13 uur. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
13 uur - Deon Meyer

Скачать книгу

’n geboë figuur in ’n te groot wit kamerjas. Sy sit vooroor op die punt van ’n groot viersitplekbank, haar elmboë op haar knieë, haar kop hang, ongewaste grys en blonde hare verberg haar gesig. Sy steek haar hande uit sonder om op te kyk. Jimmy maak die bruin papiersakke los.

      “Ek moet net gou dié diskette op jou hande druk. Hulle is klewerig, maar dis al …” Hy breek die seël op die SEM-kissie en haal die ronde metaalskyfies uit. Griessel sien Alexandra Barnard se hande bewe, haar gesig nog steeds agter die lang hare bedek.

      Hy en Dekker kies elkeen ’n stoel. Dekker maak sy notaboek oop.

      Jimmy werk vinnig en sekuur, eers die regterhand, dan die linker. “Daar’s hy, dankie, mevrou.” Hy gee vir die speurders ’n kyk wat sê “hier’s ’n interessante een”, en dan pak hy op.

      “Mevrou Barnard …” sê Dekker.

      Tinkie Kellerman skud haar kop effens, asof sy wil sê die verdagte is nie kommunikatief nie. Jimmy loop uit terwyl hy sy oë rol.

      “Mevrou Barnard,” sê Dekker, sy stem harder, saakliker.

      “Ek het dit nie gedoen nie,” sê sy sonder om te beweeg, haar stem verrassend diep.

      “Mevrou Barnard, u het die reg tot ’n regsverteenwoordiger. U het die reg om geen vrae te beantwoord nie. Maar as u sou kies om ons vrae te beantwoord, moet ek u meedeel dat u verklaring in die hof gebruik kan word.”

      “Ek het dit nie gedoen nie.”

      “Wil u ’n regsverteenwoordiger kontak?”

      “Nee,” en dan lig sy haar kop stadig en druk haar hare weerskante weg van haar gesig af. Bloedbelope blou oë, vel het ’n ongesonde kleur. Griessel sien die eweredige gelaatstrekke, die skimpe van vergange skoonheid onder die spore van misbruik, en hy weet hy ken haar, hy ken ’n weergawe van hierdie gesig, maar hy kan haar op dié oomblik hoegenaamd nie plaas nie. Sy kyk vir Dekker, dan vir Griessel; haar enigste uitdrukking is een van volslae moegheid. Sy reik ’n hand na ’n tafeltjie langs haar uit en tel ’n pakkie sigarette en ’n aansteker op. Sy sukkel om die pakkie oop te kry en ’n sigaret uit te haal.

      “Mevrou Barnard, ek is inspekteur Fransman Dekker. Dit is inspekteur Bennie Griessel. Is u gereed om ons vrae te beantwoord?” Sy stem is harder as wat nodig is, soos wanneer ’n mens met iemand praat wat ’n bietjie doof is.

      Sy knik klein, met moeite, en steek die sigaret aan. Sy trek die rook diep in, asof dit haar krag moet gee.

      “Die oorledene is u man, meneer Adam Barnard?”

      Sy knik.

      “Wat is sy volle name?”

      “Adam Johannes.”

      “Ouderdom?”

      “Twee-en-vyftig.”

      Dekker skryf. “En sy beroep?”

      Sy rig haar moeë oë op Dekker. “AfriSound.”

      “Verskoon my?”

      “AfriSound. Dis syne.”

      “AfriSound?”

      “Dis ’n platemaatskappy.”

      “En hy besit die maatskappy?”

      Sy knik.

      “U volle name?”

      “Alexandra.”

      “Ouderdom?”

      “Honderd-en-vyftig.”

      Dekker kyk net vir haar, pen reg.

      “Ses-en-veertig.”

      “U beroep?”

      Sy maak ’n kort, ironiese geluid en vee weer hare terug van haar gesig af. Griessel sien bevestiging van die huishulp se stelling dat sy ’n drinker is – die bewende hande, die oë, die kenmerkende verkleuring en erosie op haar gesig. Maar daar is iets anders waaraan sy hom herinner. Hy weet hy het haar al iewers ontmoet.

      “Verskoon my?” sê Dekker.

      Van waar ken hy haar, wonder Griessel. Van waar?

      “Ek werk nie.”

      “Tuisteskepper,” sê Dekker en skryf dit neer.

      Sy maak dieselfde gelade geluid.

      “Mevrou Barnard, kan u vir ons vertel van laasnag se gebeure?”

      Sy sak stadig terug in haar groot stoel, plaas ’n elmboog op die leuning en stut haar kop met die hand. “Nee.”

      “Verskoon my?”

      “Ek weet nie hoe lank ek nog die versoeking sal kan weerstaan om ‘jy is verskoon’ te sê nie.”

      Dekker se kakebeenspiere beweeg, asof hy op sy tande kners. Alexandra trek haar asem stadig en doelbewus in, asof sy haar staal vir ’n groot taak. “Ek is ’n alkoholis. Ek drink. Van elfuur in die oggend. Teen sesuur is ek gewoonlik genadiglik dronk. En van halfnege af onthou ek nie veel nie.” Op daardie oomblik, miskien omdat die diep, ryk stem iewers in sy geheue resonansie vind, onthou Bennie Griessel wie sy is. Die woord kom sit op sy tong, hy sê dit amper hardop, bedwing homself net betyds: Soetwater.

      Sy was ’n sangeres. Xandra. Here, sy het oud geword.

      Soetwater. Die woord roep ’n visioen by hom op, ’n TV-beeld van ’n vrou in ’n noupassende swart rok, net sy en ’n mikrofoon in die helder kollig van ’n rookgehulde verhoog.

      ’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.

      Skink Soetwater.

      ’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.

      Drink Soetwater.

      Middel tagtigerjare, daar rond, en Griessel onthou haar soos sy was, die onmoontlik sensuele blonde sangeres met die Dietrich-agtige stem en genoeg selfvertroue om haarself nie ernstig op te neem nie. Hy het haar net op ’n televisieskerm ontmoet, en op die voorblaaie van tydskrifte, in die dae voor hý gedrink het. Sy het vier, vyf treffers gehad, hy onthou “ ’n Donkiekar net vir Twee”, “Tafelbaai se Wye Draai” en die heel grote, “Soetwater”. Fok, sy was hierdie moerse ster en kyk hoe lyk sy nou. Bennie Griessel voel ’n jammerte vir haar, ’n verlies, ’n aanklank.

      “So u kan nie onthou wat gisteraand gebeur het nie?”

      “Nie veel nie.”

      “Mevrou Barnard,” sê Dekker, styf en formeel. “Ek kry nie die indruk dat jou man se dood jou geweldig ontstel nie.”

      Hy maak ’n fout, dink Griessel. Hy lees haar verkeerd; hy’s te gespanne, te haastig.

      “Nee, inspekteur, ek is nie in rou nie. Maar as jy my gin en dry lemon bring, sal ek my bes doen.”

      Vir

Скачать книгу