Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 6

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

sal vandag kan kom,” sê Dawie, “want ons kry af om dorp toe te gaan en inkopies te doen. Maar dit is glo net vir vandag. Van môre af is daar blykbaar studietye en sulke goeters. Dan twyfel ek of ek julle ouens baie ná skool sal kan sien.”

      Al vier dink nou aan dieselfde ding – hoe anders dit sou gewees het as Dawie by Trompie gebly het in plaas van in die koshuis.

      Wat het hulle tog besiel om Dawie op die donkie se rug vas te maak?

      Die klok lui. Die seuns val aan die een kant van die saal in rye in en die meisies aan die ander kant. Hulle stap in.

      Nadat die dominee die verrigtinge met gebed geopen het, steek die voorsitter van die beheerliggaam ’n toespraak af. Dan is dit die skoolhoof se beurt.

      Toe almal klaar hul sê gesê het, kondig die hoof af dat die nuwe graadagts moet agterbly, asook die graadneges.

      Trompie se jaargroep kyk verbaas na mekaar. Hulle weet die nuwelinge moet agterbly sodat hulle in klasse ingedeel kan word, maar wat wil die hoof met die graadneges doen? Hulle is mos al ’n jaar in die skool.

      Die nuwe leerders bly agter in die saal staan en die graadneges beweeg tot voor waar die hoof met hulle gaan praat.

      Die Boksombende staan in die ry heel voor teen die verhoog. Die hoof kyk glimlaggend na die kinders wat so bekommerd na hom opkyk.

      Hy lyk darem nie te kwaai nie, dink Trompie. Hy ken hierdie hoof – hy is gaaf en vriendelik, maar wanneer hy straf uitdeel, is hy genadeloos! Trompie het al by hom detensie gekry. Hy dink daaraan dat hy nou al ’n jaar lank ’n leerder aan die beroemde Hoërskool Kwaggaberg is en nog nie weet hoekom almal die hoof “doktor” noem nie. As hy ’n dokter is, moet hy mos siek mense gaan gesond maak!

      “Leerders,” sê die hoof en hy glimlag vriendelik, “ek het julle laat agterbly omdat ek met julle wil praat.”

      Die graadneges luister aandagtig.

      “Ek is nie heeltemal tevrede met julle uitslae nie. Verlede jaar was weliswaar julle eerste jaar op hoërskool, maar ek het nogtans verwag dat julle beter sou vaar. Julle het almal geslaag, maar party het die paal ook maar net-net gehaal.”

      Trompie probeer ongeërg lyk, maar dit voel vir hom of die hoof reguit na hom kyk!

      “Ek wil hê julle moet vanjaar harder werk,” gaan die skoolhoof voort. “Ons matriekuitslae is altyd uitstekend – en oor drie jaar is julle ons matriekleerders. Onthou, julle is nou in graad nege. Daar is nie meer tyd vir onsinnige, lawwe speletjies nie. Julle word nou groot.”

      Hoe gouer, hoe beter, dink Trompie.

      Die hoof praat verder: “Vergeet nou van klieks vorm en bendes wat allerhande kattekwaad aanvang. Hier by die skool word genoeg vir julle gereël. Sluit aan by die verskillende klubs – daar is die skaakklub, die debatsvereniging en baie ander. Neem deel aan al hierdie skoolaktiwiteite. En werk hard. Ons het julle verlede jaar in ’n mate julle gang laat gaan, want julle was nog rou en onervare. Maar ek gaan vanjaar drasties optree as enigeen ’n misstap begaan.”

      Die leerders word met ’n knik van die kop verdaag.

      In die klas sit Trompie ernstig en dink aan wat hy vanmiddag vir sy Boksombende gaan sê.

      Toe hy die vergadering belê het, wou hy hulle net vertel het van Katrien se nuwe nuk en dat hulle ’n plan sal moet maak om haar geld terug te gee. Maar nou dink hy aan wat die skoolhoof van bendes gesê het. Het hy miskien van hulle gepraat – van die Boksombende? Die hele dorp ken mos vir Trompie en sy bende.

      Die hoof het gesê hulle word nou groot. Moet hulle die bende wat gestig is toe hulle nog in graad vyf was nou ontbind?

      Trompie sien hoe staar Rooi, Blikkies en Dawie fronsend voor hulle uit terwyl die ander in die klas werk. Hy weet sy manskappe sit ook en dink oor wat die hoof gesê het.

      Hy besef as die bende nie meer bestaan nie, sal hulle natuurlik nie meer vir Katrien haar geld hoef terug te betaal nie. En wat meer is, hulle gaan Dawie die volgende drie maande bitter min sien.

      Moet die Boksombende regtig nou ontbind word? Trompie kry ’n knop in sy keel as hy net hieraan dink. Al was daar die afgelope maande nie baie vergaderings nie, het hy en sy manne altyd saam dinge gedoen. Die feit dat hulle ’n bende is, was gedurig in hul agterkoppe.

      Trompie besluit uiteindelik hulle moet by vanmiddag se vergadering oor hierdie belangrike vraagstuk gesels – oor of die Boksombende moet voortbestaan of nie. Hulle sal daaroor moet stem.

      Dié middag eet Trompie vinnig en dan stap hy deur die veld na die bouvallige ou waenhuis wat as sy bende se fort dien. Hy het ’n sakboekie en ’n potlood by hom. Alles moet streng volgens prosedure geskied, veral vandag.

      Hy loop ingedagte na graspolle en skop. Hoe baie het hy nie die afgelope jare al só geloop om sy manskappe daar by die fort te ontmoet nie? Trompie voel weer vanoggend se knop in sy keel. Dink net, die Boksombende kan dalk ná vanmiddag miskien nie meer bestaan nie! Hy het besluit hy sal probeer om nie vir Rooie, Blikkies en Dawie te beïnvloed nie. Hy sal net die feite aan hulle stel. Dan moet elkeen self kies.

      Boesman draf langs Trompie. Dit is warm en die hond se tong hang uit.

      “Ja, ou Boesman,” sê Trompie met ’n sug. “Die lewe is maar moeilik.”

      Trompie gaan sit op een van die kissies in die ou murasie. Boesman plof in die skaduwee neer.

      Skielik hoor hy ’n gefluit – ’n hoë noot afgewissel met ’n lae een. Dit is die Boksombende se sein. Trompie fluit op dieselfde manier terug.

      Rooie en Blikkies kom by die fort aan. Hulle groet hul vriend en kom sit ook op kissies.

      Blikkies sit met sy bene lank voor hom uitgestrek en sy rug rus teen die muur. Hy is lui en vaak. Sy kieste beweeg stadig op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou.

      Rooie sit ook gemaklik. Hy kyk na sy tone en wikkel hulle. Hy probeer om een te wikkel terwyl hy die ander nege stilhou. Dit gaan moeilik.

      “Wanneer kom Dawie dan?” vra Blikkies.

      Sy woorde is skaars koud, toe hoor hulle ’n fluit.

      “Jis!” sê Dawie ’n paar oomblikke later en sy ondeunde oë vonkel. “Hoe gaan dit met julle dorpsjapies?”

      “Probeer jy snaaks wees, koshuisbobbejaan?” brom Rooie.

      Dawie, Rooie en Blikkies kyk na Trompie. Hy sit met ’n groot frons op sy voorkop. Hy weet hulle kyk na hom. Hulle moet mos sien hoe ernstig hy nou sit en dink. Hy voel dit maak ’n goeie indruk. Maar die drie word moeg van so sit en niks doen.

      “Wanneer begin ons, Trompie?” vra Blikkies uiteindelik.

      “Wie’s jou Trompie? Onthou, dis ’n amptelike vergadering dié.”

      Hy is altyd baie gesteld daarop dat die ander hom tydens vergaderings reg moet aanspreek.

      “Oukei dan, kaptein,” sê Blikkies lui. “Maar ek vra nog, wanneer begin ons?”

      “Nou-nou. Kan jy nie sien ek dink nog nie?”

Скачать книгу