Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ingrid Jonker Versamelde Werke - Ingrid Jonker страница 5
![Ingrid Jonker Versamelde Werke - Ingrid Jonker Ingrid Jonker Versamelde Werke - Ingrid Jonker](/cover_pre706690.jpg)
En toe my ongeneesbaarheid vermoed
Jy sal jouself vir my nooit skend
Want in my hande lê jou laaste groet.
Windliedjie
Waar slaap my liefde, my liefde vannag
sterre wat wieg in die denne en winde
sterre wat wieg en sterre wat wag
waar slaap my liefde, my liefde vannag?
Denneboom donker, rooipad en naglied,
naglied van diere en duistere winde
Waar slaap my liefde, wie stil sy verdriet
en sal ek my liefde, my liefde weer vinde?
Winterwind, lei my deur bittere nagte
tot uit die duister ek saggies kan staar
hoedat hy sluimer, en sluimerend my smarte
eindelik diep in my hart laat bedaar!
ROOK EN OKER
1963
Vir Uys Krige en Jack Cope
Op alle gesigte
Op alle gesigte van alle mense
altyd jou oë die twee broers
die gebeurtenis van jou en die onwerklikheid
van die wêreld
Alle geluide herhaal jou naam
alle geboue dink dit en die plakkate
die tikmasjiene raai dit en die sirenes eggo dit
elke geboortekreet bevestig dit en die verwerping
van die wêreld
My dae soek na die voertuig van jou liggaam
my dae soek na die gestalte van jou naam
altyd voor my in die pad van my oë
en my enigste vrees is besinning
wat jou bloed wil verander in water
wat jou naam wil verander in ’n nommer
en jou oë ontsê soos ’n herinnering
Swanger vrou
Ek lê onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag lê in die water.
Ek speel ek is kind:
appelliefies, appelliefies en heide,
koekmakrankas, anys,
en die paddavis gly
in die slym in die stroom,
in my liggaam
my skuimwit gestalte;
maar riool o riool
my nageslag lê in die water.
Nóg singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wêreld,
en my hart wat sing soos ’n besie
my besie-hart sing soos ’n besie;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.
Ek speel ek is bly:
kyk wáár spat die vuurvlieg!
die maanskyf, ’n nat snoet wat beef –
maar met die môre, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels
stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.
Riool o riool,
ek lê bewend singend,
hoe anders as bewend
met my nageslag onder jou water . . .?
1957
Ek herhaal jou
Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het ’n smal skadu
en die nag geel kruise
die landskap is sonder aansien
en die mense ’n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak
Desember 1959
Ek het na die pad van my liggaam gesoek
Ek het na die pad van my liggaam gesoek
en kon net die vreemde littekens vind in die stof
Spore van blouwildebeeste olifante en luiperds
getrap oor die sekere geheim van die wit pad
O ek wou net jou skaduwee ken, steenbokkie
en die skaarse gewig van jou vlugtende lyf
Herfsoggend
Spies van die horison wat die see en die lug deurboor
oggendsoene op my borste soos opkomende sonne
deur