Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 25
“Ag magtig . . .” het hy net gesug, weer voor haar kom staan. “Dit het niks met liefde te doen nie! Dit sou verskriklik dom wees om maar voort te stoom terwyl ons nie weet of ek eers ’n bed sal kan koop as ons moet nie!”
“Dus is geld die kwessie?” was sy vinnig om die gapinkie te vat en hy het sy hande in die lug gegooi, sy asem met bolwange uitgeblaas.
“Jy verdraai als! Natuurlik is geld die groot kwessie hier, maar jy weet goed wat my standpunt oor seks is, Surita!”
“Nonsens,” het sy skielik kilkwaad gesê en voor hom kom staan. “Dis die natuurlikste ding op aarde. Dis soos kos. Jy het nie ’n standpunt daaroor of jy moet éét of nie, het jy?”
“Moenie laf wees nie, Surita! Lyk my jy leen jou oortjies uit vir mense wat die kan-nie-anders-nie-ideologie aanhang. Wel, daar is so iets soos wil-nie-anders-nie en ek verkies dit so. Trouens, ek begin dink ons probleem is dat ons nooit juis diep genoeg gesels nie!”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ek bedoel dat ons dalk nie heeltemal dieselfde vertrekpunt het nie,” het hy sag, meer genaakbaar geantwoord. “Daar is dinge waarin ek glo, meisie.”
“Maar ek ook!” het sy gedemp en na aan trane uitgeroep, “dis net dat . . .”
“Dat jy dit so effentjies wil wysig,” het hy opeens doodkalm gesê en haar versigtig nader getrek, want sy was baie bleek, haar hande saamgebal. So koppig, het hy gedink – en juis daarom weerloos. Sy wil my liggaamlik bind in die hoop dat ek sal toegee dat haar pa maar my studies kan betaal, vir my ’n kar kan koop, my klere voorsien en my lewe met die klein luukses vol maak. En kort voor lank sal ek Otto-eiendom wees. Ek sal nooit, ooit weer Pietman de Waal kan wees nie. Nie dié Pietman wat vry is om sy eie ding te doen nie.
Selfs met Surita se geurige sagtheid teenaan hom, het die gedagte hom geweldig beklem en hy het haar soetjies maak sit op die bank, haar stram hande oopgevou en oor die palms gestryk. “Luister nou mooi . . . ons het baie tyd. En nog baie om eers reg te maak in hierdie verhouding.” Hy het haar klein suggie geïgnoreer, aan haar ontspanne liggaam gesien dat hy veld wen. Dis miskien een van die redes waarom Surita Otto tog aan sy hart kan raak, het hy gedink. Sy luister wel na ’n man. Iewers in haar is daar ’n kern wat vatbaar is vir oortuiging ook. En as hy mooi werk met haar, sal hy haar later oorhaal om soos hy te dink. Want hy glo hy dink reg. “Luister,” het hy weer gesê en langs haar gaan sit, “ek het nou ’n probleem wat jy eers moet begryp. Ek is nie meer Pietman met die rooi sportmotor nie. Heng, ek het nie eens ’n hoender in die bank nie!”
“Maar jy wil nie toelaat . . .” het sy begin en hy het betyds drie vingers oor haar lippe gedruk.
“Nee, jy moet eers klaar hoor. Surita, ek en my ma is dakloos. As dit nie vir my oupa se barmhartigheid was nie, was ons op straat. Ek moet werk vir ’n lewe en geld leen by die bank. Verder moet ek swot dat die byle huil, want LL.B. is nie my idee van ’n grappie nie! Ek het nie eers deel gehad aan die Jool nie, want ek moes wérk!” Maar hy het gesien dat sy haar onttrek. Haar oë het soos altyd wanneer sy belangstelling verloor, skoon verby hom gekyk en hy het die moegheid van vroeër die aand in hom voel opstu. Die moedeloosheid ook. Toe het hy sommer spontaan oor iets anders gepraat. Iets wat hy buitendien al eerder moes aangeraak het, het hy feitlik dadelik besef.
“Ons het twee loseerders,” het hy begin en skielik nie die moed gehad om meer te sê nie.
“Loséérders . . .?” het sy verstom gevra – so asof dit ’n sinoniem vir fossiele of krygsgevangenes is. “Waar op aarde kom julle aan hulle?”
“Een van hulle is Keppie. Hy’t toe nie deurgekom nie en swot nou onderwys op die PUK.”
Sy het gesnuif-lag. “Hoe absoluut kleinburgerlik! Maar miskien is dit die regte ding vir Keppie!”
Pietman was op die plek vuurwarm vies. “Dit is beslis, ja. En ek het nog iets wat ek jou van Keppie kan vertel!”
In ’n stroom woorde het hy alles uitgepak. Van Keppie die rykmanseun wat om een of ander rede, dalk omdat daar te veel druk op hom geplaas word, verkies om sy ouerhuis te ontglip wanneer hy kan. En ook van Keppie wat al agter hulle twee aan deur Frankryk gereis het bloot omdat dit hom vermaak het. Wat, let wel, ryk genoeg is om te maak net wat hy wil, wanneer hy wil, hóé hy wil.
Vir een maal het Pietman Surita se onverdeelde aandag gehad toe hy van Keppie Fourie praat. Sy was amper sprakeloos.
“En hy swot onderwys?”
“Ditsem. En hy gaan ’n goeie onnie wees.”
Sy het ’n rukkie lank roerloos gesit en toe met ’n onseker trekkie om die mond na hom gedraai. “Pietman, moet nou nie weer dadelik kwaad word nie. Maar as jy dan nie by my pa wil geld leen nie, waarom leen jy nie by Keppie nie?”
Hy het tot by drie getel en toe met geslote oë teruggeleun, sy hande agter sy kop saamgevat. “Geld, geld, géld!” het hy gesê. “Jy dink ’n mens kan net mooi alles daarmee toesmeer. My hemel, Surita,” en hy het weer orent gekom, sy vingers inmekaar gestrengel. “Jy móét nou net verstaan dat ’n mens jou selfrespek nie met silwer kan salf nie. Dis . . . dis soos tiendes wat jy na die skatkis bring en dit ingooi sonder om ooit weer aan die armes te dink! Alles en almal kan maar vergaan solank jy net jou geldjies gebring het! Wel, ek kan nie maar net alles gou-gou herstel deur by al die ryk mense te leen en woerts-warts my lewetjie reg te ruk nie! Dis nie hoe ék dinge doen nie!”
“Jy sal ten minste minder bankrot wees!” het sy ergerlik gesê, maar haar hande opgehou ter wille van die vrede. Die gebaartjie het Pietman laat bedaar voordat hy weer wou lostrek, maar hy het tog geweet – alles moes vanaand gesê word. En hy het die kans gevat.
“Ons De Waals het ander maniere om minder bankrot te word. Ons werk en ons neem loseerders in. Terloops, die ander een wat by ons bly, is ene Yental Niklaus.”
Daar was ’n bom van stilte. En toe het hy gehoor hoe sy haar asem deur haar tande insuig. “Terlóóps, sê jy? Hoe de joos het dit gebeur?” Hy het nog verduidelik dat sy nie plek gehad het elders nie en nou is dit tog werklik nie nodig dat sy ánder plek moet kry nie, toe vlieg Surita op en bly snaargespanne voor hom staan: “Yental Niklaus? Die grootste flerrie op die dorp wat tegelyk drie ouens aan ’n lyntjie gehou het en jy kom sê vir my sy woon saam met jou onder een dak?”
“Ek sien haar skaars!” het Pietman probeer keer. “Sy swot en ek werk én swot en . . . Ag my magtig, Surita, moenie belaglik wees nie!”
Sy het haar hare met albei hande uit haar gesig gevee, haar mond saamgepers. “Wel, dis immers nou duidelik waarom ék nie juis in tel is nie! Yental, wat ’n dokter en twee jong boere agter haar laat aandraf het, het nou ook vir jou aan ’n leiband beet!”
Dit was die heel laaste strooi.
“Jy is nie net belaglik nie, jy is heeltemal buite perke,” het Pietman kil gesê en toe, asof daar nie reeds dinge gesê is wat kontinente kon laat skeur nie, het die een woord op die ander gevolg. Hittige, ondeurdagte dinge is in koel, afgemete stemtone gesê totdat hulle opeens stom van skrik na mekaar bly staar het. Toe het Surita omgevlieg en die deur vir hom oopgehou.
“Loop liewer,” het sy sag gesnou en hy het verby haar gedruk, sy goed in die gastekamer loop haal en in die kombi geklim. Halfpad terug Potch toe het die slegvoel hom ingehaal.