflike oggend. Wolkloos. Windloos.

      Ek kry myself nie uit die bed uit nie. Dis of my lyf protesteer teen opstaan. Smit lok die kinders kombuis toe waar hy koffie en tee gaan brou, sodat ek nog ’n rukkie kan lê. Die paar minute waarin hulle my alleen laat, is genoeg om my weer diep te laat insluimer.

      Is ek dan regtig só moeg, of ontspan ek net toetentaal? wonder ek toe hulle vrolik met ’n gepakte skinkbord terugkeer kamer toe.

      ’n Uur later lê ons spore afgedruk in die klam sand al met die soom van die see langs. My en Smit se spore strek agter ons uit in lang egalige rye. Die kleiner spoortjies lê kruis en dwars oor ons spore soos wat hulle agter elke slakkie wat uitspoel aanhardloop en na elke nuwe skulpie wat hulle opmerk, hardloop. Hulle verwondering oor die grote see en dit wat met elke golfie uit die see gestoot word, werk aansteeklik. Naderhand bult albei my sakke met alles wat Karien optel en vir my aangee om vir haar te hou. Opgewonde buk hulle oor ’n bobbel van ’n jellievis waaraan slakkies knabbel. Smit wys vir hulle die groot olietenkers op die see se horison, en saam jaag hulle agter strand­lopertjies aan. Klein-Johan probeer tevergeefs ’n seemeeu inhardloop.

      Die geklots van die golwe, die vars seelug, die son op ons kaal bene en arms, die kinders se speelsheid en genot, stel ook ons plesier vry. Ons vergeet van roetine en skedules. Drentel baie verder langs die strand as wat ons van plan was en word oorval deur hongerpyne wat ons terugdryf na ons chalet vir ’n oordadig groot ontbyt.

      “Ek sal in ’n stadium Port Shepstone toe moet ry om ’n nuwe petrolfilter vir die kar te gaan soek, miskien is daar vuiligheid in die carburettor. Die kar het gisteraand weer gesluk op pad winkel toe en een slag sommer heeltemal uitgesny. Ons kan nie die pad terug só aandurf nie.”

      Saterdagmiddag, ’n paar dae nadat ons daar aangekom het, staan ek en doeke was by die badkamerwasbak. Smit het die oggend vir my sy trouring gegee om aan my regterhand te dra sodat hy hom nie verloor in die see nie. Ek het sý ring, en my twee ringe – verloofring en trouring – afgehaal en aan die hakie bokant die wasbak gehang. Toe ek klaar gewas en uitgespoel het, ruil ek per ongeluk ons twee trouringe om. Hulle lyk presies dieselfde – ’n gepoleerde band in witgoud. Syne is net wyer. Die oomblik toe ek mý touring, in plaas van syne, aan my regterhand sit, besef ek my fout. Daar sit hy – ek kry hom nie weer uit nie! Ek smeer seep en probeer onder die koue lopende water, maar hy sit! My vinger swel onmiddellik dik op.

      “Smit!” roep ek benoud. “Kom help! My ring sit vas aan die verkeerde vinger!”

      “Hoe de duiwel het jy dít reggekry?” vra hy verontwaardig. Binne minute is my vinger so dik geswel dat ons besef ons sit met ’n groot krisis.

      “Klim, my vrou. Ons sal moet by ’n garage of ’n werkswinkel kom om hierdie ring deur te sny voor jy jou vinger verloor.”

      Karien begin huil oor my vinger wat so dik staan.

      “Toemaar, my skat, dis nie seer nie. Pappa gaan hom sommer gou afkry,” probeer ek haar troos, maar is self benoud.

      Daar is nie een werkswinkel oop nie. Ons ry straat op en straat af. Smit draai op die ingewing van die oomblik by ’n erf in waar daar ’n man staan en werk in sy garage.

      “Ek het vanoggend met dié ou gestaan en gesels op die strand. Ons het oor die Peugeot se probleem gesels. Hy ken karre se enjins en sal sekerlik die regte gereedskap hê om die ring mee deur te saag.”

      Dis met ’n groot gesukkel dat die ring uiteindelik deurgesaag is sonder om my vinger te raak. Die witgoud is so ’n harde metaal, dat dit vir my voel hulle breek my vinger af in die poging om die ring wyd genoeg oop te buig om my vinger uit te kry.

      “Nee wat, jy hoef nie bekommerd te wees nie. Enige juwelier kan die las sommer maklik herstel, jy sal nie eens weet waar ons hom deurgesaag het nie,” verseker die man my. Wat ’n verligting toe die drukking om my vinger af is!

      Dít, die Saterdag se dinge. Maar beslis nog lank nie die einde nie …

      Ná die naweek ry Smit om onderdele vir die Peugeot te gaan soek. Hy bly die hele dag weg. Sy soektog neem hom tot in Durban, waar hy eindelik die regte onderdele teen ’n

Скачать книгу