Anna Atoom en die digitale draak. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman страница 7

Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

van die granieteilande naby die ewenaar, en nêrens anders nie! As indringers soos mense dus kom en net die kleinste deeltjie van die ekosisteem versteur, soos byvoorbeeld om ’n bos uit te kap vir brandhout of om plek te maak vir ’n groentetuin, of dalk gif gebruik om insekte dood te maak wat die tamaties vreet, stort die hele spulletjie inmekaar en spesies soos hierdie unieke vlermuis sterf vinnig uit.

      Dink jy dit is moontlik om sulke spesiale diertjies soos dié as troeteldiere aan te hou? Kry maar eerder ’n brak!

slakke.jpg

      Hierdie vlermuise is egter ’n heel ander soort. Soos alle vlermuise wat in grotte woon, is hierdie spul blinde insekvreters wat hul pad in die donker vind deur klankgolwe as ’n soort biologiese sonar te gebruik. Wat Anna nie besef nie, is dat sy so pas ’n kolonie van ’n baie skaars soort vlermuis ontdek het.

      Hulle is baie kleiner as vrugtevlermuise, en word gekenmerk deur die web wat tussen hul agterbene strek, in die plek van ’n stert. Die web, saam met die diertjie se vlerke, help hulle om vernuftig deur die lug te sweef. Dié skildstertvlermuise kom net op ’n paar eilande in die Seychelle-eilandgroep voor, en volgens berekeninge is daar nog net omtrent ’n honderd van hierdie spesifieke diertjies oor, behalwe die twee wat haar pa reeds veilig in die RuimteArk bewaar.

      Sy lig met die flits om haar rond. Die wande van die tonnel het padgegee en sy staan nou in ’n reusegrot. Die ligstraal glim teen iets blinks teen die dak: stalaktiete! Hierdie rotsformasies vorm deur die eeue wanneer mine­raalryke water uit die dak van die grot drup. Dit weet Anna, want sy het dit iewers in ’n National Geographic-tydskrif gelees. Dit is interessant om dit nou self te sien!

      Die grot is nie baie groot nie, en sy sien nog ’n paar vlermuise teen die dak sit. Sy probeer om hulle nie te steur nie, want die gefladder oor haar kop ontsenu haar.

      Hoe lekker om so ’n grot te vind, een waarvan niemand anders weet nie! Sy kan nie wag om dit vir Darius te kom wys nie. Oor ’n dag of wat is hy weer hier, terug op MonPetit. Dié keer sal hy ses weke lank kuier, die volle somervakansie van sy kosskool in Switserland. Anna se skool sluit vir vier weke, en sy probeer nog steeds haar ma oortuig dat sy maar die twee weke wat Darius hier is, ook uit die skool kan bly.

      Haar ma wil niks daarvan hoor nie.

      “Skool is belangrik, Anna!” sê sy.

      “Maar Ma …!”

      Anna hou daarvan om met haar ma te stry.

      Die gedagte aan Darius laat die grot minder donker en gevaarlik lyk. Hulle kan ’n piekniekmandjie hiernatoe bring, en kerse …

      Skielik sien Anna ’n opening aan die kant van die grot. Daar is sowaar ’n tonnel wat verder gaan! Die vloer van die tonnel daal hier skerp af, dieper onder die eiland in.

      Anna steek vas. Sy is skielik bewus daarvan dat die lug koud is, en dat sy eintlik maar dun aangetrek is. Sy vryf oor die hoendervleis op haar boarm. Hoe lank sal haar flits se battery nog hou? Dalk kan sy eerder later terugkom en vir Brak saambring. Sy ooglense kan goeie lig maak, soos die koplampe van ’n miniatuurmotortjie. En miskien Pip ook?

      Pip sal mal wees oor die grot! Maar as Pip weet waar dit is, het sy geen kans om in vrede hier te kom kuier saam met Darius nie. Dalk moet dit hulle twee se geheim bly?

      Die gedagte om ’n geheim met Darius te deel, maak haar heel opgewonde. Dit is lekker om iets te weet wat hy nie weet nie! Darius is slim, en nogal verwaand daaroor. Sy weet hy is trots daarop dat hy ’n leerling aan een van die bekendste skole in die wêreld is, en sy gaan maar net skool op ’n eiland. Haar klasmaats is meer geïnteresseerd in visvang as in kwantumfisika.

      Sy besluit om liewer vir Darius te wag voordat sy die nuwe tonnel verken. Sy draai om en kyk nog ’n bietjie in die vlermuisgrot rond.

      Haar gedagtes dwaal weg.

      Die grot sal haar weer ’n kans gee om dit onder Darius se neus te vryf dat haar lewe hier op die eiland, verlate soos dit mag wees, baie meer opwindend en avontuurlik is as die grys klipgeboue waar hy heeljaar vasgevang is saam met tweehonderd ander seuns, en van die beste onder­wysers wat daar is …

      Sy dink weer aan al die stories wat Darius vir haar vertel. Maks het hulle gehelp om hulle skootrekenaars so op te stel dat hulle elke aand met mekaar kan praat. Daar is ’n drie uur tydsverskil tussen Switserland en die eilande, en Darius kan gewoonlik net ’n paar minute afknyp van die streng dissipline van sy kosskool. Nogtans kry hulle dit reg om bykans elke dag ’n kort video-gesprek met mekaar te hê.

      Anna se huismense was nog te besig om op te let dat sy deesdae meer aandag aan haar voorkoms gee. Ton sou dalk iets agtergekom het as hy meer van meisie-dinge geweet het, maar alhoewel sy skerp oog ’n verandering by Anna bespeur, skryf hy dit bloot toe aan haar proses van grootword – ’n misterieuse storie vir hom!

      Anna is so ingedagte dat sy haar toon teen ’n klip op die vloer van die grot stamp. “Eina!” roep sy uit. Haar stem eggo spookagtig teen die rotswande en sy ril.

      Tyd om terug te gaan! Sy vind die tonnel waardeur sy gekom het en begin terugstap. Haar gedagtes begin weer dwaal en sy dink aan Pip. Hy is nou sewe jaar oud, en hy behoort saam met haar na die skool op die hoofeiland toe te gaan. Maar nee, haar ouers reken hy is te spesiaal en daarom kan hy privaat onderrig kry hier op die eiland. Daar is selfs ’n rooster vir hom opgestel: Ton leer vir hom wiskunde en meganika net na ontbyt, en daarna gaan hy na professor Sabatina se laboratorium toe vir lesse in spraak en taal. Anna het voorgestel Maks moet hulle daarmee help, maar niemand het gedink sy is snaaks nie.

      Waarop Anna mees jaloers is, is die halfuur wat haar broer elke weeksoggend by die eetkamertafel sit terwyl hulle pa vir hom ’n biologieles gee vanaf sy RuimteArk. Dit is nie regverdig nie! Daar verveel sy wat Anna is haar elke dag dood in die skool op die hoofeiland, terwyl haar pampoenpit van ’n broertjie die lekkerste lesse kry op die eiland, en tussendeur saam met die dodo’s rondhardloop of visvang.

      Sy is so diep ingedagte dat sy skaars agterkom hoe lank sy al loop. Dan tref dit haar: moes sy nie al lankal die einde van die tonnel bereik het nie?

Verdwaal.jpg

      Verdwaal

      Ton drafstap teen die steilte op na die eiland se hoogste punt. In sy haas om na Anna te gaan soek, het hy net ’n sterk koplamp gegryp wat hy gewoonlik gebruik as die dodo’s ’n nagtelike strooptog op die groentetuin uitvoer. Hy dra nog steeds sy gestreepte pajamapak, en sy alewige plakkies. Dit is te betwyfel of Ton ander skoene besit.

      Dit vat hom nie lank om die skeur in die rotswand te bereik waar Anna deurgekruip het nie, en daar kom sy reddingstog tot ’n einde.

      Ton kan duidelik sien waar Anna deurgeskuur het. Hy vind rafels materiaal aan die tak wat die winkelhaak uit haar kortbroek geskeur het. Sy het sonder twyfel hier deur­gekruip, maar die opening is gans te nou vir sy groot lyf.

      Hy kom orent uit die gebukkende posisie waarin hy die skeur in die rots ondersoek het en kyk moedeloos om hom rond. Dit is besig om lig te word. Die silwer lig van die oggendson skuif reeds die nag opsy vanaf die oostelike horison. Hy kyk op sy horlosie: dit is net na sesuur.

      Skielik bars ’n silwer streep deur die bosse en pyl reguit op die opening in die rots af. Dit is Brak! Instinktief gryp Ton na hom en vang

Скачать книгу