Toorbos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Toorbos - Dalene Matthee страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Toorbos - Dalene Matthee

Скачать книгу

te vat terwyl Naudé hulle met waardige ergerlikheid probeer keer: “Die Carnegie-ondersoek is ’n kans tot redding wat u nie durf laat verbygaan nie!”

      “Klink my na ’n dokter wat kom voel en vat om vas te stel wat jou makeer, maar sonder die medisyne wat jy nodig het.” Ou Salie.

      “As u my nie so aanhoudend in die rede wou val nie!”

      Toe val hy van die stomp af.

      En sy draai om en loop terug die bos in.

      Sy kan nie sien hoedat Naudé veel met hulle uitgerig sal kry nie. Houtkappers is houtkappers. Anderster mense. Ongeheiligde tweebeen-osse met ’n ander soort slim in die kop wanneer dit hulle pas. Geheimsinnig soos die diepste boskloof waar weinig waag om ’n voet te sit, wat met mekaar geheime taal praat sodat een kan spring om die bosbok, wat verwurg lê in ’n onwettige strik, onder die boswagter se neus te gaan wegsleep. Wat môre met die openhartigheid van kinders hulle diepste vrese uitpraat; ’n laaste stukkie brood of patat met mekaar deel; ’n swakke se byl by hom vat en sy houe vir hom kap. Die hoogste krans aan die bergvoet uitklim om ’n heuningnes by te kom vir ’n soetigheidjie – of om heuningbier te brou vir vrolikheid.

      Twee van hulle het eendag gedreig om haar magistraat toe te sleep oor ’n byenes.

      “Om my waarvoor te laat aankla?”

      “Poging tot verminking!”

      Sy was die middag aan’t wegkruip by ’n spruit in Gouna-se-bos om die skoenlappers af te loer wat middae kom sandmodder vreet langs die kant. Skielik hoor sy iewers byle inval en begin kap-kap-kap. Sy hoor dis twee man wat kap. Dit was ’n bietjie laat in die dag vir houtkappers om in te keep en te begin kap aan ’n boom. Sy steur haar eers nie. Hou haar oë op die strepie spoelsand aan die kant van die stroompie waar seker maklik honderd, tweehonderd, groot skoenlappers vlerk teen vlerk besig was om modder op te slurp. Almal eners. As een opvlieg, kom ’n volgende in sy plek sit. Mooi skoenlappers. Sagbruin vlerke waarop geel kolletjies en blokkies al op die rante langs geverf is. Eers lank daarna, toe sy eendag ’n dooie optel, sien sy die blou en oranje kolle wat soos oë op die vlerke geverf is. Maar dáárdie dag het sy haar net aan hulle verkyk. Aan die dosyne wat oraloor die oopte bo die bosstroom bly sweef het asof hulle in die lug aan’t speel was; aan die talle wat op ’n oorhangtak van ’n notsung gaan sit het om te rus en die tak vol spatsels kleur gemaak het.

      Die byle kap-kap-kap. Sy hoor later nie net die gekap nie, sy hoor ook veraf stemme. Sy staan op, en sê vir die skoenlappers sy sal weer die volgende dag kom, hulle moet tog asseblief ook weer daar wees.

      Sy’t nie ver geloop nie, toe kry sy hulle langs die voetpad wat van Diepdraai se kant af kom: twee manne besig om ’n jong witels te kap om die byenes bo in ’n mik te bekom. Sy word só kwaad, sy skree en vra vir hulle of hulle gek is! Hulle los die byle, die een – sy dink hy was ’n Tait – skree terug en sê: Nee, daar’s net een gek in die bos en dit is Karoliena Kapp wat rondsluip waar ’n meisiekind nie hoort nie! Sy sê sy hoop die bye storm en steek hulle vrek, want vir wat die arme boom staan en afkap, loop soek heuning in die berg! Die ander een erg hom opnuut, hy gooi sy byl neer en sê: Gaan in jou maai, geen wonder die vreemdes dink ons is wilde mense nie, kyk hoe verwilder sien jy daar uit! Jou pa draai in sy graf! Sy buk, sy gryp die byl en swaai ’n kap na sy bene. Hy spring ’n hoë spring, die ander een ruk die byl uit haar hande. Hy skree: Is jy mal, jy kon hom vermink het!

      Nee, die kommissie van vreemdes sou nie die houtkappers verstaan nie.

      Anderster mense. Wat ’n boom kan omkap en laat val waar húlle hom wil hê vir die opsaag en uitsleep. Wat ’n boom se binneste aan ’n knoppie op die bas kan uitken, weet dat daar êrens binne ’n probleem wag: wurms, rooi are, gom – dat die houtkoper hulle nie die hout sal laat aflaai op sy werf nie; hulle leeghand sal laat terugdraai bos toe.

      Houtkappers is boomslim, houtslim. Wat met ’n linksbyl ’n moot só gelyk kan kap dat jy sal stry dis met ’n skaaf gedoen; of met ’n dissel duisende speke in ’n leeftyd uitkap vir honderde waens se wiele; honderde disselbome, honderde ander wa-parte; wat berge dwarslêers uit geelhout en stinkhout gekap en gemoot het vir die treinspore – al het min van hulle idee gehad hoe ’n regte trein lyk. Ken net die houttreintjie. Telegraafpale. Pikstele, balke, planke. Houtkappers wat soms die mooiste huisgoed vir hulle plank- of kleihuise uit ’n stuk edelhout kon toor en nie dink om daarmee te spog nie.

      Houtkapper wat lewenslank in ’n strik van armoede vasgewoel is omdat hy nie weet hoe om homself los te woel nie. Nie die goed-armes nie, ook nie die sleg-armes nie. Wat die wêreld buite die bos vrees. En die olifante wat hom soms ure in ’n boom opgejaag hou; of in ’n sleeppad staan sodat die osse nie kan verbykom met die sleepsel mote nie omdat olifante goed weet die osse is ook vir hulle bang. Duiwelsgoed, sê die houtkappers, wat jou sal fyntrap as hulle kan. Soos die hele wêreld jou fyntrap – maar steeds die hout wil hê wat jy kap!

      “En as die bos die dag uitgekap is, oom?” vra sy eendag vir een van die oues.

      “Dan’s ek lankal dood.”

      “Dan beter oom vinnig doodraak, die bietjie van die bos wat oor is, gaan nou opgepas word, sê mister Fourcade.”

      “Sê vir hom ek sê sy gat. En joune ook. Kry jou loop, Karoliena!”

      “Hulle sê die bos was voortyd maklik twintig keer so groot as wat hy nou is.”

      “Toe sou ’n man darem nog lekker voor die voet kon gekap het …”

      “Wat’s die snaaksste iets wat oom al in die bos gesien het?”

      “Vir jou. Want vir wat sluip jy gedurig hier rond? Wat makeer jou om ’n goeie eerbare man net so te los en aan te loop?”

      “Dis maande gelede, oom, maar julle wil dit nou eenmaal nie laat los nie!”

      “Omdat ons nie kan verstaan hoe ’n mens kan uitkoms kry en dit dan sommer net so wegsmyt nie! Veral nie in hierdie bos nie.”

      “Oom sal nie verstaan nie.” Sy’t self nie altyd heeltemal verstaan nie. Daar’s dinge wat raaisels bly. Al dink mens hoe hard.

      Naudé sal ook nie verstaan nie.

      Sy vat die sleeppad terug Diepwalle se kant toe. Terug boomland toe …

      Tussen mensland en boomland is ’n brug waaroor jy maklik kom terwyl die vrede om jou opnuut in jou lyf intrek en jou optel tot in die hoogste boomtop waar piet-my-vrou sy wyfie roep en roep en roep. Waar die paddas op die bosvloer klik-praat met mekaar. En met jou. Jou vra waar jy was, jou sê dat tier laas nag sagvoet kom kos vang het. Willevark se kind opgevreet het. Kyk! Daar’s sy spoor, en sy mis.

      Waar jy opkyk en kroonarend teen die bloue lug bo die bosdak sien sweef, soek-soek na ’n opening waardeur hy geruisloos kan val om ’n aap of ’n bokkie te gryp en jy mooi in jou hart vra: Asseblief, net nie vandag ’n bloubokkie nie, hulle laat nog lammertjies suip.

      Dan begin jy in jou eie vlug weer stadig afwaarts daal tot onder in die skemer bos om die voetpad te soek. Boom toe. Háár boom. Met die baie name waarmee sy hom al gedoop het, maar nie een wat wil pas nie. Kalander, Koning, Oudste, Mooiste, Hoogste.

      Amper by Diepwalle loop sy uit die hardepad en stoot met haar lyf ’n pad deur die onderbos en bobbejaantou-gordyn waar die bosdou nog in die skadu’s lê en aan haar lyf en hare afvee.

      Dag, Boom, sê sy toe sy by hom kom en haar kop eerbiedig laat sak

Скачать книгу