Kopskoot. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Kopskoot - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

stil! Ék doen die praatwerk. En ek is nie hier om iets te steel nie, ek is hier om jou kop weg te blaas.”

      Mostert se gesig verstar. “Waarom?” vra hy verslae.

      Hy vertel hom. Terwyl hy praat, stroom die trane oor Mostert se bolwange, veral toe hy hoor dat Giel Lourens reeds bokveld toe is. Hy merk op die man het homself natgemaak. Die urine slaan in ’n groot donker kol op sy grys broek uit.

      “Asseblief, asseblief, moenie my doodmaak nie!” begin die prokureur smeek. “Ons was nog jonk, ons het nie geweet wat ons doen nie. Ek het ’n vrou, lieflike kinders, ’n kleinkind is op pad. Ons is ’n hegte gesin.” En dan desperaat: “Ek sal jou betaal! Noem jou prys en ek betaal. Nóú, ek sal dit nóú elektronies vir jou oorbetaal! Ek sal jou nie by die polisie aangee nie, ek sweer …”

      “Bly stil!” skreeu hy. “Jy mors jou bleddie asem. Jy gaan my nie omkoop nie. En moenie jou fokken veragtelike daad probeer goedpraat nie!”

      Hy trek die sneller. Die skoot ruk Mostert agteroor, die stoel kantel van sy gewig en hy val met ’n dowwe slag op sy sy. Sy bril spat van sy gesig en breek in twee stukke teen die hoek van die lessenaar. Die bloed uit sy voorkop sprei uit in die vorm van ’n rooi blom op die liggrys tapyt. Die volgende skoot deurboor sy linkerslaap. Bloed boog die lug in en vlek sy wit hemp van onder die boordjie tot by die hempsak.

      Hy haal eers diep asem om sy sidderende lyf te stabiliseer. Sy hande is rukkerig toe hy die pistool terug in die holster druk. Hy kyk nie weer na die lyk nie, stap haastig terug na die voordeur, neem die knipbord en pakkie wat op die vloer lê en maak die deur oop met ’n sakdoek in sy hand. Hy volg dieselfde pad wat hy gekom het.

      Toe hy om die hoek stap om by die bakkie uit te kom, kom ’n motor in sy rigting aangery. Dis die grys Passat van die vrou wat vroeër die gebou verlaat het. Sy kyk vlugtig in sy rigting voor sy afdraai na die parkeerterrein.

      Vir ’n oomblik staan hy besluiteloos. Sy hart klop in sy keel. Moet hy teruggaan na die gebou? Te gevaarlik. Dan hardloop hy na die bakkie. Hy sukkel om die deur oop te sluit. Hy maak ’n U-draai in die pad en krap die ratte toe hy wegjaag.

      7

      Kassie grawe naarstig in sy klerekas op soek na sy dasse. Ná ’n gevroetel tussen ou onderbroeke, frokkies en ’n verflenterde ferweelbroek kom hy op die bondel dasse af. Hy onthou nou hy het dit ’n paar jaar gelede daar weggepak, ná speurders nie meer verplig was om dasse te dra nie.

      Hy gooi die dasse op sy bed neer. Een gly af en hy tel dit steunend op. Dis sy eerste das wat hy net ná skool gekoop het. Daar is olievlekke op die materiaal, ’n nalatenskap van die Vespa se alewige lekkasies. Merkwaardig dat ’n mens die vuil merke steeds so duidelik kan sien, dink hy. Hy slinger die das terug in die kas. Ook al amper twee en dertig jaar gelede wat hy daardie martellappie om sy nek gedra het. Hy is bly hulle dra nie meer dasse nie. Dit was net ’n nekbehangsel wat die bloedsomloop na jou kop belemmer het. En in Suid-Afrika se somers so onvanpas soos rissies in babakos. Deesdae dra hy net ’n das wanneer hy in die hof moet gaan getuig, en hy gebruik ook net die rooie wat vir dié doel agter die badkamerdeur hang. Dit pas by sy windjekker.

      Hy gaan sit op die bed en hou ’n dun bruin dassie tussen sy duim en wysvinger vas. In ’n stadium was dit sy gunstelingdas. Sy oë flits oor die hoop dasse. Hy tel die roomkleurige das op wat hy op sy troudag gedra het. Marietjie se ma het dit nog vir hom uitgesoek. Wat sou van Marietjie geword het? Vandat hulle amper drie en twintig jaar gelede geskei is, het hy heeltemal kontak met haar verloor. Die troudas herinner hom aan ’n borslap, ’n breë stuk materiaal wat in daardie dae bespotlik kort geknoop is. Gelukkig het die mode mettertyd verander. Nie dat dit juis deesdae ’n verskil maak nie. Al minder mense van sy ouderdom loop met dasse rond. Nie eers meer in die kerk nie. Hoe hou dasvervaardigers nog kop bo water? Al mense wat nog geld uit dasse maak, is oudrugbyspelers wat hul Springbokdasse opveil vir ’n ekstra pensioengeldjie.

      Hy kry die das waarna hy soek diep onder in die bondel. Dis erg gekreukel. Hy probeer dit op die bed platstryk met sy hande. Dit help nie, hy sal dit maar so moet dra. Dis ’n das van die Wes-Kaapse Filatelievereniging, die maroen een wat in die 1990’s gemaak is, net voor die huidige bloue. Hy het sy bloue iewers verlê by ’n filateliekongres in Johannesburg. Hoekom hulle by die Wes-Kaap se algemene jaarvergadering altyd meer formeel moet aantrek as by die ander vergaderings, weet hy nie. Maar as voorsitter sal hy seker die voorbeeld moet stel en ’n das dra.

      Sy selfoon begin lui. Hy sien op die skermpie dis kolonel Daniels. Hy sug. Dit kan nie goeie nuus wees nie.

      “Kassie, ek’t jou nodig,” knetter Daniels se stem soos ’n masjiengeweer in sy oor. “’n Moord hier naby die polisiestasie. Skaars ’n uur gelede. ’n Prokureur is in die kop geskiet. Morsfokkendood.” Hy gee die adres. “Ek sien jou binne ’n halfuur daar. Laat weet jy ook sommer vir Els.”

      Terwyl Kassie by die twee stelle trappe van die woonstelblok afhardloop, bel hy die ondervoorsitter van die filatelievereniging. Hy verduidelik die omstandighede, sê hy sal heel moontlik nie die vergadering kan bywoon nie. Hulle moet maar sonder hom voortgaan. ’n Polisieman het nie ’n lewe nie, wil hy byvoeg, maar bedink hom. Die Diens betaal immers sy salaris. Dan bel hy vir Els.

      Toe hy voor die prokureurskantore stilhou, is dit twintig oor ses. Twee polisievoertuie, Daniels se motor, ’n ou Passat en twee BMW’s staan in die parkeerterrein.

      Die voordeur van die gebou staan oop. Hy hoor gedempte stemme in ’n kantoor diep in die gang af. Toe hy daar instap, staan drie uniforms saam met Daniels, Da Silva van forensies, die polisiefotograaf Erasmus en ’n lang vreemdeling om die bebloede lyk. ’n Vrou sit in die hoek van die vertrek op die mat en snik. Sylvia Abrahams, een van die konstabels, onttrek haar uit die kring, stap na die vrou en sit haar hand vertroostend op haar skouer.

      “Kassie,” sê Daniels toe hy hom sien, “staan nader.” Hy wys na die lyk op die mat. “Twee kopskote.”

      Daniels stel Kassie voor aan die lang man. “Dis meneer Van den Heever, een van die vennote by die firma. Hy het ons gebel.” Hy beduie na die snikkende vrou. “Sy het op meneer Mostert afgekom en toe vir meneer Van den Heever gebel.”

      Kassie knik. Rooi Els het pas ingekom. Hy wink hom en die paar konstabels nader en sê sag: “Kyk julle solank waar die skieter in die gebou ingekom het.”

      “Ons het klaar buite rondgekyk,” sê een van die konstabels. “Geen vensters is gebreek nie. Daar’s buitendien diefwering.”

      “Reg, maar kyk ook binne, in elke kantoor. Kyk of daar oop kaste of laaie is, of die ou gekom het om te steel. En wees versigtig dat julle nie forensiese leidrade opdonner nie.”

      Kassie sluit weer by die kring aan. Daniels draai na Van den Heever. “Dalk moet jy en juffrou Brink solank in ’n ander kantoor gaan sit. Kaptein Kasselman sal netnou met julle praat.”

      Van den Heever, wasbleek, knik net en draai om na die vrou in die hoek.

      “Ek … ek sou eerder wou begin om met hulle te praat voor ek hier rondkyk,” sê Kassie.

      Daniels knik. “Jy’s die speurder, maak soos jy goed dink.”

      Toe Kassie agter die ander twee aan uit die kantoor stap, skud Daniels sy kop. Kaptein Kassie Kasselman doen dinge op die Kassie-manier, soos hulle altyd by die stasie onderlangs spot. Daar is die regte manier en dan is daar die Kassie-manier. Daniels moet toegee albei benaderings is seker doeltreffend, gegewe Kassie se uitstekende rekord as speurder.

      “Hy’t

Скачать книгу