Fiela se kind. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fiela se kind - Dalene Matthee страница 19

Автор:
Серия:
Издательство:
Fiela se kind - Dalene Matthee

Скачать книгу

die ding!”

      Hy het agter die kar ingeval en maklik bygehou. Dit was beter om te loop. Dit was net dat hy so vol huil was dat sy keel en sy neus en sy oë gebrand het daarvan. Dawid het gesê hy moenie huil nie. Nie voor witmense nie.

      Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien.

      Die pad was vol klein ronde ysterklippers en hier en daar was ’n skerpe tussenin. Drie maal nege is sewe-en-twintig. Hoe lank nog voor dit Saterdag is? Twee keer se slaap. As hulle terugkom, sal elke opdraand ’n afdraand wees en elke afdraand ’n opdraand. Hy sal baie moet loop. Hulle kan hom maar net tot by De Vlugt bring, hy sal alleen regkom daarvandaan.

      Vier maal nege is ses-en-dertig.

      Die magistraat wil net sien wie se kind hy is, of hy die bosvrou se kind is. Hy is Fiela Komoetie se kind. Al wat hy moet doen, is om dit vir die magistraat te loop sê. Kittie het gesê baas Petrus of miss Baby kon ’n brief vir die magistraat geskryf het om te sê hy is Fiela Komoetie se kind. Sy pa het gesê die brief sou te lank vat om daar te kom. Die poskar loop maar elke tweede week.

      Hy het die huil nie meer ingehou gekry nie. Sy voete het soos kole vuur in die skoene gebrand, want die skoene het nie meer gepas nie. Hulle het gekrimp of iets.

      Elke keer as een van die mans op die perdekar omkyk, het hy sy kop laat sak sodat hulle nie moes agterkom hy huil nie. Hy wou nie huil nie, maar hy kon nie anders nie. Hy het al verder agter geraak omdat sy voete in sy skoene brand; hy was seker die bloed loop al uit hulle uit. Tollie het gesê as hy terugkom, wil hy die skoene by hom leen; hy wil op Avontuur gaan dans met Siena van oompie Jakoos-hulle. Sy ma slaan Tollie dood. Sy sê altyd die Komoeties kyk eers wáár hulle inkruip voor hulle inkruip, en hulle kruip nie by oompie Jakoos-hulle in nie. Tollie kon die skoene in elk geval maar vat.

      “Jy moenie te ver agter raak nie, boet!”

      “Gaan bars!” wou hy vir hulle terugskree.

      Toe die lange die perde weer ’n slag laat rus, het hy gaan sit en die skoene uitgetrek. Gelukkig het sy voete darem nog nie gebloei nie, hulle was net baie rooi. Sy ma het gesê hy moet die skoene aanhou sodat die mense kan sien hy is uit ordentlike mense wat winkelskoene dra. Sy pa het net die werfskoene self gemaak.

      “Hoe lyk dit dan vir my of jy gehuil het?” het die dikke gevra.

      “Nee, baas. Hoe ver is dit nog, baas?”

      “Waarheen?”

      “Knysna toe, baas.”

      “Ons is nog nie halfpad nie, man!”

      “Hoe laat is dit al, baas?”

      “Twaalfuur.”

      Een maal nege is nege. Twee maal nege is agttien. Toe die perde weer begin loop, het die huil in strome uit hom uit geloop en hy moes sy gesig aan Dawid se baadjie afvee om te kon sien waar hy trap. Sy voete sonder die skoene was net so erg as met die skoene aan. Erger. Sy ma het al die harde velle van sy voete af geskrop en die klippe was skerp. En Dawid gaan kwaad wees oor die snot aan sy baadjie, hy sou Dawid se baadjie moes was.

      En die dikke het gesê hulle was nog nie eers halfpad nie. Hoe sou hy ooit halfpad haal?

      Hy is op die kante van sy voete uit tot bo waar hulle hom weer laat opklim het.

      “Ek het gedink daardie skoene gaan vir jou druk,” het die lange gesê en gelag.

      Agter die volgende berg het hulle weer uitgespan. Hy was nog nie honger nie.

      “Is ons nou al halfpad, baas?”

      “Ja. Net so oor die halfpad en ons behoort so oor drie uur in die Bos te wees. Kan jy iets van die Bos onthou?”

      “Nee, baas, ek ken nie die Bos nie.”

      Voor hulle in die Bos was, moes hy nog twee keer afklim om die kar ligter te kry. Maar die pad was nie meer so erg vol ysterklippers nie en het weer witter geword. As hy mooi trap, kon hy al langs die kant in die wit stof langs vir sy voete sagte plekke soek. Die klippe van die mure wat die pad moes vashou, het ook witter geword.

      Teen vieruur het dit darem gelyk of hulle die ergste berge oor was, want die berge agter hulle was hoër as die berge vorentoe.

      “Wat snuif jy so?” het die lange gevra nadat hy die laaste keer moes loop.

      “Ek weet nie, baas.”

      “En ek weet nie hoe hulle jou ooit weer gaan wit kry nie. Jy moet leer om ‘oom’ te sê! Jy’s wit, jy’s nie bruin nie.”

      Hy het niks van die lange gehou nie. Die dikke was beter. Sy ma het gesê die Here help hulle as hulle weer ná Saterdag hulle pote op Wolwekraal se werf sit.

      Die son was al flou toe die pad in die groen tonnel van bome en bosse inloop.

      “Is dit die Bos, baas?” Sy sitvlak was seer gesit.

      “Dis sy begin.” Die dikke het onrustig geklink.

      Alles was skielik anders. Die lug het na die modder in die fonteinkloof geruik. Net natter. Die asem in sy neus was kouer.

      “Is dit die Bos?” het hy gevra om seker te maak.

      “Ja.”

      Dit was mooi. Oral tussen die bome het die geilste varings gestaan. Sy arme ma moes so sukkel om die varing in die blik voor die agterdeur aan die groei te hou en hier het die goed sommer onder die bome gegroei. Nie eens in blikke nie.

      “Woon hier mense, baas?”

      “Meeste houtkappers.”

      “En die olifante?”

      “Hulle is ook hier.”

      Alles het sagter geklink: die perde se pote, die kar se wiele. Daar was nie meer stof nie, dit was of die stof klam was en bly lê het.

      Hulle het ver so deur die Bos gery. Die bome het al dikker opmekaar begin staan en al hoër geword. Hy wou nie die een wees wat ’n volstruis moes soek wat in dáárdie ruigtes weggeraak het nie. Op plekke sou ’n volstruis nie eens kon in nie, sy bene en sy nek sou net daar knoop en afknak. Om nie eens te dink aan hoe die vere sou lyk nie. Rossinski sou hulle niks gee daarvoor nie.

      Wanneer hulle stilgehou het om die perde te laat rus, het hy voëls gehoor. Maar hy kon hulle nie sien nie. Bokant die pad het die bome van weerskante af deurmekaar geraak en hy kon net stukkies van die lug sien. As hy net een van die bome vir sy pa kon uittrek en langs die huis gaan staan maak om onder te sit, en een vir sy ma vir die varing om onder te staan.

      “Waar’s die olifante dan, baas?” Hulle het hom nie geantwoord nie. Nêrens was huise nie, daar was nie plek tussen die bome en die boskasie wat onder die bome gegroei het vir huise nie.”Waar woon die mense dan, baas?” Weer het hulle hom nie antwoord gegee nie. Dit het gelyk of hulle stokstyf regop sit en die hele tyd op die uitkyk is vir iets wat uit die Bos moet kom.

      Eers toe hulle stilhou om die lantern op te steek, het die dikke weer met hom gepraat: “Boet, van hier af moet jy albei jou oë oophou en ons help uitkyk vir die olifante.”

      “Ja,

Скачать книгу