Toorbos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Toorbos - Dalene Matthee страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Toorbos - Dalene Matthee

Скачать книгу

lankal die tering, want net my gebede maak dat sy nog leef en sy’s my enigste, die weerlig het mos haar pa geslaan en my alleen in ellende agtergelaat om klaar te kom, ek stuur haar elke dag skool toe, maar dan hyg sy so van die fleim dat sy langs die pad moet gaan sit …

      Dit was nie waar nie. Skool was ’n simpel plek. Sy, Karoliena, is maar net party dae nie terug klas toe ná loopspeeltyd nie, sy’t die skoolwerk in elk geval uit haar kop geken. Sy’t sommer langs die treinspoortjie gaan speel en vir die mense in die coach gewaai, of vir mister Kennet en die stoker en vir mister Botha op een van die trokke. Of gekyk waar die olifante die vorige nag oor die spoor is. Slimvoet, nooit óp die spoor getrap nie. Seker geweet hulle sou geskiet word as hulle dáárdie spoor stukkend trap. Dit was die houtkopers se spoor; mister Thesen en mister Parkes was hoogrykes – hulle het niks en niemand op hulle goed laat trap nie!

      Eendag het sy ’n entjie verder langs die spoor af gespeel as gewoonlik. Dorpkant van die skool. Eers kom sy op die vars bol mis langs die spoor af, die wasem trek nog soos rook daaruit. Sy spring vinnig op die spoor, en dink ’n olifant sal haar nie dáár kom trap nie. Sy staan doodstil, sy luister. Sy bewe van bang, hulle sê olifant kan ’n mens doodklap met sy slurp. Sy wag, sy luister. Die bos aan weerskante van die spoor is stil. Net hier en daar ’n voël en die wind in die toppe van die bome wat klink soos see. Dikbos, waar die vreemdes gewoonlik uit die coach hang om hulle nog beter te vergaap aan die bos en bly hoop om iewers in die ruigtes ’n olifant of een van die wilde bosmense te gewaar. Die volgende oomblik hoor sy ’n ent vorentoe hout kraak. So ’n stadige, lang kraak. Asof ’n boom iewers omgeval het. Maar ’n boom val nie sommer om nie en die wind was te swak om een om te waai. Sy wag, sy luister. Niks. Spoorlangs kon sy nie ver sien nie, want voor was ’n taamlike skerp draai. Sy wag, sy luister. Nie ’n geluid uit sy plek nie. Versigtig begin sy aanloop na die draai se kant toe, bly langtree tussen die spore al op die dwarslêers langs. Sien ’n witels waar sy sou kon klim as daar dalk ’n olifant was wat haar wou skraap …

      Toe sy op die draai kom, sien sy dit. Die vlier wat vollyf oor die spoor omgestoot lê vir ’n hindernis wat mister Kennet nooit betyds sal sien as hy met die treintjie van Diepwalle af kom nie. Nie met die twee trokke wat hy heelpad vooruit stoot nie! Ergste was dat sy die treintjie oomblikke tevore bo by Veldmanspad hoor fluit het, dat daar nie meer baie tyd was voordat hy in die boom sou kom vasry nie! Sy spring om en begin terughardloop. Sy hoor die treintjie kom, sy gaan staan langs die spoor en waai met haar arms, sy skree, sy waai, maar die stoker is aan háár kant van die spoor, die simpel man waai net terug. Die coach is nie aangehaak nie, dis houttreindag. Mister Botha staan op een van die agterste trokke half tussen die hout. Sy waai, sy skree, sy spring op en af. Hy skree iets terug van die skool wat na haar soek …

      Toe hardloop sy maar al agter die treintjie aan.

      Die vlier stamp die voorste stoot-trok dat hy skeef van die spoor af hang. Gelukkig nie om nie. Maar toe moes mister Kennet en mister Botha en die stoker eers saag en wegsleep, saag en wegsleep, om die pad oop te kry vir die trein. Hulle haal twee sware jacks weerskante van die enjin af en begin die trok met ’n lang ysterspar opjack; wikkel, wikkel tot die wiele terug is op die spoor. Harde werk. Amper tot donker. Mister Botha is kwaad, hy sê dis ’n ou ding van die vervloekste olifante, breek hom altyd op net die regte plek oor die spoor waar die drywer hom nie betyds kan sien en briek nie. En altyd is dit ’n vlier. Kon jy ons nie op ’n manier gewaarsku het nie, Karoliena?

      Haar ma lieg die dag lekker vir die predikant. Hy sê: Ek is nie hier oor u dogter se afwesigheid nie, mevrou Kapp. Meneer Heunis het gevra dat ek met u oor haar moet kom praat. Ek verstaan dat sy ’n baie skrander leerling is, wat volgende jaar hoërskool toe behoort te gaan.

      “Dan moet die skool haar maar stuur, ek het nie geld nie.” Haar ma was dadelik opgeruk.

      “Meneer Heunis verseker my dat sy skolasties baie sterk is.”

      “Wat weet hy?” Later het haar ma haar gevra wat die fênsie woord beteken wat die predikant gebruik het. Dit beteken ek is slim, Ma. O.

      “Ons kom dus met ’n voorstel dat sy na die hoërskool op …”

      “Ek stuur nie die stomme kind in tussen daardie klomp Engelse kinders op Knysna nie, ons ken in elk geval nie Engels nie en buitendien, sy kry genoeg spot van hulle in die straat as ons op die dorp kom.”

      “Jy’s nou oorhaastig, mevrou Kapp!”

      “Nee, dominee, en ek laat haar ook nie na die housecraft school op die dorp gaan waar hulle maar eintlik net leer om wit meide vir die rykes te word nie.”

      “Ons wil hê sy moet na Wittedrift se skool, duskant Plettenbergbaai, gaan.”

      Eers het haar ma se mond oopgeval. Toe kom die skok: “Wittedrift se skool? Met geld wat ek waar moet kry? Dit beteken sy moet in die koshuis bly en klere en allerhande goed kry waarvan ’n arme boswerker nie eers die helfte kan bekostig nie!”

      “Sy sal ’n losiesbeurs gegee word om in die kerkkoshuis te kan bly en die Kerk is selfs bereid om haar met klere te help.”

      Toe spog haar ma lekker by die man van die perdekar met haar dogter wat hoërskool toe gaan.

      Sy, Karoliena, het nie veel notisie geneem nie. Leef was toe nog baie soos slaap. Behalwe dat jy kon droom soos jy wou. Droom dat jy mooi en deftig was soos die meeste dorpsmeisiekinders, of soos die vreemdes wat saam met die houttreintjie na die bos kom kyk het. Droom, as jy voetpadlangs deur die bos loop, dat jy hakskoene aanhet, jy hou net jou kop en jou skouers regop soos ’n regte mens. Nie soos ’n armblanke nie.

      Die man met die perdekar het hulle voor Smith se winkel in Main Street afgelaai en sy hoed deftig gelig toe hy hulle groet. Toe hy wegry, sê haar ma: “Hou hom verniet so vernaam. Sy pa het ook maar op die bosrand grootgeword, nes ek.”

      Wittedrift was soos rusteloos insluimer. Jy weet jy moenie te wakker word nie, want dan gaan jy wegloop. Jy slaap in die kerkkoshuis op ’n vreemde ysterkateltjie tussen ander armblanke kinders en loop nag vir nag die twintig myl huis toe om vir jou ma te gaan sê jy wil nie in die hoërskool wees nie. Dat die bos beter is as die kloof agter die berg waarin die rooidakskool half weggesteek staan soos iets wat skaam is; oral net plate gras waarop die skool se beeste wei en kromstert plat groen blopse mis. Niks hoë bome nie. Niks bos nie. Niks olifante nie. Geen houttreintjie wat bedags by die skool verbykom sodat jy vir die mense in die coach kan waai nie, of vir mister Kennet of mister Botha nie. Of by Diepwalle se stasie bietjie kon gaan ronddrentel vir ingeval die vreemdes in die bos wil in nie.

      Die enigste goed aan die skool was die boekerytjie in die skemer kamertjie waar jy in die boeke mag gelees het. Moeilike woorde, nie soos skoolwerk nie. Meneer Johnstone wat Engels gegee het, het haar altyd Vrydae ’n boek koshuis toe laat neem vir die naweek. Net leen. Dan draai sy die boek in ’n doek soos die geheim wat sy vir haarself aan’t bêre was: Dat sy eendag ’n rykmens-mens sou wees.

      Sy moes net eers wegkom uit die skool uit.

      Boeke het gehelp om die tyd te laat verbygaan, die nimmereindigende kwartale.

      Wanneer dit tyd geword het vir skoolvakansie, het die onderwysers gewoonlik begin verneem na ’n geleentheid wat haar kon huis toe neem – al was dit net tot op Knysna. Daarvandaan loop sy Langvleibos toe na haar ma. Die ander twee meisiekinders in die skool wat ook uit die bos gekom het, het sommer self huis toe gestap. Daglank. Agter die berg langs tot by die Uniondalepad wat oor Prins Alfredspas van die Langekloof af kom, dan oor die berg en van die agterkant af die bos in. Haar ma wou nooit hê sy moes saam met hulle stap nie, hulle was hierjy mense se kinders. Die onderwysers wou ook nie eintlik dat sy huis toe stap nie. As die vakansie amper verby was, het oom Cornelius begin verneem na ’n geleentheid terug Wittedrift

Скачать книгу