Debora en seuns. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Debora en seuns - Helene de Kock страница 4

Debora en seuns - Helene de Kock

Скачать книгу

en “uitsonderlik”.

      Margot was destyds voordat Debora-hulle gekom het saam met haar ma binne-in die ou huis. Fanjan het gewilliglik vir hulle oopgesluit.

      Margot het soos ’n muis op haar kaal voete agter haar ma aan deur die groot vertrekke gedwaal, voor die skilderye van pienk en wit kosmos en ver blou berge teen die sitkamermure bly talm.

      Die beddens met hul hoë kopstukke was ook met lakens toegemaak. Margot het in die hoofslaapkamer die laken opgelig en onder dit ingeloer. Verwonderd uitgeroep oor die houtsneewerk op die kopstuk. Varings en rose en lelies, fyn en sekuur uitgekerf.

      En in daardie huis was een enkele foto in sepia. ’n Vrou met ’n vag swartbruin hare, ’n baba in haar arms, toegedraai soos ’n papie. En weerskant van haar twee opgeskote swartkuifseuntjies. Margot en haar ma het bly staar na die foto. Daar was iets onnoembaars in die vrou se oë.

      “Wie’s dit?” wou Margot weet.

      “Weet nie,” het haar ma gemymer. “Dalk ’n suster. Of sommer net iemand. Maar kyk, dié foto het wat hulle punctum noem.”

      “Wat’s dit?” was Margot se onmiddellike vraag.

      “A,” het Susan gesug. “Punctum is daardie skaars kwaliteit wat sommige foto’s het. Dit … dit kneus ’n mens se gemoed, Margot. Dis byna of daar ’n gaatjie in is waardeur mens kan loer.”

      “En ís daar ’n gaatjie, Mamma?” Margot het nuuskierig vooroor gebuk, haar gesig so vlak by die glas dat dit aangewasem het.

      “Nie regtig nie, Margot. Dis net dat mens weer en nog ’n keer daarna wil kyk. En sien wat nie gesien kan word nie.”

      “Maar waar is hierdie mense?” wou sy gefrustreerd weet.

      “Mense kom en mense gaan, my kind. Vergeet maar van hulle.” Haar ma het geklink asof sy iets bitters geproe het.

      “Fanjan,” het Susan nietemin ferm gesê, “ek sal jou help om dié goed op te pas. Ons moet skoonmaak hier, my mens. Sulke mooi goed sal verwaarloos as ons nie kyk nie.”

      Só het die ou Victoriaanse huis deel van Margot geword. Ook die ou eikeboom by die agterstoep waar sy smiddae wanneer haar ma en Elisa skoonmaak, gesit en verlang het na die mense wat moontlik nog sou kom.

      Sy sug, staar wakker en brandoog die donkerte in. Want Margot moet opnuut erken, noudat die Schlagerfeldts al jare hier is, wil sy meer as ooit die onsigbare sien.

      Sy staan op, loop op haar tone deur die huis en gaan drink ’n glas melk. Loer deur die skreef in die kombuisgordyne na die wit maanskyn op die agterwerf. Sluip terug en klim weer in die bed. Maar die storie van punctum draai steeds in haar kop.

      Want in later jare het dié woorde begin sin maak. Dit was Debora op daardie foto en Debora het punctum, al is sy nie meer net ’n foto nie. Dis net dat die gaatjie waardeur mens moet loer om haar beter te verstaan, onsigbaar is. Nie eers haar koelgrys oë gee ooit iets weg nie.

      Margot se kop sif soos soveel male deur die ou bekende gegewens. Sy weet Debora en haar seuns se lewe is met hare verweef net soos die nag met sterlig is.

      Sy het dit geweet daardie tyd toe hulle opgedaag het.

      Toe nie volksvreemd nie. Maar anders op ’n haas onpeilbare manier.

      ’n Lang, skraal donkerkopvrou en drie seuns. Die jongste moontlik Margot se ouderdom, het haar ma geskat. Die ander twee ’n klompie jare ouer.

      Daar was ’n huisbediende ook wat klinkend Afrikaans gepraat het. Een oggend het die twee vroue en die seuns in ’n maroen-en-swart Ford Model B by die erf uitgetrek en die dorp ingevaar. Van die buurt se vroue het hulle daarna in Eisenstein se winkel gewaar en rondvertel dat hulle die plek omtrent leeg gekoop het. Darem die gewone eetgoed soos boermeel en suiker en tee en koffie. Daarna het Sina Pienaar hulle in Clifford se klerewinkel naby die poskantoor opgemerk. Maar die vrou en die seuns het hulle onverstoord by hul besigheid bepaal. Net só dat mens nie oorweeg het om ’n gesprekkie aan te knoop nie.

      Ten einde raad is besluit om die nuwelinge met versuikerde diplomasie op die tradisionele manier te benader.

      Die vrou met die dik donker vlegsel om die kop en die robynrooi lipstiffie het gaaf dog ferm aan die twee dames met die borde vol koeksisters en melktert beduie dat hulle gekom het om te bly. Hierdie plek is deur haar tante aan haar nagelaat. Enne … sy is Debora Schlagerfeldt.

      “Nou van watter Schlagerfeldts is julle?” Dit was die vrou van een van die dokters op die dorp.

      “Ons is van ons eie Schlagerfeldts.”

      “Nou maar hoe het julle … ?” Die weduwee van langsaan.

      “Ek sê mos, mevrou Schmidt was my tante. En hier is ons nou.”

      “Maar dis twee jaar ná haar dood?”

      “Twee jaar, ja,” het Debora beaam en toe nie meer geglimlag nie.

      “En die kinders?”

      “Almal myne.”

      “Ja. Maar ek bedoel …” Die weduwee het nou erg nerveus begin raak: “K-kom hulle hier skoolgaan?”

      “Ja. Ek vermoed skoolgaan is hier ook verpligtend.”

      “En … en u man?”

      Debora Schlagerfeldt het haar blik stip op die twee borde koek in haar hande gehou. “Hy is ook hier, ja.”

      “Maar …”

      “Baie dankie vir dié gawe gebaar. Nou sal u my moet verskoon.”

      Dié gesprek is woordeliks deur die weduwee se huisbediende, wat gebukkend agter die digte sipreslaning tussen die erwe afgeluister het, aan Elisa oorgedra. Dis hoe Susan en Margot daarvan te hore gekom het.

      Dis toe dat die storie omtrent die Nag van die Lang Messe begin kop uitsteek het. Dalk is die vrou met die rooi mond dapper. Party mense wat in die dorp naby genoeg aan haar kom, sê sy ruik ook so lekker. Die ene 4711-oliekolonie. Dalk nog laventel ook. Wie weet waarvandaan sy moes kom. Of dalk vlug. Per vragskip dalk. Met die grênd motor en iewers versteekte geld ook, natuurlik. Want die nuwe gordyne en goed … Moontlik dié dat sy so stug en eenkant is. Swaarkry maak mens só.

      Opinies van links en regs. Maar Margot het geweet wat opinies kan doen. Omdat sy nie ’n pa het nie, het mense soms dinge vir haar gesê waarvan sy nie hou nie. Dan het sy hulle koeltjies aangekyk en hulle aangeraai om hul menings vir hulself te hou. En met die koms van die Schlagerfeldts het sy sommer om hulle onthalwe ook so begin sê.

      Met die tyd saam het mense wel minder gepraat. Die wêreldpolitiek het so skuins na hul kant toe begin kantel dat hul aandag deur die swaartekrag daarvan weggetrek is. Die dorpenaars het eerder meer begin wonder oor die stand van internasionale wel en wee. Want in Augustus het Hitler, ná die dood van president Von Hindenburg, alle mag in Duitsland in homself verenig. Sommige mense het huiwerig oor Duitsland se diktator, die Führer, begin fluister. Ander was openlik pro die nuwe, charismatiese leier.

      “Hy sal nog die Ingelse op hul herrie gee,” het mevrou Verdoorn een oggend ná kerk luidkeels beduie.

      “Hy

Скачать книгу