'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver страница 7

'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver

Скачать книгу

moeder nie.

      Net nog ’n rede waarom ek hunker na ’n kleiner huis.

      ’n Kleiner huis, so praat ek en my man mekaar moed in, sal minder opruim en stofsuig beteken, minder slaapkamers en minder gaste, minder beddens wat oorgetrek moet word en minder handdoeke wat gewas moet word, minder kos wat gekoop en gekook moet word, minder skottelgoed . . . ’n Kleiner huis, mymer ons voordat ons saans in mekaar se arms aan die slaap raak, sal goedkoper wees, wat beteken ons sal meer geld hê om in restaurante te eet en te reis en mekaar te bederf.

      Ons sal dalk selfs vir die eerste keer in ons gesamentlike lewe ’n nuwe ryding kan koop voordat die oue uitmekaarval en op ’n skrootwerf beland.

      Só droom ons snags.

      Maar ons kan nie ’n kleiner huis koop voordat ons minder kinders in die huis het nie – en om minder kinders in die huis te hê, moes ons onlangs eers die laaste seun in die huis deur sy laaste skooleksamen help. Help soos in sleep en soebat en skel, boelie en dreig en aanmoedig en omkoop en wat ook al verder nodig was. En die hemel hoor my, álles was nodig in hierdie stryd.

      Agtien jaar lank berei jy jou geestelik voor. Jy luister na die gruwelstories van oudstryders, jy neem jou plegtig voor dat jy kalm gaan bly en jou sin vir humor sal behou, jy verseker jouself dat dit nie só erg kan wees nie.

      Dan breek D-dag aan. Jou kind begin die belangrikste eksamen van sy skoollewe skryf. En binne enkele ure besef jy dis nie so erg soos jy gevrees het nie.

      Dis veel, veel erger.

      Wel, miskien nie vir alle ouers nie. As jy een van daardie geseënde ma’s is van ’n modelkind wat mik vir sewe A’s, mag jy maar dadelik ophou lees. Gaan koop eerder ’n boks sjokolade vir ’n normale vriendin met ’n normale, onvlytige, onvoorbeeldige kind in matriek. Glo my, dis al wat my deur my seun se matriekeksamen gehelp het. Sjokolade.

      Die Franse matriek, wat bac genoem word, word in Junie geskryf. Wat beteken teen dié tyd, aan die einde van die lang somervakansie, het my hare darem al begin teruggroei, my vel het herstel van al die sjokolade en stres, my slaappatroon is weer min of meer normaal. Net nou en dan skrik ek nog in die donkerste uur van die nag in angssweet wakker en dink aan die verpletterende enigste vraag in Daniel se filosofie-vraestel: Kan moderne wetenskaplike uitvindings bydra tot die geluk van die mensdom?

      Ja, in Frankryk is filosofie mos ’n verpligte matriekvak. Ek het gedog dis wonderlik om in ’n land te woon waar alle kinders ’n bietjie basiese filosofie onder die knie kan kry voordat hulle die grootmenslewe aandurf. Ná ek daardie vraag gesien het – waaroor hulle verskeie bladsye moes gorrel – is ek diep dankbaar ek is nie ’n Franse matrikulant nie.

      Dis onaangenaam genoeg om die ma van ’n Franse matrikulant te wees.

      My hare het in klosse uitgeval en my gesigvel het in die aakligste tienerpuisies uitgebars. As ek minder sjokolade verorber het, sou my vel seker nie in so ’n toestand gewees het nie. Maar dan het ek moontlik ’n totale senu-ineenstorting belewe. Ek moes my vel opoffer om my senuwees te red, dis hoe ek myself probeer troos het. (En dit het my darem so half heldhaftig laat klink – eerder as bloot vraatsig.)

      Die wreedste van alles, soos menige ma van ’n matriekkind kan getuig, is dat daar dikwels ’n omgekeerde verhouding tussen jou en jou kind se stresvlakke ontwikkel. Hoe meer jy snags slapeloos rondrol, hoe harder snork hy in die kamer langsaan. ’n Goeie nagrus, verseker hy jou, is die bes moontlike voorbereiding vir ’n wiskunde-vraestel. As jy durf vra of ’n paar uur van studie nie óók sou help nie, lig hy jou in dat wiskunde nie ’n ‘studievak’ is nie. Óf jy kan dit doen, óf jy kan dit nie doen nie. Hy kan nie, glo hy, daarom kan hy net sowel rustig slaap.

      ‘En wat van geskiedenis?’ smeek jy die aand voor die geskiedenis-eksamen. ‘Dis mos ’n studievak by uitstek! Al daardie datums, name, plekke!’ Nee wat, antwoord hy gelate, wat nou nog nie in sy kop is nie, sal beslis nie teen môreoggend in sy kop kom nie. Hy sal eerder rustig slaap.

      ‘Engels is jou beste vak!’ gil jy drie dae later wanhopig. ‘Jou laaste kans om jou uitslae te verbeter!’ Teen hierdie tyd probeer jy nie eens meer kalm bly nie. Jou kop is al amper so kaal soos Nataniel s’n, jou vel ’n katastrofe, jou sin vir humor ’n vae herinnering uit vervloë dae. ‘Presies,’ beaam jou kind vol selfvertroue. Vannag gaan hy nou rêrig rustig slaap.

      Ek sukkel steeds om te glo dat Daniel ondanks al hierdie rustige slapery sy bac heel skaflik geslaag het. Ek is so verstom dat hy ’n mention verwerf het – wat vir Franse skoolverlaters amper so waardevol is soos ’n paar A’s in ’n Suid-Afrikaanse matriekeksamen – dat ek selfs begin wonder of daar nie tog iets te sê is vir slaapterapie nie.

      Maar bowenal is ek verlig dat ons nou in alle erns na ’n kleiner huis kan begin soek.

      O Krisis!

      Die dag nadat ons ’n eiendomsagent gebel het om daardie A Vendre-bordjie teen ons blou tuinhek te kom hang, het die eiendomsmark wêreldwyd ineengestort. Nee, ek glo nie dis ’n regstreekse gevolg van die bordjie teen ons hek nie, maar ek wonder tog meer as voorheen oor daardie teorie van ’n skoenlapper wat sy vlerke op een vasteland fladder en dan volg ’n natuurramp op ’n ander vasteland . . .

      Lank, lank gelede, vertel ek gisteraand vir my dogter, was spaarsamigheid nie juis iets om op trots te wees nie. Toe ek nog klein was (onvoorstélbaar lank gelede vir my kind), het ek my oë omgedop vir oujongnooitantes wat plastieksakkies uitspoel en aan die wasgoedlyn hang, of klam en pap gebruikte teesakkies spaar vir ‘weer gebruik’.

      Ek het grootgeword in ’n oorvloedige era, vertel ek terwyl my kind verwonderd in haar bed lê en luister, toe spaarsamigheid dikwels verwar is met suinigheid. Ek en my maats het geamuseerd kop geskud oor ma’s wat leë margarienbakkies en glasflessies bewaar, en oupas wat los skroewe en stukkies tou bêre. En dan was daar ons arme pa’s wat aanmekaar gekla het oor ligte wat onnodig brand en elektrisiteit wat gemors word. Sulke belaglike klagtes het ons bloot geïgnoreer. Sonder enige gewetenswroeging.

      Want ons het tot sommer nou die dag nog gelewe in ’n wêreld waar ons alles eerder weggegooi as weer gebruik het, van bottels tot babadoeke, van koerante tot karre. Ons het nooit, soos ons ouers of grootouers, die ontbering van ’n Groot Depressie of ’n Groot Oorlog ervaar nie. Ons het roekeloos gekoop, verbruik, weggegooi, sonder om te besef dat ons besig is om die aarde in ’n enorme vullisdrom te verander – en dat so ’n misbruikte planeet nie vir ewig kan aanhou om energie vir so ’n gierige mensdom te verskaf nie.

      ‘Rêrig, Mamma?’ vra my Mia ongelowig. ‘Was julle só dom?’

      Ja, my kind. Die slegte nuus is ons was so dom. Die goeie nuus is, miskien, dat dinge só verander het dat jy en jou maats nou sukkel om te glo hoe morsig ons was. Hier in Europa is ons terug waar ons dekades gelede was, vóór spaarsamigheid ’n verdagte woord geword het. En wêreldwyd is die wiel aan die draai.

      Want wat ons deesdae ‘herwinning’ noem, is eintlik mos maar net ’n byderwetse frase vir daardie vervelige ou ‘weer gebruik’ van ons oujongnooitantes. Ek moet bieg ek gril stééds vir klam en koue teesakkies, verkies steeds om hulle weg te gooi eerder as weer te gebruik, maar ek gooi hulle ten minste weg in die ‘regte’ vullishouer agter die kombuisdeur. En die vyf houers, vir onderskeidelik papier, glas, plastiek, blik en ‘nat gemors’, word elke paar dae pligsgetrou na die ‘regte’ herwinningsdromme op die dorpsplein gedra. Ons doen dit dalk op groter skaal, met ’n bietjie meer flair, maar

Скачать книгу