Klassiek reeks: Karolina Ferreira. Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach)
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Klassiek reeks: Karolina Ferreira - Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach) страница 5
Hulle drink hulle tee klaar. Daarna staan sy op om te gaan. Hy sê hy stap saam, hy het ook nog iets om in die dorp te doen.
Toe hy opstaan, sien sy vir die eerste keer hoe lank hy werklik is. En nie skraal nie – sy liggaam suggereer ’n groot soliditeit – ten spyte van die skraal hande en die delikaat gepunte vingers.
Met die vreemde gloed of hy brand van binne, of mens jou by hom kan verwarm. En die sproeterigheid, van alle dinge. En die lyf moet seker ook met die brons hare oordek wees, dink sy onwillekeurig. En die ontwykende blik en die swaar ooglede. Nie die soort man oor wie sy in haar jeug en in die tye van dwaasheid daarná sou gefantaseer het nie.
Toe hulle uitmekaar gaan, vra hy of sy planne vir die aand het, sy sê ja sy het, maar sy vertel hom nie van haar voornemens om te gaan dans nie.
Saterdagmiddag rus sy. Sy verbeel haar sy hoor die wind iewers in bloekoms ruis. As sy wakker word, verf sy haar toonnaels. Sy doen dit versigtig: sit stukkies watte tussen die tone. Dan begin sy opwarm. Omdat sy die plankvloer (met verslete mat) nie vertrou nie, warm sy bo-op die bed op. (Waarvan die vere gelukkig besonder hard en veerkragtig is.) Sy beweeg in ’n geweldige tempo op die een plek op en af. Haar hare is styf vasgemaak. Die sweet tap haar af. Daarna vryf sy haar bene met warm olie in, voor sy stort en haar blou rok aantrek. In die spieël sien sy ’n vrou wat lyk of sy met bodemlose vertroue na die wêreld uitreik. Haar ongevormdheid ten spyt.
Toe sy die musiek hoor, gaan sy af onder toe. Sy loer vinnig by die dameskroeg in, die magistraat is op sy plek. Uit die snoekerkamer is reeds ’n groot rumoerigheid hoorbaar. Sy stap om die gebou na die oostelike stoep waarop die eetkamer oopmaak; deur die venster sien sy vlugtig dat die tafels en stoele teen die agterste muur opgestapel is. Sy gaan by ’n tafeltjie sit en bestel ’n glas lemoensap. Dit is aangenaam koel op die stoep. Daar sit heelwat mense hier buite; die ander dans reeds binne. Hierdie Saterdagaanddans word skynbaar goed ondersteun deur die plaaslike inwoners.
Sy herken ’n paar van die mans wat sy die Donderdagaand in die snoekerkamer ontmoet het. Daar is sersant Duif Visagie en gade, sersant Blaf Buytendach en gade, die twee FAK-kêrels en hulle verloofdes (die meisies lyk nie soos gades nie); by ’n ander tafeltjie sit die twee vaal onderwysers en hulle gades, die vaalste van die twee (meneer Kriek?) se jong vroutjie het ’n klein donker koppie, asof haar skedel in die beklemmende teenwoordigheid van haar onderdrukte eggenoot met die jare geleidelik aan die krimp is.
Luitenant Kieliemann, Gert Els, Pol, sersant Frikkie is nie teenwoordig nie. Hulle is waarskynlik sonder gades in die snoekerkamer. Sy sal nog sien: daar is diegene wat snoeker speel, dié wat dans, dié wat in die dameskroeg sit, en dié wat snoeker speel én dans. Waarskynlik is daar nog ander, maar dit is die belangrikste kategorieë.
Karolina sit rustig, kyk voor haar uit, drink haar lemoensap; sy ken en gehoorsaam die reëls van die spel.
By ’n tafel ’n entjie van haar sit ’n groepie mans op hulle eie. Hulle lag en drink bier. Uit daardie oord verwag sy die eerste handeling. Van binne is die ritme van die musiek reeds ondraaglik uitnodigend.
Sy is reg. Een van die mans staan op, kom na haar toe, stel homself voor as Kolyn (niks meer en niks minder nie), en vra haar om met hom te dans. ’n Man met ’n donker Voortrekkerbaard.
Hy lei haar aan die elmboog na binne. Onder die beskilderde panele hoog teen die mure, en die twee dakwaaiers wat stadig draai, neem hy haar in sy arms, en onderwerp sy haar wil vir die duur van die dans gewillig aan syne.
As die Kolyn-kêrel iets besonders gemerk het, het hy dit nie laat blyk nie. Toe Karolina laataand uitgeput in haar kamer kom, dink sy sy kan haarself gelukkig ag. Dit is nie dikwels dat sy by so ’n geleentheid die beste danser van almal so vroeg in die aand of selfs hoegenáámd as dansmaat kry nie. Sy kan veel slegter doen as elke Saterdagaand met hom dans.
Ongelukkig en onvermydelik kan sy egter ook beter doen. Dit is die lot van Karolina dat sy ’n begenadigde danser is – ’n uitverkorene, naas haar buitengewone vermoëns op entomologiese gebied.
Hoofstuk 2
Soggens gaan sy en Willie saam veld toe. Sy versamel inligting oor die motte, hy soek en versamel sy plante en ander grondstowwe. Smiddae rus sy, dokumenteer en maak aantekeninge van die oggend se veldwerk. Dit is vroeg Januarie, baie warm, byna die warmste tyd van die jaar, en droog. As sy nie kan slaap nie, lê sy net, dink aan die oggend se vondste, aan die ontwikkeling van haar argument, aan dinge wat Willie haar gewys of meegedeel het. Of sy dink aan mense wat sy geken het. Of aan sekere situasies waarin sy haar bevind het. Of sy laat haar assosiasies beweeg waar dit wil – volg dit argeloos. Soms word sy onthuts deur ’n gedagte wat skynbaar uit die bloute op haar neersak: ’n insig, ’n fantasie, ’n aanvoeling, ’n vermoede.
Saans na ete gaan hulle soms snoeker speel.
Pol en die magistraat is feitlik elke aand in die dameskroeg; in die snoekerkamer tref hulle dikwels luitenant Kieliemann, sersante Duif Visagie, Blaf Buytendach, Frikkie Visser en nog ’n paar ander gereelde spelers aan.
Luitenant Kieliemann het nie om dowe neute sy lippe die eerste aand afgelek nie. Hoewel hy ’n man is wat in die teenwoordigheid van ander niks laat blyk nie, maak hy spoedig – toe hulle vir die eerste keer alleen is – sy bedoelings aan Karolina bekend. Dinsdagaand, op pad na die damestoilet, kom sy hom in die gangetjie buite die deur van die snoekerkamer teë (die deur waarin Gert Els sy eerste verskyning gemaak het).
Hy druk haar teen die muur vas en probeer haar soen.
Enigsins onkant gevang, probeer sy haar losruk uit sy omhelsing. Maar gespierd is Kieliemann nie verniet nie.
In haar nek sê hy: “Assebliéf.”
Sy ruk woordeloos los en gaan toilet toe. Terug in die snoekerkamer kyk Kieliemann op toe sy inkom, maar gee geen aanduiding dat iets sopas tussen hulle gebeur het nie. Sy gaan langs Willie op die rottangbankie sit.
“Kieliemann,” sê sy onderlangs vir hom. “Wat is sy case?”
“Neiging na gespletenheid en fetisjisme,” sê Willie, “wreed teenoor sy ondergeskiktes; nederig teenoor sy meerderes. Uitwendige koelheid, inwendige branding. Oormatige seksuele fantasieë.”
Langsaan in die dameskroeg sing Pol: Die Lente Met Haar Towerstaf. Karolina drink whisky. Sy hou die spelers dop. Kieliemann is ’n venynige speler (dodelik akkurate oog); Frikkie Visser raak gou paniekerig; Duif Visagie se bewegings is ongekoördineer; Blaf Buytendach speel verbete en krampagtig (te gretig om te wen); Willie is indrukwekkend (om dié rede sal hulle waarskynlik sy teenwoordigheid hier duld, dink sy). Karolina hou van snoeker, maar moet nog heelwat leer.
Kort voor lank steek Pol sy otterkop by die deur in. Hy sien haar sit, glimlag innig, kom na haar aangeswem, glas in die hand, gaan sit langs haar op die bank. Hy kyk diep in haar oë met sy waterige blik, sy oë die kleur van moeraswater, die wit nie sigbaar nie. Hy gee ’n groot hitte af, soos stoom. Vee met ’n sakdoek die sweet van sy voorkop af. Saggies sing hy nog ’n paar laaste versreëls van Die Lente: “En waar haar voetjies saggies raak,” sing hy, “het grassies opgestaan, het grassies opgesta-haan.”
Hy bly stil, hou sy kop skuins om haar beter te betrag.
“Vertel my,” sê hy, “of jy nou al iets belangriks gevind het.”
“Nee,”