Die hart van 'n ma. Abraham Phillips

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die hart van 'n ma - Abraham Phillips страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Die hart van 'n ma - Abraham Phillips

Скачать книгу

voel vir haar nou erger as in die tyd van Jaffie Buffels. Sy maak haar oë toe en trek haar asem diep in. Ek moet sterk wees, dink sy, my geloof kan nie nou ingee nie. Ek is mos nie alleen nie, ek het darem nog ’n suster, ons sal mekaar help.

      Hoofstuk 2

      ’n Week ná Willem se begrafnis sukkel Maria Stokkies steeds om vrede te maak met wat gebeur het. Dit was vir haar vreeslik dat Roy, hul enigste kind, nie eens by die begrafnis kon wees nie.

      Sy staan by die voorhuisvenster. Ek wonner wanneer Stienie kom, ons het gister nog gepraat, ek kan nie langer so alleen aan­gaan nie, sy’t gesê sy kom vedag. Dan hoor sy ’n dreuning en haar gesig verhelder toe ’n voertuig voor die huis stilhou, dis hul vriend Boetie Hanekom se wit bakkie. Hy het aangebied om Stienie se goed te bring.

      Die twee vroue omhels mekaar en almal help om Stienie Mouries se karige besittings in die huis in te dra.

      “Ai, Stienie, al het ons net ’n paar strate van mekaar af gebly, het die dood ons nou nog nader aan mekaar gebring.”

      Maria se woorde laat Stienie aan haar eie verlede dink. Hoe verlang sy nie nou na Saul nie, hy was so lank siek voordat hy aan tering dood is. Maar die Here is genadig, dink sy. Hy het my daardeur gedra toe ek ook tering kry. En nou kan Dampies en Meisie vir die eerste keer in hul lewens tussen die vier mure van ’n regte huis bly.

      Die eerste dag in Stienie se nuwe tuiste is agter die rug. Willem se dood en Roy wat aangehou word, is vir almal baie pynlik. Sy en Maria praat nie daaroor nie, maar sy sien haar suster se hartseer.

      Terwyl die skemerte oor Doringdal sak, sit sy en haar twee kinders op die kooi in haar kamer. Stienie kyk na Dampies. Haar seun weet wat in hierdie huis gebeur het. Ek moet nou met hom praat oor die gevare van tik, dink sy.

      Dampies staan op en begin sy klere uit ’n kartondoos haal.

      Die klank van die borde wat Maria op die kombuistafel neersit, breek deur die stilte in die kamer. Meisie staan van die kooi af op en stap kombuis toe.

      “Dampies,” vra Stienie sag, “waaraan dink jy dan nou so?”

      “Aan niks nie, Ma,” antwoord hy sonder om na haar te kyk.

      Stienie maak keel skoon. “Dampies, kom sit hier, ek wil met jou praat,” sê sy.

      Hy los die kartondoos en kom sit traag langs sy ma op die kooi.

      “Jy weet mos jy moet in die voorhuis slaap, nè?”

      “Ja, Ma, ek weet,” antwoord hy kortaf.

      “Dampies,” begin sy huiwerig, “jy’t nie meer ’n pa nie, ek is lief vir jou en Meisie, maar ek kan nie elke dag vir jou dophou of saam met jou hier rondloop nie.”

      Dampies draai na sy ma toe. “Wat is dit, hoekom praat Ma dan nou so?”

      “Tik, my kind, tik, ek is so bang jy verval net soos anner kinners daarin, kyk wat het hier in ant Maria se huis gebeur.”

      Dampies antwoord haar nie, hy laat sak sy kop.

      ’n Rilling trek deur Stienie. Het Dampies nie al klaar te doen gekry met tik nie? wonder sy. Haar gedagtes gaan terug na Willem se gedrag, en haar suster se lyding as gevolg van tik.

      Die Here moet my help, hoe wéét ’n mens? Jy kom eers agter jou man of kind tik as dit te laat is, mense verstaan nie, dink sy. Ons lewe tussen tikkoppe en smokkelaars, wanneer hulle eers be­gin tik, dan help praat en soebat nie meer nie. Maria het ook nie aan die begin geweet nie. Waarna kyk jy, sy oë, sy gewig, sy eetlus, sy gedrag? Sy kan hom nie in die huis toesluit nie.

      Stienie kyk in haar kamer rond en soek na die regte woorde. “Dampies, belowe my jy sal nie tik gebruik nie,” pleit sy. “As jy eers ’n tikkop is, is jy verlore, jy kan nie in die skool leer nie, want tik vreet jou verstand weg, al wat oorbly is die tronk. En die dood.”

      Stienie bly ’n oomblik stil, sy wag dat hy vir haar moet sê dat sy nie bekommerd hoef te wees nie, dat hy nooit met tik deur­mekaar sal raak nie, maar Dampies staar net in die vloer vas.

      Toe Maria uit die kombuis roep dat die kos reg is, staan Dam­pies vinnig op en stap uit. Stienie bly eers net verwese sit, ’n be­noudheid in haar bors.

      Aan tafel eet hulle in stilte. Dampies peusel net aan sy kos en stoot sy bord ná ’n rukkie eenkant toe.

      “Ek kom nou weer, Ma,” sê hy, “ek gaan gou na twee ouens toe hier anderkant, Bennie en Pietie Filander.”

      “Wag eers, Dampies,” roep Stienie hom terug. “Ek’t nou die dag met daai twee se ma gepraat, hulle ma kla baie oor hulle, jy moet wegbly van hulle af.”

      “Maar hulle bly net twee strate van ons af, Ma, hulle is al tjommies wat ek het.”

      “Loop hulle darem nog skool?” vra Stienie.

      “Ja, Ma,” antwoord hy kortaf en stap uit.

      Dampies is haastig. Sy twee vriende Pietie en Bennie wag op hom by die jong vrou Bom se huis.

      “Jy’s laat, Dampies,” sê die gesette Bom, “jy weet jy moet ’n paar pakkies na ant Kleintjie toe neem, julle twee gaan saam. Die Beer wag ook in Kokkerotjiedorp.” Sy bring ’n pakkie te voorskyn. “Dè, dis vir julle, maak gou, die Beer wag.”

      Terwyl almal in die daaropvolgende weke wag op Roy se moord­verhoor, praat mense vir Maria moed in. Sy besoek Roy gereeld in die opblok of roemaan, soos die mense van Doringdal die plaas­like tronk noem. Geld vir borgtog was daar nie.

      Dae voel vir Maria soos jare, hoop en wanhoop wissel mekaar af.

      Toe sy Roy kort voor die moordverhoor weer ’n keer besoek, kyk hy haar nie in die oë nie. Sy kan sien hy verwyt homself oor haar omstandighede.

      “Hoe gaan dit nou by die huis, Mamma?” vra hy.

      “Moenie oor my worrie nie, my kind, noudat ant Stienie in­getrek het, gaan dit baie beter. Ons het klaar ysterpalletjies voor die vensters laat vassweis om die rofryters en tikkoppe uit te hou. Maar jy moet na jouself kyk, my kind.”

      Maria se gemoed is swaar toe sy later die dag by haar huis aan­kom. Die huis is stil, Stienie skil aartappels in die kombuis, Meisie sit met ’n skoolboek op die kooi in hulle kamer.

      “Waar’s Dampies?” vra sy.

      Stienie antwoord nie dadelik nie, sy sukkel om oor haar seun te praat. “Ja, hy’t skaars uit die skool gekom toe is hy al weer hier uit, ek het nie nou die krag vir hom nie, kyk waarin is ons gedompel.”

      Maria draai om en stap na haar kamer. Haar eetlus is weg. Sy dink aan Roy in die roemaan. Sy dink aan wat die mense in die strate sê. Almal praat oor die moordverhoor, baie van hulle vra dieselfde dinge.Wat gaan die regter sê, verstaan hy ons leed, ver­staan hy waardeur ons gaan, het hy al gehoor van tik, wat dit aan ons doen?

      Toe Roy se verhoor uiteindelik teen die einde van Maart aan­breek, is die hofsaal stampvol. Die verhoor voor die rondgaande hof duur nie lank nie. Roy beken skuld en ter versagting word Maria Stokkies as getuie geroep. ’n Verslag van ’n sielkundige, dr. Benedict Kloppers, word voor die hof gelê en dit kom ooreen

Скачать книгу