Debora en seuns. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Debora en seuns - Helene de Kock страница 5
“Veel meer as wat jy dink,” was Susan se reaksie.
Dit het mevrou Verdoorn die swye opgelê want almal het immers geweet wat ’n belese onderwyseres Susan Scott was.
En soos wat nuwe plante ’n greep in die grond kry, het die Schlagerfeldts op die dorp wortelgeskiet. Een middag teen sononder het die vloeiende musiek van strykinstrumente soos wierook uit die huis gesypel. Straatwandelaars het verwonderd gaan staan.
“Luister,” het haar ma wat op hul stoeptrappie loop staan het, gesê, “dis ’n paar viole. Dalk ’n tjello ook, maar hulle speel soos één.”
Dit het dorpenaars weer laat praat: eienaardige, onsigbare mense wat hemelse musiek maak in ’n tyd van bittere skaarste en politieke onweer.
Die skoolkinders het die drie seuns gou gewoond geraak. Veral die seunskinders het die jong Schlagerfeldts se knap atletiese vermoëns bewonder, die meisies hul felblou oë en donker kuiwe, hul breë skouers en koel, effens arrogante glimlagge.
Margot stoot weer die komberse weg, rol suutjies uit die bed en trek haar kamerjapon aan. Vannag kan sy maar vergeet om ’n oog toe te maak. Vannag begeer sy vir die soveelste maal om daardie onsigbare gaatjie te vind en te loer.
Sy trap versigtig in die nou gang. Maar haar ma is wakker.
“Margot, waarom slaap jy nie?”
“Ek soek ’n bietjie melk om te drink.”
“Al weer? Maak asseblief tee en bring vir my ook sommer.”
“Goed, Mamma.”
Sy steek die paraffienlamp in die kombuis aan. Haar hande doen meganies wat dit moet doen. Maak ketel vol. Steek die primus aan. Maar haar gedagtes bly pluis aan die mense oorkant die straat.
Susan Scott het mettertyd Debora Schlagerfeldt se beste vriendin geword. Miskien omdat sy en haar enigste dogter reg oorkant die Schlagerfeldts woon en dit maklik was om mekaar van dag tot dag te sien. Susan het nie met ’n koek as vriendskapsoffer gaan kuier nie. Net een middag ná skool oorgestap en aangekondig dat sy regtig dors is. En tee sal wonderlik smaak, dankie.
Debora het Susan met ’n rooimondglimlag ontvang. Toe ietwat skigtig gevra of dit sy is wat so mooi na die huis gekyk het en as dit dan so is, danke schön.
Dis Susan wat eerste verneem het dat herr Dieter Schlagerfeldt eintlik nooit in die openbare oog kom nie. Hy bly maar so in die syvleuel. Nou en dan stoot Debora of een van die seuns vir herr Dieter in sy rolstoel uit op die breë stoep wat na die noordelike deel van die erf kyk. Of laat hom ’n bietjie in die welige tuin sit. Dis nou as dit sonskynweer is. Dan gaan sit een van die seuns baie keer daar by hul pa en maak praatjies, al kan hy nie terugpraat nie. Of speel vir hom ’n stukkie op die viool of tjello.
“Is die oom siek, Mamma?” wou Margot weet.
“Jy kan maar so sê, ja.”
“Maar waar’t hulle vandaan gekom?”
“Al wat Debora sê, is dat hulle van Nêrens af kom. Enne … dit het geklink asof dit ’n plek kan wees. Moontlik in Duits-Suidwes-Afrika want sy praat van so ’n wye, oop plek. En Margot, moet tog nie vir haar ‘tannie’ sê nie. Net Debora. Sy’t so gevra.”
“Goed dan.”
Margot was min gepla. Al wat sy bitter graag wou hê, was om met die seuns te gaan speel. Buitendien, Margot het haar gereelde sittery in die eikeboom agter die Victoriaanse huis gemis. Dit wel eindelik reggekry om by Erik Schlagerfeldt te gaan speel.
Debora het ongeveer drie maande ná hul ingetrek het, na die Scotts toe oorgeloop en luiters gesê: “Kom saam met my wanneer ek en jou ma klaar tee gedrink het. Dan kuier jy by my jongste. Hy is ’n bietjie ouer as jy enne … ek sien hy soek smiddae geselskap.”
“Ek het hom in my klas gesien en ek soek ook geselskap,” het Margot dadelik geantwoord.
Margot en Erik het van daardie selfde dag af by mekaar aansluiting gevind. Erik is nou, amper ses jaar later, steeds haar heel beste maat. Sy het wel die paar vriendinne saam met wie sy lekker kuier, maar met Erik kan sy oor net mooi alles praat. Nie dat hy praterig is nie, maar hy kan fyn luister.
Daardie eerste dag het hy haar op en af gekyk en toe gewink dat sy moet saamkom. Hulle het met die gruispaadjie om die huis tot agter in die erf geloop.
“Jong, kan jy boomklim?” wou hy weet.
“Tss,” het sy minagtend deur haar voortande gesis. Sy het soos ’n eekhoring teen die stam van die dik eik opgeskarrel, deur die digte blare geloer en gesien hoe hy oopmond na bo staar. “Toe, kóm!” het sy uitgedaag.
Bo in die boom, hul bene om die dik, skurwe takke geklem, het hy begin praat. Op ’n heel direkte manier.
“My ma sê ander mense het niks met ons te doen nie.” En toe sy verwonderd stilbly: “Sy sê ons moet net vir hulle goed wees. Dan is als mos reg. Dan is dit ‘genug’!”
Margot het geknik. “O.”
“Ja,” het hy net gesê. “Dit is soos dit is.”
“Hoekom?” Die woord het uitgeglip.
Hy het haar effens bot bekyk. “Omdat dit nie anders is nie.”
“Goed,” het sy geantwoord, gretig om die fyn draadjie van vrede weer te heg.
Sy blik was op die skurwigheid van die stam toe hy sê: “Eintlik is ek bly jy is nou hier want ek is smiddae alleen. Jy moet net onthou ek is ouer as jy.”
Hulle het daardie dag daar bo in die boom gemmerkoekies, wat Erik in die spens gaan gaps het, verorber. En hy het gefluit. Die ietwat treurige “Byna bewoë” het hy so hartverskeurend mooi gefluit dat sy wou saamsing maar die woorde het vasgesteek omdat sy ontydig hartseer wou raak.
“Dis baie mooi,” het sy later uitgekry. “Soos julle vioolspel.”
“Ek weet. Maar dankie.” Daar was ’n gedetermineerde trekkie om sy mond. So asof hy haar ’n ding wou wys.
Sy het dié trek om die mond goed leer ken. Tog was als wat sy voorgestel het vir Erik goed. Al was hy meer as twee jaar ouer as sy. Die skoolhoof, het Susan Scott beduie, het gereken die seun sal vinniger leer as hy liewer by ’n jonger standerd inskakel. Met dié dat hulle van so ’n ander plek af gekom het. Debora het by nabaat besluit dis dalk die beste.
Margot het soms gewonder of Erik weet sy is ’n meisiekind want hy het met haar gepraat soos hy met sy broers praat. Op die man af. Sy het by hom van rugby geleer en van skyfskiet. Agter in die ruim erf anderkant die reusevrugteboord het hy haar met die windbuks touwys gemaak. Hulle het na die motorhuis se muur en na die winter se hoop vuurhout geskiet en altyd eers die katte weggejaag. Ook geloer of die koei ver genoeg anderkant die boord in die oop veld wei. Op haar beurt het sy hom met somme gehelp. Later met matesis en boekhou. En gou gevind dat hy bitter slim is daarmee.
Sy het nog iets by Erik geleer. Maar dit was hulle geheim. Sy het geleer wat ’n lekker woord “genug” is. Hy het so tussen die huiswerk deur vir haar Duits begin leer. En die woorde wat hy haar geleer