Kopskoot. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kopskoot - Rudie van Rensburg страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Kopskoot - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

was die skok vir haar groot toe hy met sy plan vorendag kom. Maar haar weerstand het mettertyd verkrummel. Hy het alles so maklik laat klink, haar deurentyd verseker hy sal nooit hul toekoms verongeluk met ’n onbekookte plan nie. Hulle is nie besig met ’n misdaad nie, maar met ’n avontuur.

      Sy tel die kwas op en begin met die laaste afrondingshale aan die skildery.

      “Ontspan, Katrien, dis net ’n avontuur,” sê sy hardop vir haarself. Sy glimlag. Sy moet erken die idee om vir die res van haar lewe saam met Rocco in haar gunstelingland te bly, raak al aanlokliker.

      6

      Hy maak die Heckler & Koch skoon. Maar sy gedagtes is elders. Hy herkou aan die gebeure van die afgelope drie weke. Hy’t opgeneuk. Hy moes seker gemaak het die vrou is dood.

      Dit was Giel Lourens se sestigjarige suster, het hy in die koerant gelees. Van Welkom af met die trein vir haar broer in Kraaifontein kom kuier. Sy is gister uit die intensiewesorgeenheid oorgeplaas na ’n algemene saal in Tygerberghospitaal. Haar toestand is bevredigend, het ’n opvolgberig in Die Stem vanoggend verklaar.

      Sy vrese van vroeër weergalm weer in sy gemoed. Sy het hom gesien. Wel, nie veel van hom nie. Die pet en donkerbril sou dit moeilik maak om hom te beskryf. Tog is hy onrustig. Hy wou nie spore los nie. Hopelik kan sy nie veel onthou nie. Daar is geen beskrywing in die koerant van die aanvaller nie, ook nie ’n woord oor die voertuig nie. Blykbaar het die bure almal geslaap op die Sondagmiddag.

      Hy sug toe hy die olie en lappe in die kluis bêre. Hy het ook die pistool se sneller te gou getrek. Daaroor kruisig hy homself. Giel moes geweet het waarom hy met sy lewe moes boet. Dit sou soveel meer impak gehad het, en sy genoegdoening sou soveel groter gewees het. Maar hy was te gespanne. Vanmiddag sal hy nie dieselfde fout maak nie.

      As hy natuurlik ’n kans gaan kry om by die man uit te kom.

      Hy skud sy kop om die negatiewe gedagtes te verdryf. Daar is geen rede waarom die man nie dieselfde roetine sal volg as elke Dinsdag die afgelope drie weke nie. Die kantoorgebou is in ’n doodloopstraat en bykans heeltemal omring deur digte bosse. Hy kan die parkeerterrein sonder moeite uit sy skuilplek dophou. Gegrond op sy vorige waarnemings het hy presies ’n uur om sy taak uit te voer. Dis lank genoeg.

      Hy vertoef lank onder ’n koue stort, maar sweet binne ’n paar minute weer. Die humiditeit in die Kaapse somer is vanjaar hoog, dit herinner hom aan Durban se klimaat. Op die bed het hy sy klere en die Heckler & Koch netjies uitgelê. Hy trek ’n oefenbroekie en T-hemp aan, dan sy blou oorpakbroek en tekkies. Hy gord die holster op sy bors vas en laat gly die pistool daarin, die holster só ontwerp dat die lang snoet met die knaldemper gemaklik daarin pas. Sy oorpakbaadjie sit los genoeg om die knop van die wapen te verberg.

      Hy kyk op sy horlosie. Tien oor vier. Dis tyd om te ry. Hy neem sy pet en donkerbril van die laaikas in sy slaapkamer en stap deur die gang na die motorhuis. Saam met die bruinpapierpakkie en knipbord sit hy dit langs hom op die bakkie se passasiersitplek neer. Hy het die bakkie se enjin gister deeglik nagegaan en die romp onderom met modder bespat sodat die nommerplate onleesbaar is.

      Hy ry stadig deur die Kaapse middagverkeer. Gelukkig is die man se werkplek net om die draai van hom. Kort voor die Nuweland-swembad draai hy links en parkeer die bakkie onder die bome voor ’n woonhuis wat weens die digte tuinplante onsigbaar van die straat is. Hy wag ’n kwartier voor hy sy pet en donkerbril opsit, die pakkie en knipbord neem en uitklim.

      Dis net twintig treë voor hy afdraai in die doodloopstraat. Die juwelierswinkeltjie is reeds gesluit; ’n groot Closed-teken hang binne die deur. Hy het op sy vorige besoeke gesien die juwelier loop stiptelik om vieruur. Die Te huur-bord is steeds voor die leë kantore oorkant die straat. Daar is nie ’n siel in sig nie. Nogtans kyk hy vinnig rond voor hy inglip op die smal klippaadjie langs die juwelierswinkeltjie. Daar is ’n houtbank onder oorhangende boomtakke in die geplaveide agterplaas. Dit moes eers ’n woonhuis gewees het.

      Dis kwart voor vyf toe hy op die bank gaan sit. Van hier af het hy ’n uitstekende uitsig op die prokureurskantore van Mostert, Van den Heever & Wolmarans. Buiten die man se rooi BMW staan daar nog net drie ander motors op die parkeerterrein – die meeste werknemers ry halfvyf.

      Hy wag nie lank voor ’n gesette man met ’n klomp lêers onder die arm die gebou verlaat nie. Die man klim in ’n wit Mercedes en trek weg terwyl hy ’n sigaret aansteek. Kort op sy hakke kom ’n vrou uitgestap. Sy klim in ’n ou grys Passat. Om drie minute voor vyf stap ’n lang man uit; hy gesels op sy selfoon en lag luidrugtig. Hy klim in die blou BMW en sit nog ’n minuut lank in die motor en gesels voordat hy wegry. Nou staan net die rooi BMW onder die afdakke geparkeer.

      Hy het gewonder hoe hy toegang tot die kantore gaan kry, want die voordeur sluit outomaties wanneer iemand die gebou verlaat. Maar verlede Dinsdag het hy sy antwoord gekry. ’n Paneelwa van ’n bloemiste het om kwart oor vyf ingery gekom. Die afleweringsman, met ’n groot bos blomme in die hand, het die klokkie by die voordeur gedruk. Hy het met iemand oor ’n interkom gepraat. Kort daarna het ’n man die deur vir hom oopgemaak, die blomme by hom geneem en hom betaal.

      Om agt minute oor vyf klim hy oor die lae muurtjie tussen die juwelierswinkeltjie en die parkeerterrein. Hy stap met ’n gespanne lyf na die gebou, maar sy verstand is helder en sy sintuie skerp. Hy gaan nie weer opneuk nie.

      Sy hand bewe net liggies toe hy die klokkie met sy kneukel druk. Hy wag ’n minuut, wat soos ’n ewigheid voel, voor ’n manstem kortaf sê: “Ja?”

      Riaan Mostert.

      “Goeiemiddag,” sê hy, “ek is van die Hoofwegapteek. Ek het ’n pakkie wat ek moet aflewer vir meneer Van den Heever.”

      “Hy’s klaar huis toe,” sê Mostert ongeduldig.

      “Hy’t gesê hier sal iemand wees wat dit sal ontvang as ek laat is.”

      Mostert sug en mompel iets, sê dan: “Reg, ek kom.”

      Toe die deur oopswaai, lyk Mostert geïrriteerd. Sy breë voorkop is geplooi in ’n frons, sy gesig is effe rooi en sy losgetrekte das hang windskeef oor sy borskas. “Die mense moet ophou om hul goed ná vyf hier af te lewer, ek wérk,” sê hy. “Ek het jou voertuig nie gehoor nie?”

      Hy beduie in die rigting van die juwelierswinkel. “Ek het hier anderkant geparkeer. Ek was nie seker waar julle kantore is nie.”

      Mostert neem die pakkie by hom.

      “Meneer moet asseblief net hier teken,” sê hy en oorhandig die knipbord en pen.

      Toe Mostert klaar geteken het en opkyk, is dit vas in die bek van die Heckler & Koch. Sy mond val verbaas oop. “Wat de hel …?”

      “Steek jou hande in die lug en stap na jou kantoor toe.” Hy stamp die voordeur met sy elmboog toe om te sorg dat hy nie iewers vingerafdrukke los nie. “Toe, toe, kry jou gat in rat. En moenie iets probeer nie!”

      Hulle stap in ’n lang gang af. Mostert se kantoor is ruim. Agter sy lessenaar is ’n ingeboude boekrak met rye indrukwekkende regsboeke. Die talle geraamde sertifikate teen die mure bevestig sy hoë kwalifikasies. Gelukkig is die blinders voor die vensters toegetrek, onmoontlik vir iemand om van buite in te kyk.

      Hy beduie vir Mostert om in een van die besoekerstoele te sit. Hy gaan staan voor hom, die pistool ’n meter van die prokureur se voorkop.

      Mostert se oë is bultend en wit agter die dik brillense,

Скачать книгу