Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 4

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

gereg is nou voltallig en die sersant tree tussenbeide. Hy tel tot by drie. Op die derde telling spring hy en die konstabels vasberade vorentoe en kry die donkie om die nek beet. Hierdie vasberade optrede van die Suid-Afrikaanse Polisie sou indrukwekkend gewees het as Ou Langoor nog wild en gevaarlik geskop het, maar hy het intussen besluit dat hy nou vir almal gewys het wat daar in hom steek wanneer hy moeilik word. Hy is nou moeg vir hierdie affêre. Hy staan mak en gedwee en laat die polisie se bespringing ietwat belaglik lyk.

      Die gevaar is verby en almal help om Dawie los te maak. Hy is asvaal.

      “Al my binnegoed het uitgeskud,” kla hy.

      Sy ma het intussen, danksy ’n emmer water wat oor haar uitgegooi is, haar bewussyn herwin. Sy sit by Dawie. Hy lê met sy kop op haar skoot.

      “Eina au,” mompel Dawie. “My lyf is seer …”

      Die omstanders kry mevrou Theron en haar seun jammer. Almal kyk kwaai na Trompie en Rooie en Blikkies waar hulle verslae eenkant staan.

      “Dit lyk nie of ons baie gewild is hier nie,” brom Trompie. “Kom ons verdamp.”

      Hulle wil hulle net uit die voete maak toe die sersant bulder: “Haai, waar dink julle gaan julle heen?”

      “Ons gaan net ons klere haal, oom,” sê Trompie skrikkerig.

      “Wat het julle aangevang?” wil die sersant weet en hy haal ’n sakboekie en pen uit sy sak.

      Trompie verduidelik vinnig dat hulle niks verkeerds gedoen nie. Dawie was heeltemal gewillig dat hulle hom op die donkie moet vasmaak.

      Dawie sit nou regop en beaam alles wat Trompie sê.

      “Dis nie hulle skuld nie, Ma. Hulle het niks gedoen nie …”

      “Ek is nou van een ding oortuig,” sê mevrou Theron beslis. “Jy gaan nie by daardie barbaar bly nie. Jy gaan koshuis toe!”

      Ná ’n dreigement dat hulle lewendig afgeslag gaan word as hulle ooit weer sulke moleste aanvang, gee die sersant die drie verskrikte seuns toestemming om te gaan. Hy sit sy sakboekie en pen weg. Hy gaan nie ’n klag teen Trompie, Rooie en Blikkies aanhangig maak nie.

      Die drie seuns maak vinnig spore – en ou Langoor ook! Dit lyk asof hy van hulle hou – of miskien is hulle die enigste bekende gesigte tussen al hierdie vreemde mense. Die dier stap gedwee agter die seuns aan.

      By die dam trek Trompie-hulle vinnig aan. Die donkie begin weer rustig wei.

      “Ek’s skrikkerig om Dawie se klere vir hom te vat,” sê Trompie. “Doen jy dit, Rooie.”

      “Orraait,” sê Rooie, “maar ek is ook bang vir sy ma. Ek sal die goed sommer by sy kamervenster ingooi en dan padgee.”

      “Ook maar goed ons het eers ons broeke aangetrek voor ons die donkie bygedam het, anders sou dit vir jou ’n affêre gewees het, hoor!” sê Blikkies wat nou weer rustig aan ’n grashalmpie kou.

      “Dan sou Dawie se ma nóú nog flou gewees het,” brom Trompie.

      Rooie en Blikkies dink hieroor na en verseker hom dat Dawie se ma nie net vir ’n uur nie, maar minstens twee volle ure lank flou sou gewees het as haar seun kaal was. Trompie meen dit is darem te lank. Dan kom die drie ooreen dat Dawie se ma vir ’n uur en ’n half buite weste sou gewees het.

      Dawie se lot is nou verseël. Hy gaan vir die eerste kwartaal koshuis toe. Dis verseker.

      “En ons het nie eers iets verkeerds gedoen nie,” mompel Trompie terwyl hy na ’n graspol skop.

      “Dawie gaan môre pimpel en pers wees,” meen Rooie.

      “Hoekom het die donkie so uit die bloute sulke streke begin uithaal?” wonder Blikkies terwyl hy sy grashalmpie lui van die een kies na die ander versit.

      Almal dink hieroor na en dan sê Trompie uiteindelik asof hy alles van sulke dinge af weet: “Ja-nee, ouens, ek het julle mos gesê – ’n donkie is ’n wonderlike ding.”

krag.jpg

      2

      Die einde van die Boksombende?

      Die lang somervakansie is iets van die verlede.

      Dit is die eerste dag van die eerste kwartaal. Trompie, Rooie en Blikkies ry mismoedig op hul rooi geverfde fietse skool toe. Dawie is nie by hulle nie. Hy is mos nou ’n koshuisbobbejaan.

      Dawie se ma het Trompie se ma ná die voorval met die donkie gaan spreek. Sy het haar bedank vir die aanbod dat Dawie by hulle kan bly, maar gesê sy voel dit sal in die omstandighede beter wees as sy haar seun in die koshuis plaas. Hoewel sy dit nie met soveel woorde gesê het nie, het sy mevrou Toerien duidelik laat verstaan dat Trompie nie ’n goeie invloed op haar Dawie het nie.

      Trompie se ma was kil. Sy het by haar vriendinne gehoor mevrou Theron noem haar seun ’n barbaar.

      Die res van die Boksombende het Dawie die afgelope paar dae maar min gesien. Arme Dawie moes sy ouers help met die inpakkery en hy is gistermiddag koshuis toe.

      Trompie se pet sit skeef op sy kop en al is dit nog vroeg in die oggend hang sy hemp al klaar by sy broek uit. Daar is ’n frons op sy sproetgesig terwyl hy langs sy twee maats skool toe ry. Hy kyk ingedagte hoe sy fiets se voorwiel om en om draai.

      Rooie ry langs Trompie. Sy hare is ongekam en hy is kaalvoet. Hy voel hoe die skurwe pedale sy voete kielie wanneer hy trap en hy hou daarvan. Maar dit is al waarvan hy vanmôre hou. Rooie is ook terneergedruk.

      Langs Rooie ry Blikkies. Hy kou aan ’n grashalmpie en gee ’n lang, droewige sug.

      “Dis hoe ek ook voel,” sê Trompie.

      “En ek ook,” mompel Rooie.

      Hulle is so mismoedig omdat die skooljaar vandag begin én omdat Dawie nie by hulle is nie. Hulle wonder al drie hoe hy in die koshuis regkom.

      “Ons moet partykeer vir Dawie gaan kuier,” sê Trompie, “want hy sal maar min vir óns kan kom kuier. Die ouens leer mos dag en nag daar in die koshuis en hulle’t allerhande reëls en regulasies en simpel goeters …”

      “Tjips!” sê Rooie.

      Die sersant kom om die hoek van die straat aangestap. Trompie ry vinnig voor, Blikkies agter hom en dan kom Rooie. Die sersant het hulle al eenkeer gewaarsku dat hulle nie langs mekaar mag ry nie.

      Hulle ry nou mooi stadig en netjies agter mekaar. Hulle kom by die sersant wat hulle agterdogtig aankyk en Trompie sê vriendelik: “Môre, oom.”

      Blikkies verplaas die grashalmpie na sy een kies en sê ook beleefd: “Môre, oom.”

      Rooie brom binnensmonds: “Môre, oom.”

      Die sersant knik streng met sy kop, maar toe die seuns verby is, glimlag hy. Dié Trompie en sy maats! Hulle is vier lewenslustige karnallies

Скачать книгу