Die hart van 'n ma. Abraham Phillips

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die hart van 'n ma - Abraham Phillips страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Die hart van 'n ma - Abraham Phillips

Скачать книгу

wat swaar verwagtend is, kom haastig die huis van agter binne. Hy kan sien sy’s vandag weer in ’n slegte bui, haar geel ge­laatstrekke is rooi en haar altyd netjies gekamde hare hang los oor haar gesig en skouers.

      “Wat raas jy verdomp so, is dit nie genoeg daai meid van jou kom spoel haar bek hier uit oor papgeld nie? Ek wag vir daai anner twee sleggoed by wie jy ook los kinners het.”

      “Hei, hei,” grom die Beer, “moenie jy ook my moer roer nie, gaan na jou ma toe as jy nie kan cope nie.”

      “Jy weet goed hulle wil my nie meer daar hê nie, oor jóú!” skree sy.

      “Hei, hei,” brul die Beer, “my moer is tot hier toe,” beduie hy met sy een hand na sy nek. “Daai giftige tong gaan ek nog vir jou uitsny.”

      “Toe sny, sny jy net!”

      Die Beer raak driftig, sy oë soek iets om te breek. “Ek dink dis tyd dat ek weer daai haaiflaaiers van ’n pa en ma van jou ’n besoek gaan gee,” sê hy.

      “Jy los hulle uit,” sê Diena. “My pa het gesweer as jy jou pote weer daar sit, dan . . .”

      “Dan wat?” vra die Groot Beer. Voordat Diena kan antwoord, word die spanning in die vertrek deur die temalied van The spy who loved me verbreek.

      Pistoors gryp sy selfoon, maar hou glad nie van wat hy hoor nie. Hy prop dit in sy broeksak en storm by die agterdeur uit.

      “Ek sê, bra’s, julle moet split, die honne kom,” skree hy.

      Vyf jong seuns, onder wie Dampies, Bennie en Pietie, kom haastig uit ’n hok aan die oorkant van die jaarts.

      Die Beer kyk na Dampies. Bom het ’n dêm goeie oog, dink hy.

      “Dampies is net die regte laaitie om jou werk te doen, Beer,” het sy gesê. “Sy ma is van daai kerkmense, sy dala die Woord met Dampies, maar hy soek dit nie.”

      Die Beer grom diep uit sy keel. “Is alles skoon hier? Hier moet nie ’n dêm lollie rondlê nie!” Hy stap vinnig na die wendyhouse aan die ander kant van die jaarts. “Ek sê, bra’s, kry lewe, die voëltjie fluit die honne is op hul rounds, vat julle weg, die boys wag vir jou op die bakkie, Langman,” beveel hy.

      Hy stap die huis binne, ruk die wit das van sy nek af en sak op die leersofa neer. “Diena,” roep hy, “los jou kak en kom hier. Jy ken mos die dril,” sê hy vir haar toe sy inkom, “die honne is op pad!”

      “Ja, ja, die plek is klaar skoon,” antwoord sy.

      Die Beer lê met sy kop teen die kussing van die sofa. “Lekker, lekker ma, skink my ’n dop brandy, my moer moet sak voor die honne hier aankom.”

      Diena skink die brandy, sy roep na haar twee kinders. “Kom, kom julle twee, hier kom mense na julle pa toe.” Sy vryf oor die kop van haar jongste seuntjie en draai om. Diena is nou weer die kalmte self. Mense in Helshoogte en Kokkerotjiedorp sê sy’s eint­lik die een wat in die groot huis die septer swaai.

      Sy stap na die agterste venster van haar slaapkamer. Sy ken en verstaan hierdie soort lewe, spanning is elke dag deel daarvan, dis al soos tweede natuur. Ook die Beer se moorddadige buie en jollery sal sy verduur. Die lekker lewe van ’n weelderige huis en baie geld, lekker kos en mooi klere verruil sy vir niks nie.

      Doodstil staan en kyk sy deur die venster in die rigting van die Breërivier, ’n koue noordwestewind steek op. Dit lyk of daar reën aan die kom is.

      Haar gedagtes gaan na Muisvoël se oupa, Herklaas Blom. Sy sien hom dikwels op die bankie voor sy huis sit. Hoekom dink ek nou aan die ou man, wonder sy. Dis seker die weer, die mense sê mos hy weet alles van die weer af.

      Die gryse Herklaas Blom sit steeds vanaf sy bankie en tuur oor die laagliggende Kokkerotjiedorp in die rigting van die Breërivier. Hy weet baie goed hoe vinnig die weer hier kan verander. Hy staan later op en brom toe hy na die veiligheidswagte teen die hoë heining­draad van die verlate hoërskool staar. Ek kan nie so lekker sien nie, dink hy, maar die wêreld is vuil. Daai twee bliksems wat soos spoke lyk is kop en gat saam met die rofryters en tikkoppe wat die skool stuk vir stuk afbreek.

      Die Groot Drink is ’n bynaam waarop Herklaas trots is. Het hy dan nie in sy jonger dae vele manne in Helshoogte onder die grond in gedrink nie? Het hy dan nie ’n sesbottel-kan wyn man-alleen uitgedrink nie? Hy vryf oor sy oë, sy gedagtes gaan terug na sy gesprekke met sy dogter Anna. “Ons mense loop en vertel wyn maak jou onnosel, maak jou siek, jy sal nie eens vyftig haal nie. Maar dis bygelofies wat die slim mense aan ons kom af­smeer, ek was nog nooit siek nie, kanker, hoë bloed, suiker ken Herklaas Blom nie. Ek worrie nie, ek het my dae gehad, hier waar Kokkerotjiedorp nou staan, was my en hope meire se playground, as die apartheidpoliese my jae en hier tussen die bosse en bome met honne en gunne soek, dan lê en loer ek hulle aan die bopunt, daar tussen die sandkampies van die rivier.”

      Die sirenes van polisievangwaens weergalm oor Helshoogte. Herklaas steek voor die deur vas. Hy ken hierdie soort lewe, in sy tagtig jaar het hy al baie beleef. Daar was seker weer ’n skietery in Kokkerotjiedorp, of dalk is een van die meire vermoor of verkrag. Ek het veoggend ’n geskree gehoor, Muisvoël is dalk weer in die mix, dink hy. Hy bewe en sy vaal oë lyk skielik onseker. Die man wat gedurig loop en spog dat die lewe vir hom maar net ’n joyride is, se gesig vertrek van pyn, hy dink aan sy ou vriend, Vet Piet.

      Ek wonner wat sal hy gesê het oor die lewe van vedag, hy’t ook dagga gerook, maar hierdie ding tik, hy draai wragtig in sy graf om as hy weet tik vreet mense se harsings bietjie vir bietjie op. Waar venaaf kom dit? Wie het dit uitgevind? Die storie loop Hitler en sy Duitse soldate het tik al in die Tweede Wêreldoorlog ge­rook. Net die duiwel weet, maar nou ja, Herklaas, dink hy, jy kan nie op jou ouderdom vedomp nog staan en kopbeen vreet nie.

      Hy vryf oor sy bleskop en oor sy tandelose mond. Baie mense hier onthou hom nog as die man wat oor die jare self sy tande wat gepyn het een vir een lewendig met ’n tang uitgetrek het.

      Hoofstuk 5

      Die uniformmanne gaan Kokkerotjiedorp dieper binne. Hulle is op hul hoede. Stofwolke waai deur die Hophuisies en plakkers­kamp. Die swaar gewapende manne is byna onsigbaar deur die vangwaens se oop, swaaiende deure.

      Die nuus van nog ’n klopjag versprei vinnig. Die Beer het hier­die besoek verwag en stap vol vertroue na die groot ysterhek. Hoë betonmure omring die huis om vyande en onwelkome besoekers uit te hou.

      Kaptein Wielieboy Mathabola is aan die voorpunt en is glad nie verbaas om die Groot Beer by die hek te sien nie, hy swaai ’n stuk papier onder die gangster se neus: “Ons het ’n lasbrief om jou plek te deursoek.”

      Die Beer maak die hek oop. “Is hier nie rus vir ’n man se siel nie, julle kom pla ’n man wat in die kerk was,” sê hy.

      Sy stemtoon en die goud in sy tande jaag Mathabola se bloed­druk op en hy antwoord hom nie.

      Die manne in uniform stroom die jaarts van die Beer binne. Party gaan in die huis in, ander soek na dagga, tik, mandraxpille en onwettige drank in die wendyhouse en in die hok agter die huis, maar hulle kan niks vind nie.

      “Ek verstaan die ding nie,” sê Mathabola vir een van die polisie­manne, “dis amper of Pistoors geweet het ons kom. Die klere­kaste, laaie, onder die matrasse – dis so skoon soos in ’n kerk.”

      Die

Скачать книгу