Debora en seuns. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Debora en seuns - Helene de Kock страница 15

Debora en seuns - Helene de Kock

Скачать книгу

wat moet gaan. My pa en ma wag seker al vir my. Ons gaan by mense in die ou dorp kuier. Daar oorkant die rivier.” Daarmee knik sy na Heinrich se kant toe en stap verby.

      Maar Margot en Heinrich staan nog ’n ruk woordeloos.

      Sy haal diep asem voor sy sê: “En dan praat jy van jou broer. Liewe Vader, Heinrich.”

      Hy gooi sy arms met soveel teatrale smagting in die lug dat Margot effens terugtree. “Verstáán jy nou waarom ek die wêreld in wil vlug, al bars die bomme om my?”

      Sy skud net haar kop. Sy emosie is te groot vir haar. Toe sy sien dat hy bedaar, vat sy sy hand sag vas en trek hom agter haar aan. “Kom, laat ons huis toe gaan.”

      Maar hy draai weer om om Rebekka se kleiner wordende figuur agterna te kyk.

      “Wat’s dit?” vra Margot fronsend.

      Hy gee ’n blaaslaggie deur sy neus. “Die mense in die ou dorp anderkant die rivier, ja. Die Greenbergs. Abram Greenberg het mos Green’s Algemene Handelaar in Smitstraat waar mens van ’n skoenveter tot ’n dak se geut kan koop.”

      “Tj, ek weet mos waar’s die Algemene Handelaar. Wat daarvan?”

      “Ai, Margot, jy kan soms stiksienig wees. Greenberg het ’n seun, Jakob, wat in Johannesburg is. Gee klas by Wits. Hy’s glo ’n wetenskaplike. Gmf, ek wonder wat wéét hy nou eintlik.”

      “Nou dink jy hy en Rebekka… ?”

      Heinrich lig sy hande. “Moet dit nooit sê nie! Daai slimjan wil ek nooit weer naby haar sien nie.”

      “Nou hét jy hom al by haar gesien?”

      “Ja,” kners hy dit uit, “een Sondagoggend toe ons van die kerk af kom, het hulle verby ons geloop. En ek het gesien hoedat hy probeer om Rebekka se hand vas te hou, en hoedat sy haar arms voor haar bors gevou het. Die hemel hoor my, as hy weer aan haar probeer vat …”

      “Is hy regtig so goor of hou jy maar net nie van hom nie?” hou sy nuuskierig aan.

      Hy trek skouers op. “Ag, ek ken hom nie. Ek hou maar net nie van enige man wat vir Rebekka ogies maak nie.”

      “Behalwe daai een dag, hoe weet jy hy hou van haar?”

      “Himmel, die dorp is vol fluisteraars, dit weet jy mos.”

      Toe daag dit soos ’n wit lig in haar kop: Heinrich is régtig verlief op Rebekka Eisenstein en, soos netnou, sê sy: “Jy weet mos dit kan nie, Heinrich.”

      “Wie de hel sê so?” sis hy tussen sy tande deur sodat sy verskrik swyg.

      En sy stap tjoepstil saam met hom huis toe. Hoor die driftige in en uit van sy asem soos hy lang, lang treë gee.

      Hoofstuk 4

      In die loom somerdae weet sy dat sy reg gedink het. Daar is ’n nuwe gemoedelikheid tussen haar en Heinrich wanneer sy smiddae saam met hulle sit en skil. Hulle deel ’n geheim. Net Erik, weet sy, kom dit nie agter nie want sy kop is te ver weg. Hy fluit heeltyd saggies asof hy nie byna altyd ’n gehoor het nie en ignoreer hulle as hulle met hom skoor.

      Een middag tydens die skillery sny hy homself met die skerp messie raak. Hy pluk sy hand geskok weg, staar na die bloeiende vinger.

      Debora en Susan wat ook by is, kyk verskrik toe.

      Debora se kleur is hoog. “Zerstreut!” roep sy ergerlik uit. “Du bist wirklich zerstreut!”

      Heinrich lig net ’n wenkbrou maar Marnitz, wat pas terug is van Ou Dok se spreekkamer, kom kalm nader om te help. Druk die bebloede vinger onder die wasbakkraan op die stoep, ontsmet dit met soutwater en sit pleisters op uit sy plat dokterstassie wat deesdae oral met hom saamgaan. Die ouer vroue gaan binnetoe om nog tee te maak. Met baie suiker, beduie Debora nou weer bedaard, want dit neem die skrik weg.

      “Dink jy ook hy’s zerstreut?” wil Margot skertsend by Heinrich weet.

      Hy glimlag skeef. “Verstrooid, ja. Jy sien mos sy kop is op ’n heel ander plek.”

      Sy knik net. Erik is dikmond toe hy en Marnitz weer ondertoe kom. Moontlik het hy van Marnitz ook ’n broederlike prekie oor Zerstreutheit gekry.

      Die lang Desemberdae kry vir Margot nuwe kleur. Dis samesyn soos selde vantevore. En dit is of haar ma en Debora dit aanvoel. Hul kuiertjies smiddae op die agterstoep is warm en vrolik. Erik is steeds ietwat verstrooid en soms betrag Debora hom met ’n kommerkeep, maar andersins is Margot se tye saam met die Schlagerfeldts besonder harmonieus. Tot Marnitz is, wanneer hy tuis is, jovialer as voorheen. Dalk is dit die naderende Kerstyd wat hom milder maak, dink Margot en verlekker haar in sy geselskap.

      Soms bly sy en haar ma saans tot laterig oor. Smul op Debora en haar seuns se aandrang saam aan die varsgebakte brood met stroopblink heelvyekonfyt en luister ná ete na die seuns se meesleurende strykmusiek. Margot speels soms saam op die klavier, maar meesal sit sy net en luister. Verkyk haar aan die drie swartkoppe wat met fronsende erns, lippe saamgepers, hul instrumente bespeel. Sy besef al hoe meer dat hulle werklik drie baie talentvolle musici is. Vir die eerste maal begin sy wonder hoe dit vorentoe met hul musiek sal gaan. Sal hulle ooit nog speel as die oorlog hierheen sou kom?

      Sy stoot die angsgedagte weg. Alles moet net bly soos dit is, dink sy met ’n fladdering van skrik. Net so is alles perfek.

      Margot en Heinrich gesels dikwels. Veral oor die universiteitslewe. Hy vergas haar op staaltjies uit sy ervaring van die losieshuis waar hy tuisgegaan het en sy lag lekker vir al die studentemanewales. Dan sê hy ook: “Maar daarmee is ek nou klaar.”

      Marnitz raak al hoe minder by die skilsessies betrokke. En wanneer hy dan smiddae laat tuis kom, neem hy sy tjello op en speel met soveel dringende passie dat Margot se binneste soms wringend saamkramp.

      “Hy werk so hard, die arme kind,” sug Debora een laatmiddag toe Susan ook opdaag en Anna vir hulle tee inskink terwyl die tjelloklanke opklink. “Ja, hy speel pragtig, maar Ou Dokter sê hy het die hande van ’n chirurg.”

      “Ai, dis wonderlik,” sê Susan bewonderend. “Dat mensehande ander menselywe oopsny en binne-in regmaak, bly vir my steeds ’n mirakel.”

      “Ja, die Marnitz, nè,” glimlag Debora. En, in wat ’n totaal onbewaakte oomblik moet wees, gaan sy aan: “Ek het geweet hy sou ’n dokter word daardie dag toe …”

      “Mutti!” onderbreek Heinrich haar. “Ek ruik iets. Brand die stroop nie?!”

      Margot kyk op en sien dat Debora se wange verbleek. Die vrou staan haastig op. Margot ruik niks en sy sien dat haar ma Debora se smal, effens geboë skouers nadenkend agternakyk toe sy kombuis toe gaan.

      Ook Erik se vingers het om die vrug in sy hand verstil.

      “So ja,” sê Heinrich onverstoord, “mens kan nie die goed laat aanbrand nie. Daarvoor gaan suiker nou heeltemal te skaars word.”

      Susan wil dié aand oor die voorval praat, maar Margot gaap en sê sy gaan bed toe.

      “Die dag was warm en lank, Mams.”

      Nee, dink sy

Скачать книгу