13 uur. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
13 uur - Deon Meyer

Скачать книгу

      “Kom vanmiddag terug. Drie-uur is ’n goeie tyd. My beste van die dag.”

      “Dit is nie ’n opsie nie.”

      Sy maak ’n gebaar wat sê dit is nie haar probleem nie.

      “Ek sal jou bloed moet laat toets vir alkoholvlakke.”

      “Gaan aan.”

      Dekker staan op. “Ek kry net die tegnikus.”

      Griessel loop agter hom aan. In die sitkamer is Dik en Dun besig om op te pak. “Kan jy net haar bloed trek voor julle gaan?”

      “Sure, Chief,” sê Jimmy.

      “Fransman,” sê Griessel, daarvan bewus dat hy baie versigtig sal moet wees. “Jy weet ek is ’n alkoholis?”

      “A,” sê Arnold, die dikke, “speurders wat bond. Wat kan mooier wees?”

      “Fokkof,” sê Griessel.

      “Ek was in elk geval op pad,” sê Arnold.

      “Julle moet nog die Mercedes in die straat doen,” sê Dekker.

      “Dis volgende op die lys,” en Arnold loop by die vertrek uit, sy hande vol van bewysstukke en apparaat.

      “So?” vra Dekker as hulle alleen is.

      “Ek weet hoe sy voel, Fransman …”

      “Sy voel niks. Haar man lê daar en sy voel niks. Sy’t hom geblaas, ek sê jou. Die gewone storie.”

      Hoe verduidelik jy aan ’n nie-suiper hoe sy nou voel? Alexandra Barnard se hele wese sit daar en smag na alkohol. Sy is soos ’n drenkeling in die verskriklike vloed van dié oggend; drank is die enigste reddingsboei. Griessel weet.

      “Jy’s ’n goeie speurder, Fransman. Jou toneel is perfek bestuur, jy doen alles volgens die boek en jy’s tien teen een reg. Maar as jy ’n bekentenis wil kry … Gee my ’n kans. Een-tot-een is nie so intimiderend nie …”

      Griessel se selfoon lui. Hy kyk na Dekker terwyl hy dit uithaal. Die bruin man lyk nie positief oor sy voorstel nie.

      “Griessel.”

      “Bennie, dis Vusi. Ek’s by Metro se CCTV-kamer. Daar’s twee van hulle, Bennie.”

      “Twee wat?”

      “Twee meisies, Bennie. I’m standing here, watching five guys chasing two girls up Long Street.”

      7

      “Fok,” sê Bennie Griessel. “Hulle jáág die meisies? In Langstraat?”

      “Die time code sê dit was vanoggend, kwart voor twee. Vyf ouens, van Waalstraat se kant af, na die kerk toe.”

      “Dis wat, vier straatblokke?”

      “Ses blokke tussen Waal en die kerk. ’n Halwe kilometer.”

      “Jissis, Vusi, jy doen dit nie om ’n rugsaktoeris se beursie te steel nie.”

      “Ek weet. Die ander ding is: Die footage is nie great nie, maar ’n mens kan sien – die ouens wat hulle jaag, is swart én wit, Bennie.”

      “Maak nie sin nie.” Want in hierdie land werk misdadigers nie saam oor kleurgrense heen nie.

      “Ek weet … Ek het gedink, miskien is hulle bouncers, miskien het die girls iewers by ’n club moeilikheid gemaak, but, you know …”

      “Bouncers sny nie ’n buitelandse toeris se keel af nie.”

      “Nog nie,” sê Vusi, en Griessel weet wat hy bedoel. Die klubs en uitsmyters is ’n nes van georganiseerde misdaad, ’n kruitvat. “In any case, ek het ’n bulletin uit op die ander meisie.”

      “Goeie werk, Vusi.”

      “I don’t know if it will help much,” sê Ndabeni en beëindig die oproep. Griessel sien Dekker wag ongeduldig op hom.

      “Ek is jammer, Fransman. Dis Vusi se ondersoek …”

      “En hierdie is my ondersoek,” met lyftaal wat wys hy is reg vir ’n argument.

      Griessel het nie dié aggressie verwag nie, maar hy weet hy is op dun ys. Speurders se territoriale drange is sterk, en hy is net hier om te mentor.

      “Jy’s reg,” sê hy en loop deur se kant toe. “Dog net dit kan help.”

      Dekker staan, fronsend.

      En dan, net voor Bennie uitgaan: “Wag …”

      Griessel steek vas.

      “O.K.,” sê Dekker eindelik. “Praat met haar.”

      * * *

      Sy hoor hulle nie meer nie. Net die voëlgesang en die sonbesies en die gedruis van die stad hier onder. Sy lê in die koelte van die rotshang, maar sy sweet, die temperatuur van die bergkom wat vinnig styg. Sy weet sy kan nie opstaan nie, want hulle sal iewers gaan staan en hulle oë sal na haar soek.

      Sy oorweeg dit om hier te bly lê, die hele dag lank, totdat die donker kom en sy nie so sigbaar sal wees nie. Sy kan dit doen, al is sy dors, al het sy gisteraand laas geëet. As sy rus, as sy nog ’n bietjie kan slaap, sal sy vanaand met nuwe krag kan gaan hulp soek.

      Maar hulle weet sy is hier, iewers.

      Hulle sal die ander laat kom en hulle sal soek, hulle sal terugloop op die paadjie en elke moontlikheid oorweeg en as iemand naby kom, sal hulle haar kan sien, die holte is nie diep genoeg nie. Sy ken die meeste van hulle, sy ken die lenigheid van hul lywe, die energie, die fokus, die behendigheid en selfvertroue. En sy weet hulle kan nie bekostig om op te hou soek nie.

      Sy sal moet beweeg.

      Sy kyk in die rivierlopie af, die klipperige, smal gang wat tussen fynbos en rotse na onder slinger. Sy sal daar moet af, kruipend, versigtig om nie ’n geluid te maak nie. Die berg was die verkeerde keuse, te verlate, te oop. Sy moet kom waar daar mense is, sy moet hulp kry, iewers moet iemand bereid wees om te luister en te help.

      Sy lig haar kop traag van die rugsak af, druk dit voor haar uit en gly versigtig agterna. Sy sal dit nie kan sleep nie; dit sal hoorbaar wees. Sy kom gebukkend orent, swaai die rugsak stadig op en knip die gespes saggies vas. Dan kruip sy, op haar hande en voete, oor die ronde klippe. Stadig, sodat sy niks versteur wat ’n geluid kan maak nie.

      * * *

      Griessel loop in die sitkamer in en gaan fluister in Tinkie Kellerman se oor. Alexandra Barnard trek aan nog ’n sigaret; haar oë volg vir Tinkie wat opstaan en by die deur uitloop. Griessel gaan maak die deur agter haar toe en stap woordeloos na ’n Victoriaanse meubelstuk, ’n groot kas met loodglasdeure bo en donker houtdeure onder. Hy trek bo en onder deure oop, haal ’n glas en ’n bottel jenewer uit en loop

Скачать книгу