'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver страница 4

'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver

Скачать книгу

      Die rede hoekom ons besluit het om ons ou kliphuis te verkoop, is omdat ons gesin nou die onvermydelike stadium bereik waar die kuikens die hok begin verlaat. En hierdie onflukse moederhen sukkel hoeka al jare lank om die enorme hok skoon te skrop vir al die kuikens en die vele trekvoëls van verre oewers wat gereeld hier land. Daarom het moederhen en vaderhaan gesamentlik besluit dis tyd om die slim ding te doen en ’n kleiner hok te soek.

      Mia moet binnekort collège of junior hoërskool toe gaan, op ’n ander dorp, en Daniel het sy laaste skooljaar bereik. Hugo is ook amper klaar met skool en lei so ’n bedrywige sosiale lewe by sy ma se huis in die noorde dat ons hom al hoe minder sien. En Thomas is lankal op universiteit en in sy eie woonstel.

      Ons huis word dus stadig maar seker leër. En ek en Alain, anders as soveel goeie ouers wat ons ken, sien reikhalsend uit na die sogenaamde leënessindroom. Of wag, dalk nie die leë nes nie. Ons is darem nou ook nie so wreed dat ons die kinders heeltemal uit die huis en onder ons voete wil verdryf nie. Ons wil net nie heeltyd verplig voel om hulle te voer nie. Hulle en hulle meisies en hulle maters en hulle maters se meisies . . .

      Dis eintlik ’n leë tafel waarna ons uitsien.

      Die twee seuns wat nie meer pal by ons woon nie, kom nog soms naweke en vakansies ‘huis toe’, maar omdat hulle sosiale lewe op hierdie ouderdom baie bedrywiger as ons oues van dae s’n is, sien ons nooit juis veel van hulle nie. Behalwe twee keer ’n dag wanneer hulle soos roofvoëls op die vleisbakke neersak. Hulle en hulle meisies en hulle meisies se maters en wie hulle ook al daardie dag langs die pad opgetel het.

      Ek weet, ek weet, ons behoort eintlik dankbaar te wees. Seg ons vriende wie se kinders deesdae omtrent almal in verre lande werk of woon. En glo my, ek hóú van groot, gesellige tafels en uitgerekte etes met ’n skare jongmense onder die plataanboom. Maar dit kos kophou en fyn beplanning en soms ’n desperate geskarrel as die getalle wat gevoer moet word so van dag tot dag wissel. Om nie eens te praat van die uiteenlopende kosvoorkeure nie. Soos wanneer Hugo vergeet om te sê dat sy vriend wat vir drie weke kom kuier Moslem is en net halaal eet – nadat ons ’n fantastiese varkvleisbredie gekook het om hom op sy eerste aand by ons te verwelkom. Of as Thomas versuim om te noem dat sy vriendin ’n probleem het met knoffel – juis op die dag dat ons daardie befaamde Franse dis van hoender met veertig knoffelhuisies voorsit.

      Ons het die afgelope somervakansie elke dag, twee keer ’n dag, tussen ses en agtien mense aan tafel gevoer. Meestal was dit so tien op ’n slag. Enkele kere, as uitsondering, was daar van my en Alain se ‘grootmensvriende’ onder hierdie bonte mengelmoes. Dis nie dat ons nie vriende het om te nooi nie, hoor. Dis net dat ons nie genoeg stoele en borde het om ons kinders se vriende én ons eie vriende te voer nie.

      En dan praat ons nie eens van genoeg kos nie. Goeie genade, maar so ’n spul jonges van dae kan eet!

      Soms was ek na aan ’n toestand van histerie. Soos die één aand toe ek dog ek maak sommer gou ’n kaastoebroodjie vir ons drietjies – ek en Alain en Mia – omdat Daniel en Hugo en hulle aanhangsels elders beset was, en omdat Thomas en die Neef van die Noorde en hulle meisies die dag in Avignon wou deurbring en sommer daar iets sou eet. Net toe ons die eerste hap aan ons beskeie broodjies vat, hou daar twee motors voor die hek stil en sewe wildvreemde jongmense peul uit. Stel hulself voor as studentemaats van Thomas, vir wie hulle toevallig vandag in Avignon raakgeloop het, en hy’t hulle genooi om te kom kuier.

      Terwyl ek ons broodjies wegsteek en ’n bottel onbekostigbaar duur wyn oopmaak omdat ons niks anders het om vir hulle te skink nie, probeer Alain desperaat vir Thomas op sy selfoon opspoor om te hoor wanneer hy daaraan dink om huis toe te kom en wat presies hierdie uitnodiging behels. Aandete? Slaapplek vir die nag? Ontbyt die volgende oggend?

      Lang storie kort, ons moes oral in die huis kermisbeddens opmaak en genoeg kos vir die Russiese weermag verskaf. En drank! Ek het vergeet hoe studente kan drink! Voorwaar meer as die Russiese weermag.

      Hulle is eers twee dae later daar weg. En toe ek daardie tweede oggend wéér oor die slapende lywe strompel om by my vuil kombuis uit te kom, het ek met groeiende ongeduld gewonder wanneer die gevreesde verskynsel van die leë nes my dan nou eendag gaan tref. Ja, ek moet bieg, ek sien al hoe meer uit daarna.

      Die ander rede waarom ’n leë(r) tafel vir my al hoe aanlokliker word, is omdat die etenstafel in ons huis nou al jare lank die terrein is waar die grootste veldslae geveg word in die oorlog wat altyd net onder die oppervlak van ’n sogenaamde normale gesinslewe woed.

      O, moenie my verkeerd verstaan nie, ons eet nogtans lekker so tussen die bakleiery deur, koes-koes vir die seuns se hormonale ontploffings, ons ore dikwels toegedruk teen die verbale grofgeskut. Deesdae word die jong sussie se gevoelens ook ’n landmyn waaroor ons versigtig moet trap. Maar selfs op die gevaarlikste slagveld moet ’n soldaat tog eet?

      En dis ’n besonder genadelose burgeroorlog dié. Broer kan enige oomblik teen broer draai, of broer teen suster, of broer en suster kan skielik saamspan teen ma en pa – al was hulle sekondes gelede gereed om mekaar te lyf te gaan. Soos klein Europese landjies in die Tweede Wêreldoorlog hulle onderlinge geskille moes vergeet om ’n gesamentlike front te vorm teen die groot gevaar van Nazi-Duitsland, so is die Groot Gevaar aan ons tafel altyd die ouers.

      Die ergste van alles, vir ons as ouers, is dat dit deels ons eie skuld is. Ons dring daarop aan dat die gesin minstens een keer ’n dag almal saam aan tafel aansit om ’n bord tuisgekookte kos te eet. Twee keer ’n dag oor naweke en vakansies. In die winter versamel ons om die swaar vierkantige tafel in die eetkamer, in die somer om die ronde tafel buite onder die plataanboom. Dis hoe daar by ons geëet word.

      Nie met ’n skinkbord op die knieë voor die TV nie. Nie elkeen op sy eie met ’n bakkie kitskos in sy kamer nie. Nie vir ons wegneem-hamburgers of pizzas wat by die voordeur afgelewer word nie. Nie ’n bevrore gereg wat voor die mikrogolf gelos word sodat elkeen kan kies waar en wanneer en hoe hy of sy wil eet nie. Dis nie hoe ons dit doen nie.

      Ons woon immers in ’n land met ’n kostradisie wat so lank en roemryk is dat dit onlangs ’n ereplek op Unesco se lys van internasionale kulturele erflatings verwerf het. Dis die eerste keer dat kos op hierdie manier vereer is – gewoonlik is dit borduurwerk of volksdansies of ander obskure bedrywighede wat Unesco se lys haal – en vele Franse was verheug oor die nuus. Let wel, dis nie die Franse haute cuisine wat uitgesonder is nie – hoewel dit sekerlik ook hoë lof verdien – dis eerder die manier waarop daar al geslagte lank in gewone Franse huise gekook en geëet word. Die hele affêre van uitgerekte maaltye van salige tuisgekookte kos wat tydsaam aan tafel geëet word, die een gereg ná die ander in ’n bepaalde volgorde, van die voorgereg tot die nagereg. Met die kaas altyd vóór die nagereg. Amen.

      Maar as hierdie tradisie nie ernstig bedreig was nie, sou Unesco dit nie nodig geag het om dit te probeer beskerm nie. Weens ’n gebrek aan tyd, weens ma’s wat buite die huis werk met lewens wat al hoe besiger word, weens die gerieflike alternatiewe wat oral beskikbaar is, weens al hierdie redes en meer eet die gemiddelde Franse gesin lankal nie meer soos ’n halwe eeu gelede nie. Al die haastige eetgewoontes wat van Amerika af oorgewaai het, word deesdae hier aangetref. Italiaanse kitskos en Chinese wegneemetes en Japannese soesji wat afgelewer word. Selfs ‘tradisionele’ Franse geregte soos cassoulet of ratatouille kan in ’n blik of bevrore in die naaste supermark aangeskaf word en blitsig in die mikrogolf verhit word.

      Jy hoef nie meer twee keer ’n dag na die bakker te stap om ’n baguette te koop nie. Jy ry na die hipermark en koop sommer drie reghoekige winkelbrode wat vol chemiese middels gepomp is om twee weke lank ‘vars’ te bly. Dan het jy mos aanmekaar brood in die huis!

      My Fransman hou net mooi niks van hierdie soort etery nie. As dit by kos kom, is my meestal demokratiese wederhelf bereid om ’n skaamtelose

Скачать книгу