Anna Atoom en die digitale draak. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman страница 4

Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

het.”

      “Deksels! Dink jy sy is agter die Vlione aan? Dit sal gevaarlik wees! En ons is in die middel van ons toetsvlug! Kan jy die projek staak?”

      “Jammer, professor. Soos jy weete, is die Vlione op selfbestuur, en hulle vlieges volgens hulle eie programme­ring. Hulle is geprogrammeers om reguit na hul bestemming te vlieges, ons kan hulle nie stops of laat omdraaies nie.”

      “Skakel my deur na Ton se kamer!” beveel sy die rekenaar. Maks het dit reeds gedoen. Die beeld voor haar projekteer ’n slaperige Ton. Hy dra blou-en-wit gestreepte pajamas en vryf verbaas sy oë. Selfs sy kaalgeskeerde kop lyk effens gekreukel.

      “Ton, maak seker dat Anna nie iewers in die huis is nie. Indien nie, moet jy haar gaan soek. Ek dink sy is agter ons Vlione aan.”

      “Vlie-WAT?” vra Ton skaapagtig.

      “Dit is ’n lang storie!” Professor Sabatina byt haar lip senuweeagtig. “Dit is klein bioniese drone wat GROEN ontwerp het om vulkaniese aktiwiteit dop te hou. Ek en Maks is besig om hulle uit te toets!”

      “Drone?” vra Ton, steeds verbaas.

      “Ja, man! ’n Droon is ’n onbemande vliegtuig, dit weet jy tog! Hierdie outjies is egter baie klein, net so oor ’n sentimeter lank. Hulle is toegerus met miniatuur-videoka­meras en sensors sensitief vir temperatuur en vibrasies …”

      “Sowaar!” Ton is nou wawyd wakker. Hy is bitter lief vir enige elektroniese foefie, en dit is duidelik dat hy dodelik nuuskierig is oor hierdie klein bioniese drone. “Maar wat het dit met Anna te make?” vra hy dan.

      Maks projekteer dadelik die video-opname van Anna se oog en haar kuif, wat Vlioon D36 minute gelede teruggesein het. Ton snap dadelik wat aangaan.

      “Waar vlieg hulle heen?” wil hy weet. Maks projekteer ’n kaart wat ’n deursnit van MonPetit-eiland wys. Die grotte in die graniet is duidelik sigbaar onder seevlak: die professor se laboratorium waar die AardWag is, die klein kamertjie waar Maks se prosesseerders staan, en die ondergrondse meer waar die Onderwater-verkenner dobber. Maar dit is nie al nie: daar is ook ’n netwerk van tonnels wat vanaf die granietspits in die middel van die eiland lei. Een van die tonnels verdwyn aan die onderste rand van die kaart.

      “Waarheen lei daardie tonnel?” wil Ton weet.

      “Ons ken nie die presiese verloop van die tonnel nie, maar ons weet waar dit eindig. Ons het die samestelling van die atmosfeer in die tonnel getoets, en dit het dieselfde samestelling as … maar dit is ’n lang storie. Die netwerk tonnels onder ons eiland en die plato waarop dit lê, is juis wat MonPetit so ’n goeie plek gemaak het vir die Vlione se eerste vlug.”

      “Daar is vulkaniese aktiwiteit hier nabys,” wei Maks uit. “Die Afrika- en die Indo-Australiese tektoniese plate ontmoets nie ver van hier af nie. Onthou die Chivonne wat vasgevange was onder die gestolde lawa?”

      “Maar dit was tweehonderd jaar gelede!” roep Ton verbaas uit.

      “’n Blote oogwinks in die tyds van die heelal,” sê Maks.

      “Dit is nie nou die tyd vir aardrykskundelesse nie!” snou Sabatina. “Ons moet gaan kyk waar Anna is!”

      Ton is reeds besig om sy groot voete in sy plakkies in te druk. “Ek sal gaan, professor. Die naglug is sleg vir jou, en dalk is dit beter dat jy dinge monitor vanaf die AardWag.”

slakke.jpg

      Tektoniese plate en aardbewings

      Die aarde se kors is saamgestel uit ’n aantal reuserotsplate waarop die groot vastelande soos Afrika, Asië en die Amerikas lê. Dit word tektoniese plate genoem, en daaronder word ’n laag gesmelte rots gevind wat magma genoem word. Hierdie vuurwarm rots vorm die lawa wat soms by vulkane uitborrel.

      Daar is sewe groot plate, en natuurlik nog ’n klomp kleineres ook. Die tektoniese plate beweeg voortdurend, stadig maar seker, soos wat hulle ronddryf op die laag magma wat die kern van die aarde omhul. Aardbewings vind plaas wanneer hierdie tektoniese plate teen mekaar beur en skuur. Druk bou op, amper soos rugbyspelers in ’n skrum, en as iets iewers meegee, word energie skielik vrygestel, soms met katastrofiese gevolge.

      Die grond onder jou voete is nie so stewig as wat jy dalk mag dink nie!

slakke.jpg

      “Naglug sleg vir my?” vra professor Sabatina. Dit is nou haar beurt om skaapagtig te klink. “Daar is niks verkeerd met my vermoë om die naglug van MonPetit-eiland te hanteer nie!” Maar sy weet Ton is reg. Sy sal meer nuttig wees om die instrumente dop te hou hier vanaf haar laboratorium. Dalk kry sy Anna weer te sien op een van die Vlione se kameras. Dit is te sê as Anna nog naby die miniatuurdrone is! Dalk het sy al weer teruggekeer huis toe en is sy al terug in haar bed.

      Waar sy hoort – want môre is ’n skooldag!

      Die banneling

      Nadat doktor Uranus Draak in sy duikboot ontsnap het ná sy mislukte poging om die Magnetiese Meermin te gebruik om die aarde se as te kantel, het hy in Suid-Amerika gaan skuil.

      Alhoewel doktor Draak voorheen ’n gerespekteerde wetenskaplike was wat baie jare lank vir die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing, alombekend as GROEN, gewerk het, was hy nog altyd stilweg besig met sy eie geheime planne. Hy het baie van sy tyd by sy familiehuis in Duitsland, Schloss Baumschmerzen, deurgebring en daar was goed toegeruste la­boratoriums in die kelders van die ou kasteel waarin hy kon werk. Maar Uranus het ook al jare lank ’n geheime laboratorium in Suid-Amerika, hoog in die Andesgebergtes van Patagonië.

      Die fasiliteit in die Andes is beskeie. Van buite af lyk dit nie of die geboutjie veel meer is as net ’n plaasskuur langs ’n kronkelende grondpad wat afloop na die vallei nie. Daar ver onder is ’n klein markdorpie waar boere op Saterdae hul produkte verkoop, en ’n meer wat op windstil dae die sneeubedekte pieke weerkaats. Hier het Uranus Draak die BioTron-ingewande van die reuse-inkvis aanmekaargesit wat Anna aangeval het toe sy op soek was na die Chivonne.

      Hoekom Uranus besluit het om juis hier ’n laboratorium te bou, is moeilik te verstane. Miskien is dit juis die afgesonderdheid van die plek wat hom aangetrek het. ’n Verdere oorweging vir sy besluit was sekerlik ook dat die mense in Suid-Amerika nie geneig is om baie vrae te vra oor die doen en late van vreemdelinge soos hy nie.

      Bowendien vermoed hy dat die Internasionale Polisiediens hom sal arresteer as hy weer sy verskyning in die Verenigde State van Amerika of ’n Europese land sou maak.

      Daar is wraak in sy hart. Hy verkwalik die kortsigtigheid van die wetenskaplike wêreld wat net nie die briljant­heid van sy planne kan insien nie! Hy het ’n renons in die Atoom-gesin wat voortdurend met sy sake inmeng. Bowenal haat hy die pes van oorbevolking, en die mensemassa wat steeds onverpoos voortgaan om die natuur te vernietig.

      ***

      ’n Seun kom in die stofpad verby met ’n troppie lamas wat hy oppas. Die son begin sak, en hy neem die diere terug van hul weiveld hoog teen die piek na die warm skuiling van die plaashuis onder

Скачать книгу