'n Fontein voor ons deur. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver страница 9

'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver

Скачать книгу

      Sulke valse winskopies herinner my nogal aan die Britse bergklimmer Mallory se befaamde antwoord op die vraag waarom hy Everest wou klim: Omdat dit daar is. Soms koop ’n meestal redelike vrou soos ek ’n kledingstuk bloot omdat dit daar is – en minder as gewoonlik kos.

      Die goeie nuus is dat sulke winskopie-flaters tog minder word soos mens ouer word en uit jou eie foute leer. Teen dié tyd weet ek ek sal nooit vuilgroen dra nie (nie eens vuilgroen sy nie), nes ek weet ek sal nooit honger ly ter wille van ’n rok nie (nie eens ’n rooi fluweelrok nie). Maar ek vermoed die waansin sal nooit heeltemal verdwyn nie.

      Net laas somer nog het ek in Spanje ’n lieflike oorvouromp met ’n swart-wit blompatroon teen ’n belaglik lae prys aangeskaf. Dié keer was die grootte en die lengte en die sjiffonmateriaal en alles perfek. Eers toe ek dit die eerste keer dra, ontdek ek dit vou nie net oor nie, dit vou veral oop. Elke keer as ek gaan sit, hang die twee pante tot op die vloer aan weerskante van my kaal bene. Die soort romp wat sou werk vir Paris Hilton as sy uit ’n New Yorkse taxi klim, maar erg onvanpas vir ’n middeljarige taxi-ma van vele kinders en stiefkinders.

      Om nie eens te praat van wat Provence se nare mistralwind met sulke flappende sjiffonpante aanvang nie. Toe ek nou die dag oor die straat stap, het ek vir ’n enkele angswekkende oomblik gedog ek word blind. Alles het net skielik swart geword. Al wat ek kon hoor, was skreeuende motorremme.

      Dit was die swart voering van die romp wat tot bo-oor my kop gelig is deur ’n vlaag wind.

      Ek het onmiddellik geweet ek gaan nooit-ooit weer hierdie romp dra nie. Selfs al sou die opvlieënde pante gedokter kon word met gewiggies in die soom of hakies om dit toe te hou of wat ook al. Nee, die blote herinnering aan my oomblik van onbedoelde ekshibisionisme in die middel van ’n besige Franse dorpstraat is genoeg rede om van hierdie bepaalde ‘winskopie’ ontslae te raak. Dit behoort eintlik genoeg te wees om my vir die res van my lewe van sulke simpel winskopies weg te hou – maar dit wil ek eerder nie belowe nie.

      Terwyl ek hier sit en skryf, juig die sonbesies vlak voor my venster omdat dit somer is in Provence. Hulle steur hulle glad g’n niks aan la crise nie. Min gepla met die verdrietige feit dat vele Franse vanjaar gedwing word om ’n meer beskeie somervakansie te beplan – korter, goedkoper, nader aan die huis – of hoegenaamd nie kan weggaan nie.

      Nee wat, die sorgvrye insekte sing lustig voort omdat die son tot laat saans skyn. Omdat die lug blou is en na laventel ruik. Omdat die lowergroen platane skaduwee en koelte bied. Dalk kan ons ’n les by hulle leer. Anders gaan ons oor ’n paar maande terugkyk na ’n seisoen waarin ons so gewroeg het oor die ekonomie dat ons skoon vergeet het om die son te waardeer.

      Maar hoe bied jy vir jou gesin ’n somervakansie op ’n begroting wat krimp soos ’n woltrui wat in te warm water gewas is? Die antwoord, vir ’n groeiende aantal Franse, is ’n strategie wat Suid-Afrikaanse binnelanders al jare lank beproef. Jy bedel ’n bed (of ’n matras op die vloer) by familie wat naby die see woon, dan voel dit darem soos vakansie. (Nie vir die arme familie by die see nie, maar dis weer ’n ander storie.)

      Vir ons gesin is dit egter nie ’n praktiese opsie nie. Ons Franse familie woon almal in die minder aanloklike noorde van die land. Húlle kom gewoonlik in die somer by óns in die warm suide afpak, nie andersom nie. (Dié dat ek weet watse harde werk sulke gaste kan wees – hoe lief jy hulle ook al het.)

      En ons Suid-Afrikaanse familie is te ver. Ons kan miskien nog genoeg beddens vir die hele gesin bedel – hoewel selfs dít kan lol as jou gesin so groot soos ons s’n is – maar ons kan nie bra verwag hulle moet ons almal se vliegtuigkaartjies ook nog betaal nie.

      Die Europeërs kampeer glo ook vanjaar in groter getalle as ooit voorheen. Dit bly die gewildste Plan B as jy nie by familie kan gaan afpak nie. Terug na die natuur gedwing deur die ekonomie, sou mens miskien hoopvol kon sê.

      Behalwe dat oorbevolkte Europese kampeerterreine met swembaddens, wasmasjiene en haardroërs, blêrende radio’s en TV-stelle in elke karavaan, en internetverbinding net mooi orals, vreeslik ver van die vrye natuur voel. Ek weet waarvan ek praat, want ek was mos onnosel genoeg om een Franse somer met my gesin te gaan kampeer.

      Ek het gesweer nooit weer wil ek in so ’n luuksueuse strafkamp wees nie.

      Nee wat, dan ry ek eerder in Jan Tuisbly se karretjie. Klaar besluit.

      Soos die meeste mense mik ek ook alewig vir die sogenaamde groener gras anderkant die draad, maar ’n vlugtige kuier op die internet het my pas weer herinner aan hoe geil die gras in my eie agterplaas groei. Goed, ek moet bieg, baie van die bekendste besienswaardighede in Provence en omstreke het ek tot dusver doelbewus vermy. Te veel toeriste, maak ek elke somer verskoning – en vergeet gerieflikheidshalwe dat ek self nie só lank gelede nie as begeesterde toeris hier opgedaag het.

      Ek het byvoorbeeld nog nooit by die skilder Cézanne se ateljee in Aix-en-Provence of by die filosoof Camus se laaste rusplek op die dorpie Lourmarin uitgekom nie. En dan is daar Picasso se château naby Aix – onlangs vir die heel eerste keer vir die publiek oopgestel – en die fabelagtige feëpaleis wat ’n moontlik waansinnige posbode by Hauterives gebou het.

      Hierdie droompaleis waaraan ’n posman met die naam Cheval (wat ‘perd’ beteken) drie dekades lank elke nag gewerk het, is ’n produk van dieselfde soort naïewe, obsessionele kunsywer wat juffrou Helen Martin se Uilhuis op Nieu-Bethesda ’n besienswaardigheid gemaak het en toeriste na ’n voorheen onbekende dorpie lok. Tot ’n dekade of drie gelede was daar nie juis ’n rede waarom enigiemand Hauterives toe sou ry behalwe om vir iemand te gaan kuier nie. Nou stroom skares besoekers elke somer na die dorpie om in die oorlede posman se paleis te kuier.

      Dis ’n historiese monument wat ek lankal wou besoek, maar daar was altyd iets anders, verder, skaarser, wat éérs gedoen moes word. En toe sien ek nou die dag op die internet die paleis is omring deur ’n lieflike park waar ons kan piekniek hou. En op pad daarheen is ’n rivier waar ons kan swem as dit te warm word in die motor. En skielik is ek so opgeklits oor my voorgenome kuier by die posman se paleis dat ek amper dankbaar voel virla crise.

      Want ek gaan my in hierdie somer van ekonomiese swaarkry soos die sonbesies gedra. Ek gaan my verheug in die lang loom dae en die lug wat na laventel ruik, ondanks die resessie. Ek gaan elke sonnige oomblik waardeer, want dis weldra weer winter, en dan gaan ek gewis die geraas van die sonbesies mis.

      Weergaloos

      As jy nou in Europa móét woon, het ek nog altyd geglo, is suid beter as noord. Elke keer as ek in die winter in Nederland of Engeland kom, hang die grys wolke so laag in die lug dat dit soos ’n skof op my skouers voel. Asof ek nie my kop gelig kan kry nie. (Soms gebeur dit selfs in die somer.) Daarom is ek dankbaar dat ek ’n holte vir my hart in Provence kon vind, want hier is die hemel mos eindeloos blou en die lig verblindend helder en . . .

      Nee. Nie altyd nie. Die afgelope winter was die ergste in dekades. Oral in Europa. En in sogenaamde ‘sonnige’ streke, waar dit nie eintlik ‘veronderstel’ is om veel te sneeu nie, kan ’n enkele week van diep sneeu veel groter ontwrigting veroorsaak as op plekke waar dit elke winter aanmekaar sneeu.

      Stel jou voor jy word een oggend in Kaapstad wakker en die sneeu lê kuithoogte om jou huis. Ja, goed, jy gaan soos ’n lawwe jong hond buitentoe storm en jou bure met sneeuballe bestook. (Sneeu, veral buitengewone sneeu, het nou eenmaal die manier om selfs die waardigste volwassene in ’n verspotte kind te verander. Dis een van die vreugdes van sneeu.) Maar daarna moet jy by die werk kom. En die kinders by die skool. En jy’t nog nooit

Скачать книгу