'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver страница 8

'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver

Скачать книгу

het ontkiem in die groeiende ekologiese bewussyn van die afgelope dekade, maar eers waarlik begin blom in die huidige ekonomiese krisis. Shop till you drop is net nie meer iets om oor te spog nie. Spaarsamigheid is besig om ’n statussimbool te word.

      My oorle’ oupa met sy skroewe en sy stukkies tou sou dít sowaar nooit kon voorspel nie.

      Op ons Franse TV wys elegante Paryse vroue hoe om jou eie seep en jou eie sjampoe in jou eie kombuis te vervaardig, en in vele voorstede kan jy aandklasse bywoon as jy wil leer om self skottelgoedvloeistof en vloerpolitoer te maak. Oor die radio verduidelik groot kokkedore van die Franse kookkuns – wat tot onlangs nog resepte vir onbekostigbare truffel-belaaide geregte uitgedeel het – deesdae ewe beskeie hoe jy met goedkoop bestanddele steeds verbeeldingryke etes kan voorsit. En op internet dryf oud en jonk verbete handel om enigiets van gehoorapparate tot skaatsplanke teen die laags moontlike prys aan te skaf.

      Suinigheid, kan jy maar sê, het sjiek geword.

      Of in elk geval moreel regverdigbaar. In ons huis kla my man al jare lank, soos miljoene moedelose pa’s voor hom, oor ligte wat in leë vertrekke brand en radio’s wat vir niemand speel nie – sonder enige bespeurbare gewetenswroeging by ons kinders. Toe kry hy laas jaar die briljante idee om die krimpende energiebronne van die aarde as getuie teen die beskuldigdes in te span. Dit het ’n enkele preek oor ’n donker en droewe toekoms gekos, toe begin die kinders skielik onthou om elektriese apparate af te skakel.

      Hulle doen dit steeds, meestal. Nie om ’n klaende knorpot van ’n pa tevrede te stel nie, maar om ’n kosbare planeet van ondergang te red. En die pa gee nie rêrig om dat hy minder belangrik geag word as die planeet nie.

      La crise, noem die Franse dit, hierdie ekonomiese fiasko wat Europa soos ’n stormwind getref het. En dis ’n wind wat net nie wil oorwaai nie, hoe hard die een regering ná die ander ook al probeer om ’n gemeenskaplike dak oor die ganse Europa se kop te hou. Dit beteken dat ons almal ons euro’s vier keer moet omdraai voordat ons die voosgevatte note uitgee.

      Vir ons gesin is dit nie so ’n enorme aanpassing soos vir sommige ander nie. Aangesien ons al jare lank meer kinders en ’n groter huis het as wat ons eintlik kan bekostig, is ons gewoond daaraan om spaarsamig te lewe.

      Ek dra byvoorbeeld van toeka se tyd af tweedehandse klere.

      Miskien moet ek dit nie so trots verkondig nie. Daar ís blykbaar nog mense wat dink tweedehandse klere is iets om oor skaam of skuldig te voel. Behalwe as jy jonk en brandarm en boheems is, of ryk en beroemd met jou eie persoonlike modestyl. As jy ’n behoeftige dramastudent of kunstenaar is, sal niemand jou skuins aankyk as jy tweedehandse klere dra nie. (Of nie meer skuins as wat hulle in elk geval sou gekyk het as jou rare uitrustings nuut was nie.) As jy ’n wêreldberoemde model soos Kate Moss is, mag jy ook maar in tweedehandse klere pronk – maar dan noem jy dit nie tweedehands nie, jy praat van vintage of retro. En jy koop jou vintage skeppings in eksklusiewe boetieks wat net so duur is, indien nie duurder nie, as winkels waar jy nuwe klere koop.

      Maar as jy ’n respektabele middeljarige ma met ’n klomp kinders is, het jy mos nie ’n verskoning om dooie mense se klere te wil dra nie? Behalwe as jou man miskien sy werk verloor het, siestog, of as die geldnood om watter rede ook al rêrig knyp. Of as jy besonder eksentriek wil wees en soos ’n karnavalkarakter wil lyk.

      Wel, hierdie middeljarige ma is nie buitengewoon behoeftig óf eksentriek nie. Ek was inderdaad dekades gelede ’n dramastudent met meer verbeelding as sakgeld – dis hoe ek tweedehandse klere ontdek het – maar deesdae dra ek tweedehandse klere hoofsaaklik omdat ek daarvan hóú. Omdat ek veel eerder my geld op boeke of reise of smaaklike etes sal uitgee as op ontwerpersuitrustings wat ’n plaas se prys kos. Omdat my maag kriewel van lekkerkry wanneer ek ’n kameelkleurige kasjmierjas, ontwerp deur ’n beroemde Franse modenaam, vir skaars tien euro by die Rooi Kruis se liefdadigheidswinkel opspoor. Welwetend dat dieselfde jas my honderd keer meer sou kos as ek dit nuut in ’n deftige Paryse boetiek moes koop.

      En tog is die belangrikste rede vir die groeiende gewildheid van ‘ander mense se klere’ hier in Europa vermoedelik die ekologie eerder as die ekonomie. Dis vrééslik in om groen te wees en te herwin eerder as om enigiets onnodig weg te gooi. En tweedehandse klere is tog een van die oudste maniere van herwin – soos elkeen sal weet wat as kind tevrede moes wees met ’n ouer sus of boet se ‘aangeeklere’. Dis dalk ook die belangrikste rede waarom soveel van ons steeds neig om neus op te trek vir iemand anders se klere: die aaklige herinneringe aan klere wat jy nie self kon kies nie.

      Wees verseker, dis heeltemal ’n ander saak as jy kies om tweedehandse klere te dra. As jy skrikkerig is, sal ek jou aanraai om te begin deur bloot mense wat jy ken se klere te dra. ’n Klompie van my Franse vriendinne hou elke seisoen ’n heerlike uitruilpartytjie waarheen elkeen ’n hoop ongewenste klere bring. Dan word daar aangepas en modeparade gehou en gekraai van die lag terwyl elkeen kies wat sy wil hê.

      ‘Swishing’, lees ek onlangs op die internet, is die byderwetse woord vir hierdie bedrywigheid wat wêreldwyd al hoe gewilder word. Groot modename soos Twiggy is glo geesdriftige swishers (hoewel die meeste van ons helaas nie in die plankdun gewese model se rokkies sal pas nie) en dit kan natuurlik ook op die net gedoen word. En die leuse van die ‘internasionale etiese beweging’? Swop till you drop! Nou is ek nogal geamuseerd dat ek toe al die tyd ’n pionier is in ’n ‘etiese beweging’ waarvan ek nie eens geweet het nie.

      Alles wat aan die einde van so ’n aand van Franse swishing oorbly, word aan ’n liefdadigheidswinkel geskenk. Waar meer avontuurlustige siele soos ek tussen rakke vol lelike klere kan gaan snuffel vir die weggesteekte truffel, die diamant in die stof, daardie pragtige kasjmierjas wat volmaak pas. En glo my, as jy eers één keer só ’n diamant ontdek het, sal jy dit wéér wil doen.

      En voor jy jou kom kry, dra jy dalk ook ander mense se klere. Sonder enige skaamte of skuld.

      Maar al my klere is darem nie tweedehands nie. Ek het ’n swak vir mooi onderklere – natuurlik nie tweedehands nie – en bestee gereeld meer geld op hierdie weggesteekte kledingstukkies as op enigiets wat ek vir ander mense wys. En soos die meeste vroue word ek soms in ’n winkel oorval deur ’n soort waansin wat my ’n onnodige, oorbodige en toetentaal onvanpaste uitrusting sal laat koop – net omdat die prys skielik vir my onweerstaanbaar klink.

      Laat ek verduidelik. Ek beskou myself as ’n (taamlik) redelike mens. Belangriker nog, ek verloor (meestal) nie my redelikheid in winkels of selfs op uitverkopings nie. Ek glo nie dat koop-koop-koop my gaan laat lag-lag-lag nie. Ek het nog nooit douvoordag op straat gewag dat ’n winkel se deure oopgaan vir die eerste dag van ’n uitverkoping nie, nog nooit soos ’n histeriese hamster deur ’n hoop winskoop-klere gegrawe nie, nog nooit handgemeen geraak met ’n ander klant wat saam met my na dieselfde begeerlike kledingstuk gryp nie.

      Dis die soort gedrag wat ek net uit grappe en spotprente ken.

      Maar selfs die redelikste mens sukkel soms om ’n winskopie te weerstaan. Dis mos nou ’n bargain, oortuig ek myself, al is dit ’n wye katpak in ’n vuilgroen kleur wat my soos ’n valskermsoldaat laat lyk. Want kyk, dis van suiwer sy! Al weet ek voor my siel dat ek nooit hierdie spesifieke skakering van seesiekgroen sal dra nie omdat dit my aan ’n gehate skooluniform uit my jeugjare herinner.

      Of, op ’n ander dag, in ’n ander winkel: Kyk, dis rooi fluweel, en ek wou nog altyd ’n rokkie van rooi fluweel hê. Al is hierdie een miskien ’n nommer te klein. (Ek kan mos maar minder eet tot ek daarin pas.) Want dis mos nou ’n bargain!

      En dan hang die aaklige valskermuitrusting of die te klein rokkie van rooi fluweel in my kas, soms jare lank, ná ek dit ’n enkele keer gedra het. (Een keer is gewoonlik genoeg om te sien dit werk glad nie.) As ek daarvan ontslae raak, is

Скачать книгу