Debora en seuns. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Debora en seuns - Helene de Kock страница 3

Debora en seuns - Helene de Kock

Скачать книгу

het. Susan trek haar jaspante effens uitasem nader aan mekaar.

      “Sal ons nou vir Debora van die onstuimigheid by die kerk gaan vertel?” wonder Margot hardop.

      “Nee wat. Debora het tog g’n sin aan los praatjies nie. Sy sal net ’n hand ophou en ‘Genug!’ sê.”

      Margot lag sag. “Genoeg!” is Debora se geliefkoosde stopwoord. As ’n gesprek of enige situasie volgens haar getemper moet word, sê sy net ferm: “Genug!”

      Daarom loop sy swyend agter haar ma aan na hul klein rooidakhuis op die kalerige erf. Regoor hulle in Debora se statige woning skyn daar nog geel lamplig agter die roomkleurige gordyne.

      Tuis maak Margot nog tee. In haar kop weerklink die aand se vele gesprekke. Sy het die implikasies daarvan goed begryp want haar ma het nog altyd met haar gepraat asof sy ’n grootmens is. Boonop in Afrikaans en in Engels. Sy skink twee koppies vol en neem dit sitkamer toe waar haar ma al in die leunstoel met die geskifte maroen linneoortreksel sit.

      Sy gee die tee aan en gaan sit op die holgesitte sitkamerbank, vou haar lang bene onder haar in.

      “Margot,” sê Susan stadig, “ek is trots op jou.”

      “Haai, Ma?”

      Susan knik. “Ja, jy is nou mooi rond geslyp, dink ek. Byna soos van die meisies wat ek destyds in Engeland teëgekom het. En ook soos Debora. Jy sien, jy praat verfynd dog reguit.”

      Margot glimlag. “Maar Mamma het dit by my ingedril, hoor.”

      “Ja, ek het,” sug Susan met ’n klein skouerophaling. “Dis seker maar die onderwyseres in my want as ’n mens met jou mond vol tande staan as jy jou saak moet stel, is jy verlore.”

      “Maar Mamma het dan vanaand niks gesê nie. En ek ook nie.”

      “Glo my, die tyd om sterk standpunt in te neem, sal kom.”

      Margot glimlag net en proe aan haar warm tee.

      Hulle gesels onvermydelik weer oor die politiekery in die kerksaal.

      “Maar ek moet jou waarsku, my kind. Ons leef in tye waarin allerlei sotlike idees vir soetkoek opgevreet word.”

      “Soos wat, Mamma?”

      “Soos dat swart mense, Russe en Jode sogenaamde Untermenschen is. Jy weet, Goering, die hoof van die Duitsers se Luftwaffe, het verlede jaar glo gesê die Tsjegge is ’n miserabele pigmeeras.”

      “Hy klink aaklig,” gaap Margot. “Dink Ma die oorlog gaan hiernatoe ook kom?”

      “Wie weet? Maar kom ons gaan slaap. Môre is dit skool.”

      Margot soen haar ma nag en gaan kruip in. Sy is eensklaps nog moeër van die aand se lang biduur en die daaropvolgende oproerigheid. Maar dis Debora wat weer by haar bly spook. Sy weet haar ma was Debora nog altyd simpatiekgesind. Susan Scott was mos al self in ’n situasie waar niemand met jou praat as hulle nie werklik moet nie. Dit was wel lank gelede, maar tog. Hierdie dorp het haar ma glo darem ná ’n jaar of wat aanvaar. Vreemd dat hulle nie haar destydse verblyf in Engeland vanaand genoem het nie, dink Margot. Maar al wat hulle weet, is dat sy uit Engeland hier aangekom het met ’n baba in haar arms. Hulle het aangeneem sy is ’n weduwee en sy het hulle nie reggehelp nie.

      Dat die dorpenaars “mevrou” Susan Scott wel aanvaar het, bly vir Margot op ’n manier wonderlik. Glo aanvanklik met bedugte afstandelikheid. Waarskynlik omdat hulle van Susan afhanklik was en is want sy het gou ’n pos by die plaaslike hoërskool gekry. Met ’n meestersgraad in Engelse geskiedenis, plus die feit dat sy so wel ter tale is, was dit seker nie moeilik nie. Niemand kan so goed vir hulle kinders in Afrikaans én Engels klasgee soos sy nie. Margot trek die laken tot onder haar ken. Sy wens soos altyd dat sy meer van haar ma se tyd in Londen kon weet. Want Susan het ná sy op Stellenbosch klaar gestudeer het, vir twee jaar lank in Londen by haar oorlede pa se suster gaan kuier. En soos dit vir Margot voel, so ampertjies Engels geword. Want sy kan saam met die Engelse kuier asof sy Brits is en saam met die Afrikaners soos die gebore Afrikaner wat sy is.

      Hierdie streek het sy geswore Engelse en sy stoere Afrikaners. Hulle groet mekaar, kuier selfs oor en weer. Maar op skool is hul kinders in aparte klasse sodat Susan die geskiedenis om die beurt in Afrikaans en Engels aanbied.

      Margot trek die twee dunnerige wolkomberse oor haar. Haar gedagtes begin om die ou kwessie draai. Waar kom sy regtig vandaan? Al wat haar ma ooit sê, is: “Jou pa is Henry Scott, ’n Engelsman wat gedink het hy kan met my mors.”

      Reguit woorde wat Margot telkens kwaad maak.

      Soms gaan lê die onderwerp. Maar sy weet sy gaan eendag die moed bymekaarskraap om oor als uit te vra.

      Die slaap bly net-net buite haar bereik en later lê sy met haar hande agter haar kop ingevou. Die uitbreek van die oorlog is en bly onrusbarend. ’n Paar dae gelede het sy ’n ou kopie van die Sunday Times by Eisenstein in die hande gekry. Tot haar teleurstelling het dit meer spekulasie as nuus bevat. Wat haar nogal kwel, is dat die Unie onder Jan Smuts nou ook oorlog teen die Duitsers verklaar het.

      Margot se gedagtes kies opnuut hul eie dwalende koers. Dis as mens alleen oor die oorlog begin wonder dat jy bang word. En dis dan wat haar kop liewer maar nes die dorpenaars s’n begin skommel en skuif aan die gegewe rondom Debora. Vir haar nou al “liewe Debora”.

      Margot dink aan die nag in 1934 toe Debora en haar mense so stilweg in die rysige huis oorkant die straat ingetrek het. Heel onopsigtelik maar met ’n sekere dinamiek wat allerlei vibrasies straataf gestuur het.

      Selfs as jong kind het sy bewus geraak van die geskinder om die Schlagerfeldts. Sy ril effens en trek die kombers hoër op. Dis nog maar einde September en steeds koel in hierdie streek met sy donkerbruin klowe en okergeel sandsteenkoppe. Nog glad nie te laat vir ontydige ryp nie. Margot se mond pluk in ’n skewe laggie. Net so onverwags en amper ontydig was Debora se koms.

      Mense was destyds met die Depressie ook maar te dankbaar om oor iets anders te kon praat as hul eie gesukkel om kop bo water te hou. Die geskarrel om ’n sakkie boermeel vir broodbak te gaan koop. En hulle was ook al deurgepraat oor Smuts en Hertzog se koalisieregering. Argumentasies wat al om die eie as draai.

      Daarom het Debora se storie geloop waar hy wou. Hoe dit ook al sy, Margot het klein soos sy was moontlik onbewustelik begin besef dat nuwelinge altyd ’n geskiedenis met hulle saambring.

      Debora Schlagerfeldt was die uitsondering op die reël.

      Geen feite nie. Maar hope misterie.

      Op ’n helder Oos-Vrystaatse winteroggend was die Victoriaanse huis teen die westelike rant skielik vol mense. Die huis met die vaalwit afgedopte mure wat toe al twee jaar lank ná ou mevrou Schmidt se dood leeg gestaan het. Nou nie heeltemal leeg nie. Dit was vol antieke meubels wat met wit lakens bedek was. Maar die tuin is steeds, soos in al die jare toe mevrou Schmidt nog geleef het, getrou versorg deur Fanjan Motse. Hy woon tot nou toe in een van die buitekamers agter die motorhuis.

      Mens kon wel sien die plek kort ’n vrou se hand, het Susan Scott gesê, want al word die voorste grasperke netjies vierkantig gesny, word daar niks nuuts meer gesaai nie. Die rye roosbome kort ’n snoei.

      Dan het haar ma na hul eie beskeie blyplekkie gekyk. “Wel, my kind,” het sy sugtend teenoor Margot opgemerk, “Fanjan het ’n waardige teenwoordigheid.

Скачать книгу