Fiela se kind. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fiela se kind - Dalene Matthee страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Fiela se kind - Dalene Matthee

Скачать книгу

voorsê nie. As hy gesê het Vrydag, is dit Vrydag of hy skryf vir jou aan die verkeerde kant van die wet in en jy staan Maandag vir minagting in die hof!”

      “Dan ry ek saam met julle met die kar.”

      “Daar’s nie plek op die kar nie,” het die lange gekeer. “Jy weet self hoe ellendig die pad hier agter oor die berg is. Die poskar had verlede maand nog weer ’n ongeluk, op dieselfde plek waar mister MacPherson met die poskar verongeluk het.”

      “Nou wil julle mý kind loop staan en verongeluk?”

      “Maar dis dan hoekom ons sê ons kan jou nie ook oplaai nie; ons wil nie die kar te swaar hê nie.” Die lange was ergerlik. “Môre vroeg kom laai ons die kind op, môreaand slaap hy by my in my huis op Knysna, Vrydagoggend neem ek hom vir mister Goldsbury hof toe en die bosvrou kom kyk of dit haar kind is.”

      “Dis nie haar kind nie!”

      “As dit nie haar kind is nie, bring ons hom Saterdag terug.”

      Sy het geweet hoe die kloekhen voel as die valk in die lug kom hang en daar is geen skuilte vir haar om heen te vlug nie. Al wat vir háár oorgebly het, was om te pleit.

      “Here, baas, ek het die kind belowe dat ek hom nie sal laat vat nie. Hy’s so vas aan my, baas. Hy’s maar nog net ’n kind en hy’t min wil. Ons is sy wil en God kyk op ons af en Hy skryf iedere traan op wat ’n kind deur onse wil stort. Het baas dan nie ’n hart nie? Al wat ek vra, is dat baas my saam met die kind vat. Ons sal terugloop.”

      “Ons kan nie,” het die dikke gesê. “Maar ons sal mooi na hom kyk, jy hoef nie bang te wees nie.”

      Sy wás bang. Hulle het met ’n ding gekom waarteen sy nie langer kon baklei nie. Hulle had die wet aan hulle kant en die wet is baas. As die magistraat net die kind vir die bosvrou wou wys, was daar niks te vrees nie, maar daar was so baie ander redes wat hulle in hulle koppe kon wegsteek en waarvan sy nie kon weet nie. Dít was die vrees wat haar in wanhoop laat staan het en die woede in haar laat kom het.

      “As baas-hulle nie loop sê het van die kind nie, as julle julle bekke gehou het, het hierdie ding nie nou oor ons gelê nie!”

      “Jy kon tog nie die kind vir ewig weggesteek het nie!” het die lange haar uitgedaag.

      “Ek het hom nie weggesteek nie!” het sy gestry.

      “Die mense sê die kind kom nie in die kerk nie, hy verheiden.”

      Sy het van voor af geskrik. “Met ander woorde, julle het by andere oor die kind loop praat? My agter my rug loop verskinder?”

      “Hulle sê die kind is nie saam met jou ander kinders skool toe nie.”

      “Ek leer hom van die Here. Tollie en Dawid het hom geleer soos hulle in die skool geleer het. Iedere middag. Miss Baby Stewart, onder op die kruis langs die winkel, het hom twee middae in die week somme geleer omdat Tollie en Dawid self nie die somme altyd verstaan het nie. Benjamin kon húlle later van somme leer. Nee, baas, ek het hom nie weggesteek nie, ek het hom net uitgespaar waar ek kon omdat hy wit is. Ek het hom maar net weggehou van adders soos julle!”

      “Fiela!” Selling het haar geken as sy duiwel vat. “Die baas sê mos hulle sal hom Saterdag terugbring.”

      “Hoe weet ek hulle staan nie en lieg nie?” het sy vir Selling geskree.

      “Baas, lieg baas-hulle?” het Selling bedremmeld en reguit vir die lange gevra.

      “Ons lieg nie, maar as die magistraat van jou vrou se houding moet verneem, gaan dinge sleg lyk vir julle. Die magistraat wil net die kind vir die bosvrou wys, maar nou moet ek my van ’n bruinvel laat staan en beledig. Ek het nou genoeg gehad. Môre voordag kom laai ek die kind op. As hy nie regstaan nie, ry ek sonder hom en kan die magistraat die konstabel stuur om hom te haal. Dié sal nie kom staan en verduidelik soos ek nie, hy sal hom kom vat en klaar. Hy’s ’n Ier.”

      Toe hulle wegry, het Wolwekraal agter hulle tot ’n verslae stilstand gekom. Alles, behalwe die wyfie.

      En Fiela se kop het na elke kant toe uitkoms gesoek. Sy moes die kind vat en bo in die fonteinkloof met hom gaan wegkruip. Nee, sy moes kruis toe loop, na miss Baby toe, en hom daar gaan wegsteek. Of by antie Maria. Maar antie Maria was kok by Petrus Zondagh-hulle en het in die werk gestaan. Sy moes na Petrus toe, hy sou weet wat om te doen. Nee, fonteinkloof toe sou die beste wees.

      Selling het inmekaar op sy bankie langs die huis gaan sit. Kittie en Emma het by die peerboom gestaan en huil, en Dawid en Tollie het rantjiesveld toe geloop.

      Benjamin het sy skuite op die water gaan sit.

      Here wat op die mens neersien, wat moet ek doen?

      Sy het varkhok toe geloop. Na die bok toe. Kamp toe. Vangdam toe. Veld toe. Terug. Net soos die wyfie kon sy nie tot ruste kom nie. Varkhok toe. Kombuis toe. Vangdam toe.

      “Ma?”

      “Bly stil, Benjamin, Ma dink.”

      “Wat dink Ma?”

      “Alles.”

      Veld toe. Kamp toe. Varkhok toe. Here, watter kant toe? Lieg hulle of praat hulle die waarheid?

      Teen die middag was daar twee kante oor: Die kind moes alleen in die fonteinkloof loop wegkruip en almal moes sweer dat hy verdwyn het soos hy gekom het. Weggeloop. Of sy moes klaarmaak en hom saamstuur Knysna toe en op haar knieë bly tot Saterdag toe en glo dat hulle hom sal terugbring. Die bosvrou se kind was hy nie, daarvoor sou sy sonder sien haar hand op die Bybel lê.

      “Ma, die wyfie het bedaar, sy wei nou. Skopper ook.” Dit was of Benjamin haar daarmee wou troos.

      “Loop speel, Benjamin, Ma is nog nie klaar gedink nie.”

      Die kind het geweet hulle is vas, dit was in sy oë geskryf. En hy het nie teruggegaan sloot toe nie, hy het by Selling teen die muur gaan sit.

      Nee, die kind kon nie alleen fonteinkloof toe nie. Dit was ’n bang dwaas se uitkoms. Daarby het ’n tier skaars ’n maand gelede weer daar deurgekom en een van die Laghaans se ou slingermaer skape kom vang.

      Dawid en Tollie het agter die huis op die nabank gesit. Kittie en Emma het op die hoek van die huis gestaan. Sy het geweet hulle wag dat dit tot klaarte in haar moet kom, dat sy moet sê na watter kant toe.

      Daar was net een kant oor.

      “Dawid!” Sy het loop staan waar hulle haar almal kon sien en hoor. “Kry reg jou voete, jy moet dorp toe. Tollie, breek dunhout en pak ’n buitevuur aan vir warm water se maak. Emma, maak kleinvuur in die huis en hang vir ons kos oor. Kittie, loop haal die blik met die naaldegoed.” Hulle het haar net aangestaar. Sy sou moes reguit praat. “Benjamin gaan Knysna toe,” sê sy en sien Selling se hand uitgaan om oor Benjamin se kop te gaan lê. “Dit kan nie anders nie. Ek het oral gedink en ek kry nie ’n ander pad nie. Maar Saterdag sal hulle hom terugbring, sê ek vir julle. Hoor jy my, Benjamin? Saterdag sal hulle jou terugbring, en die Here help hulle as hulle ooit weer hulle pote op hierdie werf sit! Ma stuur jou saam sodat die magistraat en die bosvrou jou kan bekyk en klaar kyk. En Ma belowe jou, jy sal nie nodig hê om jou kop anderkant daardie berg te laat sak omdat jy as ’n Komoetie ingeskryf staan in die Goewerment se boek nie. Dawid gaan kortpad vat oor Jan Koles

Скачать книгу