Die hart van 'n ma. Abraham Phillips

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die hart van 'n ma - Abraham Phillips страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Die hart van 'n ma - Abraham Phillips

Скачать книгу

dan nie respek nie? Kyk hoe lyk my vrou, hoog in die annertyd.”

      Diena knik haar kop instemmend, sy sit met een van haar kin­ders op haar skoot op die kooi. “Toemaar,” fluister sy vir die kind, “die mense gaan nie vir Pappa seermaak nie, hulle gaan nou-nou loop.”

      Mathabola skud net sy kop toe hy in die sitkamer vassteek. Hy kyk die Beer in die oë. “Vergiftig maar jou mense, Doringdal gaan te klein word vir jou, dêmmit.”

      Die Groot Beer knip nie ’n oog nie.

      “Kom manne, laat ons waai,” sê Mathabola teleurgesteld. “Ek sê julle weer, hy’t geweet ons kom.”

      Toe die polisie sonder die Groot Beer in boeie deur die groot hek stap, is die mense oproerig. Party mense pluk aan die ysterhek en staar na die huis.

      Diena trek die gordyne voor die vensters van die sitkamer toe en sluit haar by haar man aan.

      “Die mense is lastig,” sê sy, “ hulle het seker gedink die poliese gaan iets hier kry.” Met ’n breë glimlag haal sy die pakkies tik en mandraxpille tussen haar groot borste uit en gooi dit op die sofa neer.

      Die Groot Beer glimlag. “Lekker, lekker ma,” sê hy, “ek weet wat ek in jou het.”

      Diena kyk na haar man, die dikding van die 26-gangsters. Vir hom is dit alles of niks, dink sy. Ek gee alles, hy weet hy kan my vertrou. Ons is saam in hierdie ding.

      Die Beer stap by die agterdeur uit na ’n plek in die hoek van die jaarts. Hy krap met ’n stuk yster tussen die lang gras en lig ’n plaat op wat met grond bedek was. Binne-in die gat is groot hoe­veelhede tik, dagga en mandraxpille nog veilig in pakke weg­gesteek. Saam met die ander drie gate en dié by Bom en Kleintjie is dit maklik nog ’n jaar se voorraad, dink hy tevrede.

      Hy kyk in die lug op en sien donker wolke saampak. Dêm, die weer veanner darem vinnig hier in Doringdal, die reën kom, dis winter, dink hy.

      Diena staan by die venster en kyk hoe die eerste winterreëns be­gin uitsak. Sy vee oor haar hare, ’n glimlag om haar mondhoeke. Sy kyk hoe haar man weer die gat toemaak. ’n Man wat vir niks en niemand bang is nie, dink sy.

      Sy het Dolf Pistoors by ’n aannemingsplegtigheid in die kerk ontmoet, en hy’t haar voete met die eerste oogopslag onder haar uitgeslaan, al het sy geweet hy’s ’n gewese gangster van Bishop Lavis wat al in die tronk was.

      Diena se ouers, albei onderwysers met hoë verwagtinge vir hul jongste dogter, was verbitterd toe sy met ’n gangster deur­mekaar­raak. Die mense het gepraat en gesê “liefde ken nie klas nie”, maar party het gesê Pistoors het haar getoor.

      Diena het gehoor van die moord op die Kaapse Vlakte, van sy tien jaar tronkstraf, hoe hy daar by die 26-gangsters aangesluit en vir Muisvoël van Doringdal ontmoet het. Dis hierdie vriend­skap wat gemaak het dat die Beer ná sy ontslag vir Muisvoël na Doringdal gevolg het en hom hier kom vestig het. Hy het ook sy vriende Sollie Adonis, alias Popeye, en Sagarias Langman, alias die Undertaker van Bishop Lavis, saamgebring. Die Groot Beer het met Muisvoël se hulp ’n groep werklose mense om hom verenig.

      “Weg met die klein gangstergroepies wat mekaar se bloed soek,” het die Groot Beer gesê. “Salute met die 26-tronkgangsters, húlle moet in die woonbuurtes die bloed laat dala.” Met geweld is hul gebiede toe afgebaken.

      Die Beer en sy mede-26-gangsters, Muisvoël, Popeye en Lang­man, het met drank en dwelms begin smokkel. Vyande, veral in die flatse, is gou uitgesnuffel.

      “Hulle bloed moet vloei, hulle moet wit bene gemaak word, ek weet van daai 27-bandiet Salmon, hier’s net plek vir een dikding, die Groot Beer,” het hy gesê.

      Dit was nie altyd so nie. Aan die begin was daar ’n broeder­like, massekind-verhouding tussen die Beer en Salmon. Maar toe, op ’n dag, het Salmon die goue reël van die gangster verbreek en piemper geword. Dit het die Groot Beer se ore bereik dat Salmon inligting geplant en gerugte versprei het wie die dwelmverskaffers uit die Kaapse Vlakte is, sy plan was duidelik dat die polisie moet toeslaan op die Beer, dikding van die 26’s. Die Beer was woedend, die onderdorp in twee geskeur, met Salmon aan die ooste- en die Beer aan die westekant.

      Die polisie moes toesien hoe die Beer en sy 26-gangsters van Bishop Lavis die bloed laat vloei in gevegte met sy verklaarde vyand Salmon en die 27-gangsters van Doringdal.

      Die Beer kom vinnig uit die gietende reën die kombuis bin­ne. “Diena, jy ken die dril, ek gaan gou lêwentrie toe, moenie die huis­foon gebruik nie, gebruik jou selfoon en bel vir Langman. Hulle kan maar dala, die wêreld is nou skoon hier.”

      Toe die Beer terugkom, gaan staan hy by die sitkamervenster. Hy staar deur die grou lig oor die dakke van Kokkerotjiedorp, sy oë glinster. Ek is die Groot Beer, hier dala ek die kitaar, enige moegoe wat my moer hier roer, dis wit bene met hom, ek worrie nie, ek láát worrie.

      Sy oë trek op skrefies. Iets of iemand beweeg by sy hek. Hy kyk stip na die groot ysterhek voor die huis. Hy kan nie mooi sien in die grou lig en reën nie, en gaan uit. Toe hy naderstap, sien hy hoe twee meisies van die aangrensende Helshoogte Hoërskool na hom waai en roep. Bliksemse kinners, hulle weet ek smokkel nie hier by die huis nie, die goed wil maar net nie nugter bly nie, dink hy.

      Hy kyk die meisies op en af. “Wat de hel is dit met julle, julle ken die dril, die boys dala die goed by die skool, kan julle nie wag tot môre nie? Of by Bom of Kleintjie in Helshoogte die goed kry nie?” vra hy.

      Een van die meisies se kort skirt waai op, die reën knetter teen haar bobene en sy sukkel om haar wit broekie teen die Beer se gulsige oë te beskerm.

      Die Beer sluk swaar, hy is lus en vat haar net daar in die reën. Dan bedink hy hom, Diena is hier rond. Vir ’n oomblik staan hy stil. “Dêm,” brom hy.

      Die jong meisie glimlag, haar oë smeulend, haar liggaamstaal uitdagend. “Asseblief, Beer,” sê sy.

      “Oukei, oukei, wat’s die dril?” vra hy.

      “Een pakkie,” giggel die ander meisie.

      Die Beer haal haastig ’n pakkie tik uit sy sak. “Is die zak reg?” vra hy.

      “Ja, veertig rand,” antwoord sy.

      Die Beer se gesig is strak toe hy die meisies agternakyk, tot waar hulle tussen die Hophuisies in verdwyn. Hy stap terug huis toe terwyl die donker vinnig toesak.

      Hy wag op sy butlers. “Die bra’s het seker die laaities gaan af­laai,” sê hy.

      Diena het haar reeds voor die groot televisieskerm tuisgemaak. “Hou op worrie,” antwoord sy. “Ek het Langman gebel, hy’t seker al klaar die laaities afgelaai.”

      Hoofstuk 6

      Dampies is in ’n hewige stryd gewikkel. Sy vriende Bennie en Pietie spog gereeld by hom hoe hulle by hul ouers steel vir tikgeld.

      “Hulle weet ons tik, vir wie’s jy bang? Jy kan nie aanmekaar na julle huis toe gaan as jou ma-hulle al slaap nie, hulle gaan tog uitvind, en dat jy nie meer skool loop nie.”

      Hy dink aan Popeye se woorde toe hulle hom kom aflaai het. “Daai klein tiewie van jou ougirl waarvan jy gepraat het, ons soek dit.”

      Ma sukkel om vir my en

Скачать книгу