Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 7

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

weer onder sy ken en staar kastig diep ingedagte voor hom uit. Hulle moet besef hy is ’n ernstige denker – hy dink nou sommer oor groot goed na.

      Hy loer onderlangs om te sien watter indruk hierdie houding op hulle maak. Dit lyk egter nie of dit baie geslaag is nie. As dit nie vir Blikkies se bewegende kake was nie sou ’n mens kon dink hy slaap. Rooie probeer nog steeds om elke toon afsonderlik van die ander te roer. Dawie kielie vir Boesman.

      Trompie staan op. Hy maak keel skoon. Dan sê hy: “Is almal hier?”

      Hulle verseker hom al die Boksombende se lede – al vier van hulle – is teenwoordig. Trompie sien so, maar hy tel hulle nogtans sedig! Alles moet mos stiptelik en volgens die regte prosedure geskied.

      So ja, hy is tevrede. Almal is teenwoordig. Hy lek aan die kort potloodpuntjie en dan skryf hy – sy tong steek effens uit – in die sakboekie dat die Boksombende se lede almal by hierdie belangrike vergadering teenwoordig is.

      Trompie staan op sy tone. Dit moet hom langer en belangriker laat lyk. Hy kug. Die vergadering gaan nou begin.

      “Manne van die Boksombende!” Trompie laat sy stem tril om die erns van die saak te beklemtoon. “Ons vergader vandag hier onder die blou hemel om oor groot dinge te praat – groot en ernstige dinge.” Trompie hou baie van die frase “onder die blou hemel” en besluit om dit te herhaal.

      “Ons vergader hier onder die blou hemel om te besluit oor iets wat ons hele toekoms gaan raak. Dis ’n groot saak waaroor ons vandag moet besluit en ek wil hê alles moet mooi stigtelik verloop. Daar moenie ’n geraas wees nie.

      “Julle moet my nie met dom vrae in die rede val nie. Ek sal eers praat, dan kry julle ’n beurt en dan gaan ons stem.”

      “Maar kom ons begin dan nou,” sê Rooie.

      “Wat’s jy so haastig?” Trompie se stem is kil.

      “Ons wil nog gaan swem, kaptein.”

      “Reg,” sê Trompie en lig sy hand. Wanneer hy sien hoe vuil die hand is, laat hy dit weer sak. “Katrien het my vanmôre bygedam. Julle onthou mos sy’t ons destyds ’n paar rand betaal om ’n halwe lid van ons bende te word? Wel, sy wil haar geld nou terughê.”

      “Sy kan gaan slaap,” brom Rooie.

      “Wie dink sy miskien is sy?” grinnik Dawie.

      “Waar moet ons soveel geld vandaan kry? Sy kan dit maar vergeet,” mompel Blikkies.

      Trompie sê hard: “Ek het gesê julle moet stilbly tot ek klaar gepraat het!”

      Almal bly stil.

      “Manne van die Boksombende, ek stem saam met alles wat julle gesê het. Een honderd persent … Maar dis nie oor Katrien dat ek hierdie vergadering belê het nie. Ek het dit sommer maar net gesê – as ’n inleiding. Daar is ’n ander en baie groter saak wat ek met julle wil bespreek. Ek dink julle weet wat dit is. Ek het gesien hoe sit julle in die skool en dink, en ek ken julle mos. Ek het sommer geweet julle wonder oor dieselfde ding as waaroor ek wonder.”

      Die seuns is skielik ernstig. Hulle staar strak voor hulle uit. Almal dink – moet die Boksombende nou, ná soveel jare, ontbind word?

      Trompie is moeg om die hele tyd te staan. Hy gaan sit en dit is asof hy skielik van die “amptelike” vergadering vergeet het.

      Sy stem is sag toe hy sê: “Moet ons bende aangaan of nie? Die hoof meen as ’n ou in graad nege is, het hy nie meer tyd vir bendes en sulke goeters is nie – en ons moet nou besluit of ons ook so dink. Ek gaan nou vir elkeen ’n kans gee om te praat en dan sal ons oor die saak stem.”

      Die vier seuns sit ernstig en nadink.

      Dan staan Rooie skielik op en sê: “Ons het nog altyd saamgestaan – deur dik en dun. Dis wat ons gedoen het!”

      Hy gluur sy maats woes aan. Hulle knik hulle koppe om te wys dat hulle met hom saamstem.

      “Die hele dorp ken ons as die Boksombende en ek sê dis ’n goeie ding. Ons staan saam …”

      “… deur dik en dun,” fluister Dawie met ’n vonkeling in sy oë.

      “Dis reg,” sê Rooie aangedaan, “deur dik en dun. Dis wat ons in die verlede gedoen het en dis wat ons nou doen en dis wat ons altyd gaan doen!”

      Omdat Rooie altyd van Trompie se inleiding hou wanneer hy ’n “amptelike” vergadering open, sê hy nou: “Hier onder die blou hemel sê ek dit vir julle – die Boksombende bly staan! Ons bly staan! Almal bly staan! Die hele wêreld bly staan!”

      Rooie gaan sit. Die ander dink oor sy toespraak. Hulle verstaan nie mooi wat sy “Almal bly staan! Die hele wêreld bly staan!” eintlik met die saak uit te waai het nie. Maar dit is tog gelukkig heeltemal duidelik dat Rooie dink die bende moenie ontbind word nie.

      Vir ’n rukkie is dit stil. Dan staan Dawie op. Hy praat oor hoe hulle die Boksombende as graadvyfs gestig het. Hy praat van insidente uit die verlede, van dominee se bobbejaan én al die kere wat die bende goeie dade probeer doen het. Hy praat van al die lief en leed wat hulle al saam deurgemaak het.

      Dawie noem ook hoe hulle al onder mekaar baklei het – hy onthou nog hoe Trompie vir Rooie ’n blouoog gegee het. Maar dit was ’n kleinigheidjie. Hulle vier het altyd soos een man teen die buitewêreld saamgestaan!

      Dan sê Dawie: “Gepraat van ons Grootkaptein – ons het Trompie as ons leier gekies en hy was en is nog altyd ’n baie goeie kaptein!” Trompie glimlag kastig skaam en skud sy kop asof hy dit alles wil ontken. Maar hy is eintlik hoog in sy noppies.

      “Ek sê vir julle,” gaan Dawie voort, “ek wil nie hê ons moet ontbind nie. Ek is dié kwartaal in die koshuis, maar oor drie maande is ek mos weer by julle.”

      Dawie het sag en vertroulik gepraat, maar nou gooi hy sy arms skielik in die lug en skree hard: “Lank lewe die Boksombende!”

      Die ander drie wip soos hulle skrik. Blikkies val amper van sy kissie af. Boesman gee ’n tjankblaf en spring op.

      Almal sit weer. Boesman draai ’n paar keer in die rondte en dan plof hy ook weer op sy plek neer.

      Blikkies staan op. Hy spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit.

      “Ek gaan nie baie sê nie,” begin Blikkies, “want Dawie en Rooie het klaar gesê wat ek wil sê. Ek wil net sê dis nonsens. Dis wat ek wil sê. Dis nonsens om eers daaraan te dink of daaroor te praat om ons bende te los. Dis al wat ek wil sê.” Blikkies gaan sit. Hy het sy sê gesê. Hy pluk ’n vars grashalmpie uit en begin kou.

      Trompie staan op. Hy maak keel skoon. Dan sê hy: “Manne van die Boksombende, ek vereenselwig my volkome met die menings wat hier uitgespreek is.”

      “Jissie!” sê Dawie verbaas. “Het jy ’n woordeboek ingesluk?”

      “Ek herhaal,” gaan Trompie hoogdrawend voort, “ek vereenselwig my volkome met julle menings. Ek glo ook die Boksombende moet voortbestaan. Ek het die saak net aangeroer omdat die hoof vanoggend daaroor gepraat het. En natuurlik ook omdat Dawie dié kwartaal in die koshuis is

Скачать книгу