Debora en seuns. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Debora en seuns - Helene de Kock страница 13
“Wat ook al,” sug Heinrich maar ’n diep keep tussen die swart wenkbroue stroop die jovialiteit van sy gesig af.
Erik prop nog ’n ontpitte appelkoos in sy mond. “Kom ons gaan,” sê hy weer.
“Ek kom saam,” sê Heinrich sugtend. “Ek gaan net my kortbroek aantrek.”
“Wag vir ons,” sê Erik en tik Margot op die skouer. “Ons is nou hier.”
Gewoonlik draf sy saam wanneer die skilwerk vir die dag klaar is, en sy het haar tennisrok aan. Persoonlik dink sy ’n netjiese kortbroekie sal beter wees, maar gedagtig aan die bohaai wat sal losbars, weerhou sy haar daarvan. Geen vrou op hierdie dorp waag dit al om broek te dra nie. Daar word selfs fronsend gekyk na gimnastiekrokkies wat effens te kort is.
Sy gaan sit by die kombuistafel en wag. Die namiddagstilte vou haar toe.
Anna kom uit met haar en Fanjan se laatmiddagkoffie en beskuit.
“En nou? As jy so sit?”
“Ek wag dat die mans klaarmaak om te gaan draf.”
Anna lag met ’n wye mond. “Jy gaan lank wag, Ounooitjie. Hulle dink hulle moet hulle mooi maak voordat hulle strate toe gaan.”
Sy lag lekker saam met Anna, help haar om die vol skottels ontpitte appelkose in die reeds kokende stroop te gaan gooi. Toe gaan sit sy weer op die stoep, kyk na die fladderende skadu’s wat die eikeboom op die stoep gooi. Onwillekeurig dink sy aan die kenmerkende gepiep-piep-pieeep van die nuusuitsending op die ou Pi-radio gisteraand. Die sonore stem van die nuusleser wat gemaan het dat die oorlog baie van die land se mense gaan eis. Sy weet dat sy terstond aan ander dinge begin dink het. Bloot omdat sy deesdae nie weet wat om te dink as daar oor die oorlog en sy eise gepraat word nie. Dit is asof dit buite haar wêreld gebeur.
Erik en Heinrich kom binne, gereed vir aksie met hul lang, bruingebrande bene in kortbroeke. En sowaar, hul kuiwe lê glad van die Brylcreem. Erik se wange soos altyd bloesend onder die soel vel. So asof hy pas uit ’n warm bad gekom het. En dit val haar weer op hoe aantreklik Heinrich daar uitsien. Fris en gespierd. Tande porseleinwit in sy laggende gesig. Hy weet hy is aantreklik, besef sy en kyk in sy blink, geamuseerde oë. Hy steek iets weg, vermoed sy vir die eerste maal. In sy binneste kook dit, maar hy hou die deksel styf op.
Sy kyk hom koel op en af. “Vir wie het jy jou so uitgepiets?”
Hy lag net sy hartlike lag waarmee hy gewoonlik ongemaklike vrae van hom af wegweer. Maar toe vernou sy oë tot blou splete en hy beantwoord nie haar vraag direk nie. “Een van die dae moet ons oorlog toe, Mädchen. En as jou bene te gou lam raak, smyt die army jou uit. Dan moet jy vir die ander manne koskook. En dit wil ek nie.” Hy veeg speels met ’n voorvinger oor haar wang. “Daarom oefen ek maar.”
Margot se stem stok in haar keel. Oorlog toe? Rooilussies word? Rooilussies met ’n Duitse van? Haar blik vlieg na Erik se gesig maar hy knipoog net vir haar. ’n Grappie dus. Verligting stu in haar op.
“Kom,” sê Heinrich toe sy nog na woorde soek. “Ons draf tot onder by die dam.”
Sy laat haar gedwee gesê en toe sy haar kom kry, drawwe hulle sedig agter mekaar die stofstraatheuwel af met haar heel agter. Sy verkies dit so, want as sy voor hardloop raak sy soms effens agter en dan stamp-stamp hul tone aspris teen haar hakskene. Niemand praat nie. Al gou begin haar gedagtes maal. Marnitz wat netnou so nonchalant beduie het dat hy verveelde meisies se aand gaan opkikker. Haar asem wil-wil kort raak.
Haar ma het al op ’n keer teenoor Margot opgemerk dat die kind al lankal uit Marnitz Schlagerfeldt uit is. Dis nou as hy ooit ’n kind was, dink Margot, want hy was nog altyd taamlik paternalisties daarop uit om die ander twee tydig en ontydig te bepreek.
Maar Debora duld oudergewoonte niks onder haar dak wat enigsins onrustige vibrasies meebring nie. As hulle al drie tuis is, en hulle sit vas, sê sy dus net koel: “Was ist los da?” En as dit nie ’n uitwerking het nie, praat sy baie hard: “Genug!”
Dan loop hulle tot anderkant die groot boord waar die erf teen die veld eindig. Daar gil hulle hul frustrasie met mekaar uit. Dit gebeur ook deesdae al hoe minder omdat die twee oudstes se gemoedere meer bedaard geraak het. Moontlik, dink Margot wrang, maak volwassenheid so.
Dis net Marnitz wat soms werklik kortaf is. Miskien is dit die strawwe mediese professie wat dit aan hom doen. Hy rus ook min. Want hy help die meeste middae vir Ou Dok Steenkamp in sy spreekkamer en kom dan saans doodmoeg tuis. So vertel Erik. Sy wonder of hy nou ’n praktyk hier op die dorp gaan begin.
Naderhand raak sy so brandasem van die draf dat sy nie meer dink of wonder nie. Toe hulle uiteindelik by die dorpsdam onder die digte koelte van die wilgers sit, is sy pootuit.
“Ha!” spot Heinrich en gee haar poniestert ’n pluk. “Lyk my jou asem is maar kort.”
Sy ruk haar kop vererg weg. “Ha! Hoor hoe jaag jou eie asem.”
Hy leun nader aan haar en sy kan die persblou strepies in sy irisse sien. “Meisie, ’n man se asem jaag nie noodwendig omdat hy onfiks is nie.”
“Heinrich!” Dis Erik en hy klink geïrriteerd. Maar hy snak self so skielik na sy asem dat Margot en sy broer hom vraend aankyk.
Toe sien sy self. Bo van die hek se kant af kom drie figure aangestap. Laggend, geselsend. Elizabeth Williams en haar broer John, wat die Presbiteriaanse predikant op die dorp is. Wanneer hy ’n opening by die skool waarneem, gesels hy gewoonlik lekker met Susan Scott. By hulle is een van die onderwysers wat in die distrik woon. Elizabeth is ’n blom in ’n songeel rok wat bo haar dun enkels uitklok. Sy steek in haar spore vas toe sy hulle drie op die oewer sien sit. Erik staan dadelik op, sy skouers fier agtertoe getrek. Margot sien hoe ’n blos in sy beswete nek opkruip.
“Oh,” uiter Elizabeth gesmoord. “I didn’t know you were here … I mean, I didn’t know you liked to run.” Haar blink blik swiep van Erik se deurmekaar klam kuif oor sy fris lyf tot by sy gespierde bene, en ook haar wange verkleur.
Vaagweg raak Margot bewus daarvan dat Heinrich langs haar bedug verstil. Hy wend ook geen poging aan om eerste te groet nie.
Dis John met die rooiblonde kuif wat sy hand glimlaggend uitsteek toe hulle van die sagte gras af opstaan.
“Hello, Margot. I hope you and your mother are well?” Sy knik glimlaggend. “And of course, I know Erik, the man who can score so many tries with a rugbyball in his hand!”
“Ja, hierdie seun kan weghol met ’n bal, hoor.” Dis Janneman Gerrits, die onderwyser, wat Erik takserend staan en beskou.
“One of your pupils, I believe?” John kyk tersluiks na sy suster en toe val sy oog op Heinrich. Hy huiwer, steek toe sy hand stadig na hom uit. “And this must be your brother. The likeness is amazing.”
“Isn’t it just,” glimlag Heinrich en rol sy oë. “But there the likeness ends. My brother is a much better man than I am, Reverend.”
Almal lag. Wel wetend dat die woorde ’n ongemaklike oomblik moet oorbrug. Al is dit nou net sy en Erik en moontlik Elizabeth wat presies weet waarom, dink Margot. As hy tog net nie so wil bloos nie. Maar daar is iets anders ook, voel Margot