Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 5

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

by die polisiestasie se hekkie in is, en die seuns ry weer langs mekaar.

      By die skool wemel dit van kinders op die speelterrein. Almal groet Trompie en sy maats. Daar is ’n oorverdowende lawaai, gekskeerdery en geskree.

      Uiteindelik kry Trompie-hulle hul fietse neergesit. Rooie en Blikkies gesels met ’n klomp klasmaats. Trompie stap oor die skoolgrond. Hy gaan kyk of die koshuiskinders al gekom het.

      Skielik staan daar ’n meisie voor hom. Hy kyk effens verbaas na haar en dan sê hy: “Jissie, Katrien, is dit jy? Ek het jou amper nie herken nie.”

      Katrien woon langs Trompie-hulle. Sy was die hele vakansie saam met haar ouers by die see en het die vorige nag laat eers teruggekom.

      “Hoekom het jy my nie herken nie?” vra sy vir Trompie.

      “Jou vlegsels,” sê hy. “Waar’s hulle?”

      “Ek het hulle afgesny.”

      Trompie kyk aandagtig na die glimlaggende meisie. Sy het ook nie meer so baie sproete soos gewoonlik nie. Sy lyk ook nie meer so skaam soos altyd nie; dit is asof sy baie meer selfvertroue het. Ja-nee, besluit Trompie, Katrien lyk glad nie meer so onaardig soos verlede jaar nie.

      “Het jy lekker vakansie gehou?” vra Trompie vriendelik.

      “Baie lekker, dankie. Ek het baie nuwe maats by die see ontmoet – meisies én ouens.”

      “Jissie, nè?” Trompie weet nie juis wat anders om te sê nie. Hy wens sy wil nou loop. Hy wil mos na Dawie gaan soek.

      “Trompie, daar’s iets waaroor ek met jou wil gesels.”

      “Ja?” Trompie kyk haar agterdogtig aan.

      Op laerskool was hy en sy maats eendag soos gewoonlik platsak. Toe bied hulle aan om Katrien ’n halwe lid van die Boksombende te maak as sy hulle ’n paar rand daarvoor betaal. Sy het dit gedoen en Trompie, Rooie, Dawie en Blikkies het lekkers met die geld gaan koop.

      Maar nadat hulle alles verslind het, het hulle skoon vergeet om Katrien ooit na hul vergaderings te nooi en sy het nooit enige waarde vir haar geld gekry nie.

      “Dink jy ook waaraan ek dink, Trompie?”

      “Waaraan dink jy?” Hy is nou nog agterdogtiger.

      “Aan hoe jy, Rooie, Blikkies en Dawie my ingeloop het.”

      “Ons het nie …”

      “Julle hét!” sê Katrien skerp.

      Trompie kyk haar verbaas aan. Sy was altyd so saggeaard.

      “Wat gaan met jou aan?”

      “Niks. Ek weet nou net baie meer as voor ek met vakansie weg is. Ek wil nie meer ’n kastige halwe lid van die Boksombende wees nie. Ek het my geld betaal, maar niks in ruil daarvoor gekry nie. So nou wil ek my geld terughê, verstaan?”

      Trompie knik, maar hy kan nie begryp hoekom sy so omgekrap is nie. Dit lyk of die vakansie haar glad nie goed gedoen het nie.

      Maar Katrien is nog nie klaar met hom nie.

      “En moenie ooit weer kom vra ek moet jou met huiswerk help nie!” vervolg sy bitsig. “Jy’t laas jaar heeltyd na my toe gehardloop as jy in die moeilikheid is, maar toe die skoolfunksie kom, was ek nie goed genoeg nie! Toe vra jy mos vir Lucille! Wel, vra haar nou maar om ’n halwe lid van jou kastige wonderlike bende te wees. Ek wil my geld terughê – en ek gee jou en jou maats net ’n dag tyd!”

      Katrien swaai vinnig om en stap weg. Jissie, dink Trompie. Die meisiekind is omgekrap. Ja-nee, die vakansie het haar beslis nie goed gedoen nie. Meisies is darem maar snaakse goed. Wat het die feit dat hy Lucille skoolfunksie toe gevat het te doen met die geld wat Katrien betaal het om ’n halwe lid van die Boksombende te word?

      Trompie weet hy en sy maats is almal platsak. Maar hulle sal vinnig ’n plan moet maak. Hy sal met die ander oor hierdie krisis moet praat. Hy staan by Rooie en Blikkies. Almal kyk hoe die koshuiskinders by die hek inkom. Hulle moet altyd in ’n groep van drie rye van die koshuis af skool toe stap.

      Die dorpseuns maak aanmerkings oor die koshuisbobbejane. Die koshuisseuns noem hulle weer “dorpsjapies”.

      “Daar’s Dawie!” sê Trompie verlig. Die drie maats kyk hoe loop hy gedwee saam met die ander.

      “Hy lyk soos ’n lam wat slagpale toe gelei word,” sê Trompie. Dan voeg hy vies by: “Hoekom was ons so simpel om op die dekselse donkie te probeer ry?”

      “Dit was nie die probleem nie,” sê Blikkies droogweg. “Die nonsens het begin toe ons Dawie op sy rug vasgemaak het.”

      Die koshuisseuns verdaag en begin hul maats groet.

      Trompie, Rooie en Blikkies is by Dawie. Hy is baie mismoedig. Hy vertel vir hulle dis net reëls en klokke en klokke en reëls. “Ek weet nog nie eers wat presies al die goed beteken nie,” sê Dawie mismoedig. “Die prefekte sê hulle sal ons later leer. Hulle doop ons eers klaar.”

      “Wat doen hulle aan jou?” vra Trompie.

      “Soos ek hier staan,” sê Dawie dramaties, “sien julle ’n ou wat laas nag omtrent niks geslaap het nie. Die prefekte het amper heelnag deur met ons nuwe koshuisouens gesukkel. Ons moes die simpelste liedjies sing …”

      “Watse liedjies?” wil Trompie weet. Dawie kan mos nie sing nie.

      “Sulke ou goed. Soos ‘Sarie Marais’ en ‘Siembamba’ en so.”

      “Dis gelukkig maklik.”

      “Dis wat jy dink. Ek moes ‘Sarie Marais’ op ‘Siembamba’ se wysie sing!”

      Dawie se drie maats kry hom baie jammer. Dit kon nie maklik gewees het nie.

      “En toe ons uiteindelik slaap,” vertel Dawie gegrief verder, “word ons skielik weer wakker gemaak. Toe moet ons almal gaan bad en ons Sondagklere aantrek sodat ons stasie toe kan gaan om ’n baie belangrike persoon te ontmoet. En weet julle ouens wat gebeur tóé?”

      Hulle verseker Dawie hulle het nie die vaagste benul nie.

      “Wel, ons was almal uiteindelik aangetrek – party van ons moes eers ons skoene politoer – en toe ons in ’n lang ry voor die koshuis inval, toe sê een van die prefekte ewe koel en kalm dat ons darem ’n klomp skape is. Daar ry mos nie in die middel van die nag ’n trein deur Kwaggaberg nie! Almal het heerlik gelag. Behalwe ons klomp skape natuurlik. Ek dink nog steeds dit was ’n goor grappie.”

      Trompie, Blikkies en Rooie simpatiseer met Dawie. Hulle verseker hom hulle dink ook nie dit is snaaks nie.

      Terwyl die vier maats na hul ry toe stap, stel Trompie hulle in kennis dat hulle die middag net ná skool by die fort moet wees vir ’n amptelike vergadering. “Dis ’n ernstige saak,” sê hy. “Iets wat ons sakke raak.”

      Hulle is nuuskierig om te weet wat Trompie wil bespreek, maar besef dit sal nie help om hom nou te vra nie. Hulle ken hom te

Скачать книгу