Tikkun Ha'olam. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 18

Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon Israel-reeks

Скачать книгу

die oggend bel Re’uven. Te danke aan sy posisie in die weermag is dit vir hom moontlik om aan Marc ’n saamrygeleentheid in een van die militêre voertuie beskikbaar te stel vir ’n kort besoek aan Rivkah in die Hadassah-hospitaal. Dit sal uiteraard nie moontlik wees om die kinders saam te neem nie. Sou Marc kon reël vir iemand om vir die tyd na hulle om te sien? Die enigste persoon wat bereikbaar is, is Ilan van langsaan. Dié is meer as bereid. Hy is maar net te bly om ’n bietjie uit die verveling van sy woonstel te ontkom waar hy al vir die vyfde dag vasgekeer is.

      Dis veral vir Natan bitter moeilik om te verstaan waarom hy nie kan saamgaan nie. Marc is egter onvermurfbaar. Hy weet dis ’n guns wat Re’uven hom bewys en hy het geen behoefte om sy swaer in die verleentheid te stel nie.

      Toe hy eenmaal buite die mure van die Ou Stad kom, is Marc verstom oor die omvang van die storm en die skade wat dit aangerig het. Jerusalem is eenvoudig een enorme, bevrore stad. ’n Mens kan sommige van die bekende landmerke byna nie onderskei nie. Langs ál die strate in die woonbuurte waardeur hulle ry, is die vorms van toegesneeude motors sigbaar. Op baie plekke is soldate in hul bekende olyfgroen winteruniforms besig met die reuse-opruimingstaak. Die enigste spatsels kleur wat hier en daar uitstaan, is dapper vrywilligers in helder oorjasse wat ’n helpende hand verleen. Daar is selfs kinders wat nuwe sneeumanne bou tussen voriges wat al verweerd begin lyk. Marc is jammer die seuns kan dit nie sien nie, want dit lyk soos ’n prentjie uit ’n sprokie.

      Saam met hom en Re’uven is daar nog twee offisiere in die motor met opdragte betreffende die toestande in die hospitaal. Die vordering is pynlik stadig, want gladde ys is ’n werklike gevaar, selfs op paaie waar die sneeu klaarblyklik al weggeruim is.

      “Met die lang kragonderbrekings het duisende mense op Shabbat uit die stad probeer wegkom,” vertel Re’uven. “Besef jy die spoorweë het die ongehoorde stap gedoen om op Shabbat treine in en uit Jerusalem beskikbaar te stel? Die sneeu het op baie plekke byna ’n meter hoog gelê. Dit was veel hoër teen die geboue opgestapel.”

      “Die Light Rail staan nog.” Marc wys na ’n ry van die binnestedelike treine wat bewegingloos onder ’n laag sneeu staan.

      Re’uven knik. “Eers was die sneeu ’n enorme plesierigheid en almal was uit op straat om dit te geniet en sneeumanne te bou. Maar toe daar teen die oggend op Shabbat nog geen teken van ’n einde daaraan was nie, het baie mense paniekerig geraak, veral omdat hulle sonder elektrisiteit was.”

      “Toe die gewone noodvoertuie nie meer in staat was om mense te red wat al vir ure in hul motors vasgekeer gesit het nie, het ons die weermagvoertuie ingestuur,” verduidelik een van die ander offisiere.

      Dit neem hulle ’n uur om die hospitaal te bereik. Re’uven waarsku Marc dat hulle hoogstens ’n halfuur het voordat hulle die terugtog moet aanpak. Die twee offisiere het gewoon net twee ander kom aflos en hyself moes kortliks met die superintendent iets bespreek.

      Marc haas hom na Rivkah se afdeling toe. Sy is in ’n rolstoel naby die venster, van waar sy ’n uitsig oor die uitgestrekte winterlandskap het. Smeltende sneeu het op die yl winterbome gevries en dit lyk of hulle met silwerwit ink teen die flou son geteken staan. Sy het Marc nie gehoor inkom nie en hy staan ’n oomblik in die deur om sy asem terug te kry. In die rolstoel sien sy daar nog meer tingerig as gewoonlik uit. Haar een been wat in die monsteragtige fraktuurfikseerder geklem is, is voor haar uitgestrek. ’n Buis binneaarse vloeistof is steeds aan haar linkerarm gekoppel en haar gebreekte regterarm is nog in gips.

      “Chamudah …”

      Toe sien sy hom. Daar kom ’n blye gloed in haar oë. “Marc!”

      Hy sak op sy hurke langs die rolstoel neer en hy weet nie hoe hy haar kan omhels sonder om in die apparaat verstrengel te raak of haar seer te maak nie. Ten slotte neem hy haar gesig in albei sy hande en soen haar lank.

      Haar gesig raak nat van trane. “Hoe het jy hier gekom?” fluister sy.

      “Re’uven het my gebring. Ek het letterlik net ’n paar minute.”

      Haar dun vingertjies wat uit die gipsverband om haar arm steek, klem syne vas.

      “Die kinders … ?”

      Hy soen haar weer. “Dit gaan goed met hulle.”

      “Maar julle moes ook lank sonder krag gewees het.”

      Hy lag flou. “Ons het reggekom. Onthou my kis dennebolle waaroor jy so vies was omdat dit so baie plek opgeneem het?”

      Sy lag, maar daar bly trane oor haar wange loop en hy haal ’n sakdoek uit sy baadjiesak en droog dit af.

      “Dis môre al ’n maand sedert dit gebeur het en ek is steeds in die hospitaal!”

      Hy vryf haar vingers saggies. “Dit sal ook verbygaan, Rivvie …”

      “Wat as ek nie weer kan loop nie?” Sy sê dit byna onhoorbaar sag asof dit net vir haarself bedoel is, maar hy is só na aan haar dat hy dit hoor.

      “Jy sal loop, chamudah, ek weet dit vir seker.”

      Sy skud haar kop. “Met die storm kon dr. Goldberg nie hier uitkom nie. Die ander dokter het na my been kom kyk. Hy het nie veel gesê nie, maar ek kon sy gesig lees. Dit het nie vir hom goed gelyk nie.”

      “Lieweling, Goldberg sal beter weet wat aangaan.”

      “Dié dokter was duidelik bekommerd oor ek nog steeds so baie pyn het.”

      Marc probeer magteloos aan iets dink wat haar sal gerusstel. Hy besef ook dat die meeste van sy kosbare minute byna verstreke is. “Het jy enige idee wanneer Goldberg sal terug wees?”

      Sy skud haar kop. “Daar is soveel mense wat nou inkom wat seergekry het of siek geword het en nie vroeër by ’n hospitaal kon uitkom nie. Hier is chaos.”

      Hy kyk na die bed langs hare wat duidelik beset is te oordeel aan die goed op die nagkassie.

      Sy knik. “Dis ’n Palestynse vrou wat in ’n motorongeluk was. Haar bene is albei byna so erg soos myne. Hulle het haar vanoggend met ’n helikopter uit Khan Yunis ingevlieg. Sy is nou in die teater.”

      “Dit het nogal druk by die ingang gelyk toe ons gekom het.”

      “Ken, dit gaan rof. Ek weet nie eens of dr. Goldberg vandag by my sal uitkom nie. Ek …” Sy bly stil.

      “Wat?”

      “Ek is bang dat ek so baie pyn het omdat daar weer iewers ontsteking is.”

      “Nee, ek dink hulle sou dit dadelik agtergekom het.”

      “Ek weet nie. Marc, ek is bang ek gaan nie weer hier uitkom nie.” Toe ruk daar snikke deur haar hele lyf en sy huil.

      Hy buk oor haar. “Chamudah.”

      ’n Suster het in die deur verskyn en Marc kom orent. Ook sý lyk bleek en vermoeid van lang ure se werk in moeilike omstandighede.

      “Kol. Cohen wag vir u in die voorportaal,” sê sy verskonend vir Marc.

      “Ek kom dadelik.”

      Vir Rivkah sê sy: “Dr. Goldberg is in die hospitaal, Rivkah, hy sal die een of ander tyd vanoggend nog by jou uitkom.

Скачать книгу