Kopskoot. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Kopskoot - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

sien op sy rekenaarskerm Vula het pas ’n interne e-pos uitgestuur aan die sesduisend-agthonderd werknemers van Finco oor Mike se verskyning môre op die kassie. Hy glimlag tevrede. Dit gaan Frank Anderson in sy koffie laat stik.

      5

      Katrien staan terug en beskou haar handewerk. Ten spyte van haar aanvanklike weersin en steeds die vertwyfeling oor wat sy doen, moet sy erken dis ’n meesterstuk. Die sterk okerkleure afgewissel met grysblou, diepgroen en helderwit is haar gunstelingkleure. Ook die figure is tipies dié van Irma Stern. Elke kunskenner sal die skildery onmiddellik eien as dié van die Suid-Afrikaanse kunstenaar wie se werke tans die hoogste pryse op kunsveilings behaal.

      Sy weet nou Rocco het haar in ’n strik laat trap. Hulle het nie toevallig daardie aand oor Irma Stern begin gesels nie. Die gesprek so twee maande gelede oor ’n glas rooiwyn voor die kaggelvuur was met voorbedagte rade.

      “Sommige van Irma Stern se skilderye haal deesdae meer as twintig miljoen rand,” het hy gesê. “Ek wonder wat sy daarvan sou sê as sy nog gelewe het?”

      Katrien het gelag. “Sy sou dit self nie kon glo nie. Veral nie omdat sy bloot ’n nabootser van Duitse Ekspressioniste was nie. Sy was nooit regtig oorspronklik soos byvoorbeeld Walter Battiss en ’n klomp ander nie.”

      Sy wenkbroue het gelig. “Hoe kan jy só sê? Die kunskenners weet seker wat hulle doen. Battiss se skilderye haal nie naastenby daardie soort geld nie.”

      Met haar deeglike kunsopleiding en kennis van kunsgeskiedenis is dit ’n onderwerp waaroor sy passievol is, al is sy in die minderheid van kunskenners wat Stern se werk nie werklik hoog ag nie.

      “Stern het haar kunstande in Duitsland geslyp,” het sy verduidelik. “Daar het sy deurmekaar geraak met die Brücke-groep, wie se kunsbeweging later as Duitse Ekspressionisme gedoop is. Die meeste van haar skilderye trek maar sterk op hulle werk. Sy kon haar nooit losskeur van daardie styl nie. Die ooreenkoms is só groot dat jy op ’n uitstalling haar werk moeilik sal kan onderskei van die meeste van die Brücke-groep se kunstenaars.”

      Rocco het sy kop geskud. “Nou waarom haal haar skilderye dan sulke astronomiese pryse? Daar moet tog ’n rede wees.”

      “Dis ’n unieke styl vir ’n Suid-Afrikaner. Maggie Laubser het die naaste aan haar styl gekom en sy was ook deur Duitse Ekspressionisme beïnvloed. Maar min van hul skilderye het ’n ware en unieke Suid-Afrikaanse gevoel soos Battiss en Pierneef s’n.”

      “Hmmm … Daar’s ’n ander ding wat nie vir my sin maak nie. Ek het gelees Stern het in haar leeftyd nege en negentig uitstallings gehou, en op elke uitstalling was daar tussen tagtig en honderd skilderye. Blykbaar is dit aansienlik meer as wat enige ander Suid-Afrikaanse kunstenaar geproduseer het. As daar dan so baie van die goed is, sou mens mos dink die pryse sou juis laer wees!”

      Haar antwoord was so reg in sy kraal. “Jy ken nie die kunsmark en veral die veilinghuise nie. Veilinghuise bemark maar alte geesdriftig aan die waarde van ’n kunstenaar se werk as daar ’n oorvloed beskikbaar is, sonder om onderskeid te maak tussen goeie en swak werk. Hulle gryp gulsig na enige Stern wat uit een of ander stowwerige kelder kom. Nie een van die veilinghuise wil sien dat die Stern-soustrein ontspoor nie. En versamelaars word maar net te maklik aan die neus gelei. As die veilinghuise sê dis ’n goeie belegging, wil die superrykes ’n Stern bo hulle kaggels hang.”

      “Met ander woorde, as jy met jou ongelooflike talent ’n skildery in tipiese Stern-styl maak en haar naam onderaan teken, sal die veilinghuise op en af spring oor die kans om groot geld daarvoor te kry?”

      Sy het gelag. “Ja, as dit goed genoeg is, sal hulle. Elke skildery moet ook ’n geskiedenis hê. ’n Mens sal dit moet fabriseer om die skildery eg te laat lyk. Maar ja, dis moontlik … As jy natuurlik dink daar’s niks fout met bedrog nie.”

      “Ek dink nie só daaraan nie,” het hy geterg. “As ’n veilinghuis so ’n skildery eg verklaar, ís dit in die oë van die versamelaar eg. Dink net watter vreugde jy aan ’n versamelaar gaan verskaf met ’n groot, pragtige Stern-skildery. Niemand is in die proses seergemaak of doodgemaak nie, jy het eintlik net vreugde gebring. Nie net vir jouself met die geld wat jy daarvoor gekry het nie, maar ook vir die veilinghuis met die kommissie wat hulle verdien het, en natuurlik die meeste vir die versamelaar wat daarmee kan spog by sy vriende.”

      Sy het sy praatjies afgelag. Sy het nie gedink hy is ernstig nie en hulle het oor iets anders begin gesels. Maar hy het in die weke daarna heeltyd na hul gesprek verwys as “’n geleentheid wat ons dalk moet ondersoek”.

      Hy het vir haar ’n dokumentêre TV-program gewys oor kunskenners in Amerika wat dit onmoontlik gevind het om bekende kunstenaars se werke uit te ken tussen ’n klomp vervalsings. En haar vertel van die fout wat John Myatt, die grootste vervalser van die twintigste eeu, gemaak het. Saam met sy handelaar John Drewe het hy tweehonderd vervalste skilderye van onder meer Picasso, Monet en Chagall suksesvol by die bekendste kunshuise in die wêreld verkoop.

      “Maar toe het hulle gulsig geraak, want een of ander tyd sou iemand praat. Dit was uiteindelik Drewe se gewese vrou wat hulle verklap het.”

      Hy het nog talle ander gevallestudies van vervalsers uitgeryg en tóé eers het sy besef hy is doodernstig.

      Onder ander omstandighede sou sy haar nooit laat ompraat het vir so ’n bedrogspul nie. Maar met Rocco is dit anders. Haar liefde vir hom was uiteindelik sterker as haar beginsels en haar vrees vir vervolging. Hy was nog altyd net goed vir haar en sy is hom baie dank verskuldig. Hy het haar uit haar depressiewe sukkelbestaan gehaal en haar weer hoop vir die toekoms gegee.

      Tot voor sy hom ontmoet het, het sy ’n nagmerrie geleef. Haar huwelik was ’n klaaglike gemors, haar man ’n monster. Ná haar egskeiding het sy by haar pa gaan bly. Net tot sy die lewe weer in die oë kan kyk, het sy haar voorgeneem. Maar toe word haar pa met longkanker gediagnoseer. Die kanker het reeds na ander dele van sy liggaam versprei en vir drie lang jare moes sy hom versorg. Tussendeur het sy populêre skilderye van vissershuisies en veldblomme teen belaglike pryse uitgeryg om hulle twee aan die lewe te hou.

      Uit die bloute het haar pa kort voor sy dood daarop aangedring sy moet die Maashoff-broers in Kaapstad kontak omdat daar iets is wat hy hulle moet vertel voor hy in vrede kan sterf. Maar hy het volstrek geweier om vir haar te sê waaroor dit gaan.

      Sy het Bill Maashoff se telefoonnommer opgespoor en hom gebel. Hy het nie geïnteresseerd geklink in haar pa se storie nie. Sy kon hom nie daaroor verkwalik nie, haar pa was immers ’n wildvreemde vir hom. Maar nadat haar pa hom self gebel het, het die broers ingestem om Worcester toe te ry. En só het haar ridder op die toneel verskyn.

      Hoe het sy hom aan ’n vriendin op Worcester beskryf? “Swart hare, donker oë wat déúr jou kyk, sy gesig klassiek aantreklik … Hy’t nogal ’n verbasende ooreenkoms met Leonardo DiCaprio.”

      Katrien het sy aanbod aanvaar om vir ’n paar weke in sy huis te bly – nie net omdat sy onmiddellik aangetrokke tot hom was nie, maar omdat sy geen ander keuse gehad het nie. Sy was dakloos ná haar pa se dood.

      Rocco wou nooit vir haar sê waarom haar pa met hom en sy broer wou gesels nie. “Ag, dis ou vergete stories,” het hy dit keer op keer afgemaak. Sy het die gevoel gekry hy wil haar teen een of ander skandaal beskerm, ’n skandaal waarin haar pa sentraal gestaan het. Sy was in elk geval nie seker of sy wóú weet nie. Haar pa was haar held.

      Maar so ’n mens is Rocco, haar beskermengel. Hy is die teenpool van haar gewese man: interessant, gemoedelik, ondersteunend,

Скачать книгу