Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie страница 20

Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

Kobus.” Sy verdraai maar die waarheid so ’n bietjie sodat daar weer ’n bietjie sonskyn vir hom in hierdie dag kan wees. Alles is vandag teen hom, arme kind!

      “Moet ek na Bella toe gaan, juffrou? Ek is so bekommerd oor haar.”

      “Ja, Kobus, gaan gerus. Ek sal vir meneer Kruger sê as hy jou soek. Gebruik maar jou eie oordeel en help haar soveel jy kan. Jy weet mos wat om te doen. Ek sal verantwoordelikheid aanvaar vir wat daar gebeur.”

      “Baie dankie, juffrou.”

      “Niks te danke nie. Dit gaan jou ’n melkskommel kos. Ek sal dit nie vergeet nie.”

      Kobus glimlag breed en draf dan met lang treë af kraal toe.

      Kort voor middagete sien Annie die veearts se bakkie aangery kom. Dit draai sommer dadelik weg na die stalle toe.

      Aan die eettafel soek haar oë na Kobus, maar hy en Boef is nie daar nie. Sy sal graag wil weet wat sê die veearts van ou Bella. Bertus sê egter niks nie en sy wil hom ook nie vra nie.

      Meneer Van Tonder gesels aanmekaar oor mense wat Annie nie ken nie, en ná die ete stap hy en Bertus weer terug skool toe.

      Annie skep twee borde kos uit vir Kobus en Boef en gaan sit dit in die lou-oond in die kombuis. Sy gaan kry haar laphoedjie en stap dan af stalle toe. Kobus sit langs Bella en vryf liefderik oor die groot, bruin kop.

      “Hoe gaan dit hier?”

      Kobus kyk vinnig op en Annie kan sommer sien dat sy gedagtes nou baie ver weg was.

      “Wat sê die veearts, Kobus?”

      Kobus noem ’n geleerde naam en Annie skud laggend haar kop.

      “Ek het nie ’n idee waarvan jy praat nie. Is dit ernstig?”

      “Ja, dit kan wees as ’n mens dit nie gou keer nie, juffrou. Die veearts sê ons was darem betyds. Hy sê ons het die regte ding gedoen deur vir haar soutwater te gee. Dit het haar lewe gered.”

      Kobus lyk skaam maar ook ’n tikkie trots omdat hy reg opgetree het.

      “Wat het meneer Kruger gesê?” Annie kyk bekommerd na Kobus. Sy hoop tog nie Bertus Kruger het weer alles kom omkrap met sy buffelagtigheid nie.

      “Hy het niks gesê nie, juffrou. Hy het net verlig gelyk toe die veearts sê dat ons haar kan deurhaal.”

      “Waar is Boef?”

      “Hy is hier agter, juffrou. Hy het net gou die emmers gaan skrop wat ons vanoggend gebruik het.”

      “Ek het vir julle kos in die lou-oond gebêre. Gaan eet julle gou, ek sal solank hier sit. Is daar iets waarna ek moet oplet?”

      “Nee wat, juffrou. Sy is nou rustig. Die dokter het haar ’n inspuiting gegee. Sy moet vanaand weer medisyne inkry. Ek wil haar net nie alleen los nie . . .”

      “Nou toe, weg is julle!”

      “Dankie, juffrou.” Kobus rek sy lang liggaam uit. “Juffrou is dierbaar! Ek weet nie wat ek vandag sonder juffrou sou gedoen het nie.”

      “Nou vergroot jy darem ’n bietjie, Kobus.”

      “Nee, dis waar, juffrou. Vanoggend het juffrou my eers kom help met die klas se skoonmaak en toe het juffrou vir meneer gaan sê van ou Bella.”

      “Ek het gewonder hoe jy die klas so vinnig skoongemaak het.”

      Verskrik swaai hulle om en sien Bertus in die deur staan.

      Annie kyk vinnig van hom na Kobus en sy sien hoe die seun se gesig verstrak.

      Bertus sien dit ook en ’n diep skaamte oorweldig hom. Is hy werklik so ’n ondier? Hy weet tog dat Kobus nie moedswillig die goed gebreek het nie. Hy was sommer vanoggend weer vol duiwels. Die seun het vandag soveel inisiatief aan die dag gelê deur die koei te dokter en die veearts te laat roep.

      “Ek dink juffrou Delport is besig om julle klomp ramme vreeslik te bederf. Een van die dae sal sy wil hê julle moet gaan piekniek hou en al sulke dinge.”

      Annie kyk wantrouig na hom. Sou hy iets agtergekom het? Bertus se gesig is egter die ene onskuld.

      Sy lig haar ken en kyk hom waterpas in die oë.

      “Dis ’n baie goeie plan, meneer Kruger. Die lewe bestaan nie net uit werk nie. Hierdie seuns het ontspanning meer nodig as dissipline. Dit sal ’n gees van samehorigheid skep.”

      Iets soos ’n glimlag trek om Bertus se mond en hy draai na Kobus.

      “Gaan eet nou eers. Jou kos word koud.”

      “Dankie, meneer, maar kan ek nie eers net met meneer praat nie.”

      “Alleen?”

      “Wel . . . ja, meneer. Ek sal graag die ou sakie van vanoggend afgehandel wil hê. Ek . . . e . . . ek hou nie daarvan dat straf so lank uitgestel word nie.”

      Bertus kyk verbaas na Kobus. Die kinders het grootgeword. Kobus is ’n man! Hy sal glad nie verbaas wees as hierdie klomp groot seuns deur die bank ’n bietjie verlief op die juffrou is nie.

      “Wel! Ek dink ons moet maar daarvan vergeet. Jy het mos vergoed daarvoor. Die klas was skoon toe die inspekteur daar ingekom het en verder het jou optrede vandag ou Bella se lewe gered.”

      Annie sien die verbasing en ongeloof op Kobus se gesig en sy sluk aan die knop in haar keel.

      Bertus kyk geamuseerd na hulle. Dan buk hy oor ou Bella, skielik skaam dat hulle moet weet dat hy ook toegeeflik en gaaf kan wees.

      Kobus laat hom ook nie verder nooi nie. Hy knipoog vir Annie voordat hy fluit-fluit koshuis toe draf.

      Annie gaan sak aan die ander kant van die koei neer.

      “Arme ou Bella! Sy is darem nou rustig.” Sy is nie eens bewus daarvan dat dit die eerste keer is dat sy spontaan met hom gesels nie.

      “Ja, dis die verdowende inspuiting. Maar sy lyk goed. Dankie.”

      Annie kyk verbaas op in die ernstige, grysblou oë hier naby haar. ’n Snaakse weekheid kom sit in haar knieë.

      “Dankie? Waarvoor?”

      “Dat jy vanoggend vir Kobus so bygestaan het.”

      “Ag . . . dit! Dis niks nie, ek doen dit graag.”

      “Is alle vroue so?”

      “Hoe?” Annie lag verleë en haar neusie verkreukel in drie fyn plooitjies wat Bertus ’n paar oomblikke lank spra­ke­loos laat.

      “So . . . jammer vir die seuns! Jy was tog bang ek foeter dalk vir Kobus.”

      “Jy kan hom tog nie nou meer lyfstraf gee nie. Hy is groot – die vernedering sal vir hom blywend wees. En buitendien sou hy mos nie die bottels moedswillig afgestamp het nie. Kobus is ’n dierbare kind.”

      “Jy

Скачать книгу