Helene de Kock Omnibus 4. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 4 - Helene de Kock страница 24
Pietman se mond val oop. “Julle konkel agter my rug! Wat is daar nóg waarvan ek nie weet nie?”
“Net dat ek en Keppie vir jou ’n afspraak gereël het met die primaria van Wag-’n-Bietjie. Sy’t jou nou die dag op die kampus sien loop en toe raak haar knieë lam en toe kry ons haar jammer!”
Pietman voel hoe sy oë oopsper. “Ek is ’n beloofde man, onthou!”
“Beloofde?” lag Yental. “Eerder beroofde, sou ek sê. Jy lyk soos iemand wat baie gemis het in die lewe!”
Daar is ’n geskater in die kring rondom hulle. Dat Yental Niklaus en Keppie Fourie al ’n stewige klompie bewonderaars in dié geledere het, is duidelik. Pietman besluit om te kapituleer en lag maar saam. Daar is gewigtiger dinge om hom aan te steur as dié twee se speelse manipulasie.
Die res van die nanag word saam met potte koffie opgedrink en die beskuitblik raak dolleeg. Keppie beloof om dit die volgende dag weer aan te vul met sy stiefma se skoubeskuit (glo een van haar min deugde) – en kort na dagbreek sluip die klomp uit om nog ’n uurtjie te loop slaap voor die klasse begin.
“Nie óns nie!” beduie Yental, en hou aan Pietman se mou vas toe hy kamer se kant toe wil staan. “Jy moet my gou help met Inleiding tot die Reg. Die Latynse terme maak my deurmekaar.”
Pietman bly gelate langs die kombuistafel staan en sy bring haar boeke, maak nog twee bekers koffie. “Wat,” vra sy en keer ’n gaap met haar handpalm weg, “is die eintlike verskil tussen die lex lata en die lex ferenda . . .?”
Hy neem ’n sluk warm koffie, vee ’n slag oor sy oë en buk by haar om te begin verduidelik. Maar hy moet sy kop bymekaarhou. Behalwe dat hy smorend vaak is, is daar nog iets anders ook. Haar hare dra die geur van rose en daar waar sy die lang stringe uit haar nek gevee het, is haar vel roomsag. As hy daaraan sou raak, sal dit voel soos daardie syjapon van sy ma waaraan hy altyd so graag gevat het toe hy klein was . . . Hy sluk weer aan die koffie en voel hoedat die brandwarm vog van bo in sy keel tot in die kom van sy liggaam afgaan. Hel, dink hy – en praat kopstukke oor die skeiding van reg en moraliteit – ek is ’n regte skurk. Of dalk is ek ook net ’n goeie akteur soos ou Keppie. Miskien moet regsmense ook kan toneelspeel. Want hier staan ek doodkoel en regsprake lewer – dit terwyl die mansmens wat ek is, dié mooi vroumens wil gryp en soen totdat sy om genade smeek. Erger: die sondaar binne-in die mansmens wil sommer maak en breek. En of dit nou Surita of Yental is, maak nie saak nie . . .
Pietman tree effe terug, kyk na die meisiekind se brose nek soos wat sy geboë oor die boek sit en slaan sy oë op plafon toe. Wát is dit met my? wonder hy ontstig. Is alle mense dan soos daardie Russiese poppies – daar is altyd nog een binne-in versteek? Want daar is skielik ’n hele paar Pietmanne. Die een wat weet wat reg is en die ander een wat nie lus het om te weet nie; nóg een wat diep omgee vir Surita en ’n ander wat wens sy wil verdwyn sodat hy kan . . . Wát?! vra hy homself af. Wát???
“Wassit?” vra Yental en toe hy afkyk, sien hy dat sy oopmond na hom sit en staar, die werk vergete.
“Luister,” sê hy kwaai, “vat jou boek en loop leer. Inleiding tot die Reg is een van daai soort vakke. Daar’s niks te verduidelik nie. Jy moet dit net swot! “
Sy kyk na hom met daardie onbeskroomde bruin blik van haar. Toe maak sy die boek suutjies toe en sê bedees: “Oukei.”
9
Die naweek het uit die staanspoor skeef begin. Want halfpad Brits toe het die geel kombi se agterband begin flap-flap en Pietman moes in gietende reën stilhou om wiele om te ruil. Teen die tyd dat hy eindelik by Goue Kring se hek ingedraai het en die opstal se liggies sien wink, was dit al laataand. Te laat vir aandete – en die Otto’s hou van stiptheid.
“Ag áárde, Pietman!” het Mariaan Otto uitgeroep toe sy die deur vir hom oopmaak en hy het terstond geweet dat sy net sy sliertnat hare en modderbesmeerde T-hemp raak sien. Dat dit dalkies die tekens van teëspoed kon wees, het haar sweerlik ontgaan. Sy het vieserig tru gestaan sodat hy kon inkom en hom trapop beduie, skrillerig na Surita geroep om te kom help kompleet asof dit ’n noodgeval was. Dié het vervaard saam met haar pa uit die studeerkamer gestorm en wou-wou hom om die hals val toe haar pa haar aan die arm beetkry.
“Ons dag jy het verdwaal!” het die man nog ’n stekelrige grappie probeer maak.
“Wiel was pap,” het Pietman net geantwoord, die moegheid in sy arms en bene voel klop.
“Kombi s’n?” En toe hy knik net nog ’n skoot van Saul Otto se misplaaste humor: “Wys jou net! ’n Grootman moenie meer met sulke regop karretjies speel nie! ’n Betroubare motor is jou voorland!”
Maar Pietman het die moegheid voel oorneem. Hy moes hom juis hierdie week disnis werk om genoeg petrolgeld bymekaar te skraap vir dié trippie en hy was niks lus vir twak nie. Daarom het hy die man net van onder sy sopnat kuif bekyk en skeefweg geglimlag: “Ek het ’n goeie fiets, meneer Otto!”
Saul het hom ’n paar oomblikke niksseggend staan en aankyk en toe omgeswaai om die studeerkamerdeur agter hom liggies toe te klap: Dis toe dat Pietman geweet het: Die Otto’s was oorgehaal vir hom. Hul kapasiteit vir verdraagsaamheid het sy vlak bodempie bereik. En as hul mooi dogter nie die man tot ander insigte kon laat kom nie, sou Saul en Mariaan dit vir haar doen. Die gedagte het hom op die plek roekeloos vies gemaak. “Waar kan ons gesels?” wou hy koud weet.
“Wil jy nie eers gaan was nie?” wou Surita half senuagtig weet en haar oë het hom gesmeek. Net ter wille van haar smagting na soete vrede het hy gou trapop gegaan, sy gesig, arms en hande gewas en sy kuif ’n vegie gegee, ’n skoon hemp en broek aangetrek. Toe hy weer onder kom, kry hy haar in die woonkamer en haar ma is nêrens te sien nie. Daar het ’n skinkbord met papierdun toebroodjies en koffie opgedaag en hy het in stilte geëet. Sy het nader gekom om by hom op die bank te sit en toe sy sy huiwering merk, gerusstellend geglimlag: “Toe maar, hulle het gaan slaap. My ma reken ons moet self die probleem oplos. Daarvoor is daar vannag mos baie tyd.”
Maar hy het swyend eers saam met haar koffie gedrink, opeens gevoel hoe die behaaglikheid van kos en drank sy binneste warm maak. Hy was nie lus om te baklei nie. En hy sou móés. Al genade was om die saak tot op die been oop te kloof.
Hy het sy mond oopgemaak om die inleiding tot die rede te lewer toe sy oog die mooi lyn van haar kuit vang. Hy het asem opgehou en sy blik het vanself opgegly tot daar waar die minirompie net-net toemaak. “Jy ontstig my,” het hy toe geglimlag en die ys voel breek. Want hy was al klaar minder vies vir die Otto’s en sy het selfversekerd nader geskuif tot teenaan hom. Dit was dáárdie “move” van haar wat die hele proses van regstellende aksie vertraag het. Toe hy sy arms om haar skuif en haar mond onder syne voel, het hy teruggeglip in die rol van Pietman-met-die-Mêrs. Sy probleme het weggesmelt soos wat die bloed in sy are gebrand het en dit sou die maklikste ding ter wêreld gewees het om hom net oor te gee aan die lekkerte. Baie ander ouens sou nie eers daaroor dink nie, het hy homself wysgemaak. Toe sy opeens met loom oë na hom opkyk en hy merk dat die mini’tjie opgeskuif het tot waar daar ’n strokie spierwit kant uitsteek, het ’n soet skrik hom laat bewe en hy het abrup weggeskuif. ’n Oomblik lank het hy geen gedagtes gehad nie; net die helder wete dat hy op ’n drumpel staan. Miskien was dit die feit dat hy nie so bedrewe was met hierdie dinge as wat hy gemeen het hy sou wees nie. Dalk was dit omdat sy kop tog weer begin werk het en hy uit die bloute oupa Murray se woorde van anderdag in sy ore hoor klink het – iets van ’n mens wat moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Vir ’n bisarre oomblik het hy gewonder presies watter vers in Filippense dié boodskap