'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver страница 5

'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver

Скачать книгу

gemorskos wat sommer so staan-staan op enige plek afgesluk word. So oorhaastig dat jy skaars tyd kry om te proe wat jy in jou mond steek. Quelle horreur. Dis hier waar my man die streep trek. Op sy eie etenstafel. En ek ondersteun hom in sy stryd, hoe dan nou anders, maar ai tog.

      As Mia vir Daniel ’n geniepsige skop onder die tafel gee, en Daniel begin teen haar uitvaar, en Alain vermaan vir Daniel dat hy nie so lelik met sy klein sussie mag praat nie, en Daniel roep uit dis nie regverdig nie, julle kies áltyd haar kant net omdat sy die jongste is . . .

      Of as Hugo met albei sy hande onder die tafel met sy selfoon sit en speel, en Alain se geduld knak en hy konfiskeer die selfoon, en Hugo mor dis nie regverdig nie, julle verstáán nie, en Mia gryp die kans om te kerm dat sy ook ’n selfoon wil hê, en Daniel sê bly stil, Mia, jy’s te jonk, en dan skop Mia vir Daniel onder die tafel en dan begin Daniel teen haar uitvaar en dan vermaan Alain vir Daniel dat hy nie so lelik met sy klein sussie . . .

      Op sulke tye klink die Amerikaanse idee van TV-skinkborde vir my nogal aanloklik.

      Of anders wens ek ek kan teruggryp – net vir die duur van ’n enkele ete – na daardie outydse gesegde waarmee my geslag moes grootword. Daardie een van kinders wat gesien en nie gehoor moes word nie. Maar ek weet ook dis nie werklik wat ek wil hê nie. Die tafel is die één plek waar ons gesin saam kan gesels oor onderwerpe wat ons almal raak (al gee dit gewoonlik ’n stryery af), oor enigiets van politiek tot poeding. Dis waar ek kan hoor wat ons kinders op skool en universiteit aanvang (al weet ek hulle gee altyd ’n gesensorde weergawe aan die ouers), hoe dit met hulle maats gaan, wat hulle van die wêreldnuus of ’n nuwe tienerfliek dink. Van die verhewe tot die verspotte, dis hoe ons tafelgesprekke verloop. So tussen die stryery deur.

      In ’n stadium het die voortslepende veldslae so frustrerend geword dat ek en Alain gedreig het om terug te keer na ’n ander Victoriaanse gewoonte, nie die een van kinders wat gesien en nie gehoor word nie, maar van kinders wat glad nie eens gesien word nie. Van kinders wat vroegaand op hulle eie eet (ideaal gesproke met ’n nanny of ’n goewernante om almal se gedrag in toom te hou) en ouers wat later in die aand rustig en romanties by kerslig eet. (Ideaal gesproke met ’n butler of ’n ander soort huishulp wat die kos voorsit en die tafel afdek en die skottelgoed was.) Maar aangesien ons nie nannies of butlers of enige soort huishulp het nie, het ons nooit sover gekom om die dreigement uit te voer nie. Dit sou net meer werk vir die oorwerkte ouers beteken. Twéé tafels wat gedek en afgedek moet word, kos wat in twee sarsies gekook moet word – of nog erger, in ’n mikrogolf verhit moet word vir die tweede sessie – en die ouers sou boonop verplig wees om self die tweede sessie se skottelgoed in die skottelgoedwasser te pak. Terwyl dit die kinders se taak is, al mor hulle ook aanmekaar daaroor, wanneer ons almal saam eet. As jy só daaraan dink, is dit tog verkieslik om saam met die morrende, stryende, bakleiende kinders te eet.

      En die uitmergelende tafeloorlog behoort darem tog te begin bedaar soos die kinders ouer en wyser word? Dis klaar beter vandat al vier nie meer pal in die huis woon nie. As almal die slag saam hier is, word die wit vlag die eerste paar dae oor die etenstafel gehys. Alles stil aan die front, elkeen rustig in sy loopgraaf. Maar op ’n dag tart Mia weer vir Daniel en Hugo, dan maak Thomas sy stem dik soos dit die oudste broer betaam en raas met Mia, dan begin Mia driftig met Thomas stry, dan gryp Hugo die kans om gou onder die tafel ’n SMS te stuur, dan knak Alain se geduld vir die hoeveelste keer, dan roep Daniel uit: Dis nie regverdig nie! En dan vlam die oorlog maar weer op.

      En dan wonder ek of ek die roemryke Franse kostradisie vir ewig sal verraai as ek voorstel dat ons môre miskien maar eerder mikrogolfkos op ’n skinkbord voor die TV eet?

      Maar nou ja, dan sal almal seker stry oor watter program ons gaan kyk.

      Vere en klere en ander klagtes

      Dis ongelukkig nie net aan tafel waar kinders met mekaar en met hulle ouers skoor soek nie. Die tafel is die ideale slagveld, want jy het al die immer veranderende faksies en vyandige groeperings bymekaar, maar dis in werklikheid ’n guerrillaoorlog wat op enige terrein geveg kan word. Die stryd woed voort in die res van die huis.

      Enigiets kan ’n verskoning wees vir ’n konfrontasie: huiswerk, skoolpunte, sakgeld, selfone, noem maar op. En klere, natuurlik.

      Soos elke ouer van ’n tiener weet, kan klere soms kwaai wrywing veroorsaak. Hoe verdraagsaam jy ook al is, hoe wild jou eie jeug ook al was (en ons weet mos sommige van ons was lekker wild), as jou seun uit sy slaapkamer verskyn in ’n langbroek wat so laag oor sy boude afgetrek is dat hy soos ’n gebreklike pikkewyn lyk as hy probeer stap, is dit soms bitter swaar om stil te bly.

      Want as jy dit wáág om te vra of dit nie ongemaklik is om so gestrem deur sy eie broekspype deur die lewe te strompel nie – of waarom hy nie maar die langbroek by die huis los en net in sy ontwerpersonderbroek uitgaan nie – trap jy op ’n landmyn van tienerhormone en adolessente onsekerheid. Verstáán jy dan nie, Ma, hoe léwensbelangrik dit vandag vir hom is om hierdie hanggatbroek en hierdie verslete skaatsplankskoene en hierdie gebreide mus met die oorflappe en die tossels te dra nie?!? Met die klem op vandag. Want môre of volgende week lyk hy vir al wat jy weet weer heeltemal anders.

      Miskien soos sy vriend wie se jeans so styf om sy bene gegiet is dat hy sukkel om sy knieë te buig. Of die ander vriend met die woeste Afro-haarstyl en die ring deur die regterwenkbrou. Want as daar een vaste reël in tienermodes is, sover ek as ma kan agterkom, is dit die beginsel van masochisme. Jy moet lý vir jou voorkoms, soos kunstenaars moet ly vir hulle kuns. Jy moet moeilik stap of asemhaal, jy moet gate in jou gesig laat boor of tatoeëernaalde op jou vel verduur, jy moet sukkel om te sien deur jou te lang kuif of jou oorgroot donkerbril.

      Soms is my enigste oorlewingstaktiek om die gemartelde uitdrukking op my ma se gesig te onthou toe sy jare gelede die avant-garde-uitrustings moes aanskou wat ek in tweedehandse winkels opgespoor het. Of ek dink aan hoe ontsteld ek was toe my ouma op ’n keer in alle onskuld die uitgerafelde pype van my jeans omsoom het – nadat ek die ganse middag geswoeg het om die some los te torring!

      En dan byt ek maar weer op my lip as my seun in ’n T-hemp met ’n geilgroen daggablaar op die bors uit sy slaapkamer verskyn. Of ek komplimenteer hom liefies oor hy so ekologies sensitief is om ’n kledingstuk met ’n plantmotief te dra. Want die ander vaste reël in tienermodes, het ek geleer, is dat enige gier selfs vinniger as gewoonlik oorwaai as jou ma daarvan hou.

      Buitendien, elke nou en dan kom ek ’n tiener teë wat so uitspattig uitgedos is dat die kinders onder my eie dak skoon vaal en vervelig voorkom. Soos die bleek Gotiese knaap wat laas week op ’n Franse trein langs my beland het. Gitswart gekleurde hare met ’n kuif wat tot onder sy neus hang, ’n swart handskoen aan een hand en verder alles swart van nek tot tone, net die poeierwit gesig met studs en ringe op elke oop stukkie vel.

      Ek is nie die soort reisiger wat graag geselsies aanknoop in vliegtuie en treine nie, en hierdie outjie het nie na belowende geselskap gelyk nie, so ek het net nog ’n bietjie verder weggesak agter my boek. Maar toe begin hý onverwags met mý gesels. Gesien ek lees ’n Engelse roman en wou weet van waar ek kom. Vertel my hy’s sewentien en op pad om by sy ouma op die platteland te gaan kuier. Ek het my probeer voorstel wat die deursnee-plattelandse ouma met so ’n vampieragtige kleinkind sou maak. Hom met knoffel en kruise probeer weghou, waarskynlik. Maar toe ek my weer kom kry, is ons aan die klets.

      Ons het land en sand gesels, oor boeke en reise en drome en wolke en wie weet wat nog alles, en soos ou kennisse gegroet toe hy afklim op die stasie van die gehuggie waar sy ouma woon.

      Die vere maak nie altyd die voël nie, moes ek myself weer ’n slag herinner.

      As

Скачать книгу