Tikkun Ha'olam. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 15

Tikkun Ha'olam - Marzanne Leroux-Van der Boon Israel-reeks

Скачать книгу

vinnig, Marc. Daardie selfde nag al is die eerste Joodse winkels se vertoonvensters stukkend geslaan. Nie een van ons vier het bed toe gegaan of ons klere uitgetrek nie. Voor dagbreek die volgende oggend is daar met vuiste op ons voordeur gehamer en het ’n stuk of agt mans die woonstel binnegeswerm. Party van hulle het ’n soort uniform aangehad, ander was in burgerdrag met swastikas op die moue. Toe het daar ’n orkaan van vernietiging en plundery uitgebars. Mense wat vir jare verby die huis geloop en deur die venster geloer het as dit oop was, het toe meteens binnegekom. Dit was duidelik dat hulle dink: ‘Dít is hoe die Jode leef! Dít is hoe hulle ons geld gebruik het!’ Selfs ek kon dit op hul gesigte lees.”

      Marc merk hoe Yhoshi, wat aandagtig luister, ril. Daar is egter nie veel wat hy daaromtrent kan doen nie.

      Ilan roer in sy koffie, maar hy drink dit nie. “Een beeld bly my altyd by. My ouers se slaapkamer was die laaste vertrek wat hulle binnegeval het. Daar was Moeder se kleedtafel. Hulle het alles wat daarop was, sommer hardhandig op die vloer geveeg. Die klein spieëltjie, fraai porseleinbakkies, silwerdosies en die pot met rose. Toe het hulle die tafel in die gang uitgesleep. Hulle het ons vier wat daar gestaan het, teen die muur vasgedruk sodat hulle kon verbykom en drie van hulle het die tafel gelig en oor die balkonreling laat val. Jy kon hoor hoe die hout versplinter toe dit die stene van die binnehof tref …”

      Hy draai sy kop ’n paar maal stadig heen en weer voordat hy verder praat. Dis of hy daardie beeld uit sy gedagtes wil verdryf. “Dit was moeilik om te glo. Ons het daar gestaan soos mense wat droom. Ek weet nog wat Vader gesê het toe die boewe met sakke vol aandenkings oor hul skouers die huis uit is. Een het selfs die groot staanklok van meer as ’n honderd jaar oud onder die arm gehad. Vader het gesê: ‘Dit is net die begin.’ ”

      “Dit was nog nie eens Hitler se trawante nie?”

      “Nee. Dit was die nuutontwaakte Ariërs. En daar was niks wat hulle kon teëhou nie.”

      “Ariërs was almal wat nie Jode was nie?” vra Yhoshi sag.

      Dis of die kinderstem Ilan tot sy sinne bring. “Jy sou so kon sê, Yhoshi,” sê hy rustiger, lig sy koppie en piering op, en drink sy koffie.

      Die vlamme knetter en skiet vonke die lug in toe Marc nuwe dennebolle in die kaggel gooi. Natan het een van sy geliefde prenteboeke gaan haal en hy kyk saam met Shishi en Shmu’eli daarin.

      Hy hoor wat Ilan vertel, en hy skep sy eie, veilige wêreld, dink Marc.

      Dit sneeu steeds onophoudelik en die lug buite die venster is pêrelgrys.

      “Maar dis nie net by ons wat dit gebeur het nie. Dwarsoor Wene is daardie nag deure oopgebreek terwyl kinders agter hul ouers weggekruip het, onder beddens, in kaste – enige plek om weg te kom van die rumoer wat hul bekende wêreld oorgeneem het. Vaders en broers is sonder meer in hegtenis geneem en in die groot vragmotors gebondel. Niemand het geweet waarheen hulle geneem sou word nie.”

      “As hulle dan nie Hitler se soldate was nie, hoekom het die gewone mense dit aan die Jode gedoen?”

      “Yhoshi, dit is wat ’n mens anti-Semitisme noem. Dis die eeue oue haat wat anti-Semiete laat glo die geweld van dinge vernietig en plunder is die beloning vir jare van wag dat dit met die Jode moet gebeur. Dit is baie jare van haat en afguns. Daardie nag – en dit was die nag van Shabbat – is die storie waarvan oupas en oumas hul kleinkinders lank daarna nog sou vertel. Dit was die nag waarop die Jode uiteindelik moes boet vir alles wat hulle gedoen het, vir alles wat hulle van die armes gesteel het. Oostenryk moes skoongemaak word van ál die vuil, ál die besmetting wat die Jode uit hul stink krotte na die mooie Wene gebring het. Hulle moes boet oor hulle gevat het wat nie hulle s’n was nie …”

      “Maar …”

      “Ek weet, Yhoshi, ek weet. Die rykdom en daarmee saam die voorste posisies en die aansien wat die Jode in Wene gehad het, was nie van ander gesteel nie. Dit het vir 90% van hulle uit harde werk gekom én omdat HaShem sy volk met buitengewone gawes seën. Ken jy die Birkat Kohanim, waarmee Adonai, baruch Hu, die priesters beveel het om Israel te seën?”

      Yhoshi knik.

      “Kan jy dit vir ons opsê?”

      Yhoshi raak vinnig aan sy kippah en sê die gebed op:

      “Y’varecha Adonai, v’yishmerecha. Ya’er Adonai panav eleicha vichunecha. Yissa Adonai panav eleicha v’yasem shalom.”

      “Ek is seker jy het gehoor wat jyself sê. Hy sal seën, Hy sal guns betoon. En shalom is veel meer as net vrede. Dis vermenigvuldigde seën. Dus kan jy sien Hy seën sy volk met vele gawes en daarmee saam breinkrag. Die geskiedenis getuig daarvan. Nie van die Jode se grootheid nie, maar van die Ewige se grootheid in hulle. En die wêreld wat HaShem nie erken nie, kan dit nie hanteer nie. Die Jood is vir hulle die teken van ’n onveranderlike God, wat sy volk nie volkome sal laat uitroei nie, selfs al probeer die wêreld ook hóé hard. En hulle haat dit om dit te weet. Daarom haat hulle ons en versin hulle ál dié verhale. Omdat soveel mense dié leuens al met hul moedersmelk inkry, glo hulle dit. Daarom gebruik Israel se vyand dit om hul volgelinge mee aan te hits sodat hulle doen wat hierdie mense gedoen het.”

      Dit is vir ’n rukkie stil voor Yhoshi vra: “Maar jul familie kon betyds vlug?”

      “Nie heeltemal betyds nie, Yhoshi. Soos ek gesê het, my pa het moeite gehad daarmee om alles wat oor geslagte opgebou is, net so agter te laat. Dit is dieselfde probleem waarmee baie ryk Joodse mense in die diaspora vandag nog sukkel en waarom hulle nie na Israel toe kom nie, terwyl hulle wel kan sien hoe anti-Semitisme hand oor hand toeneem.”

      “Het dit al hoe slegter gegaan in Wene?”

      “Dit het beslis. Net die volgende dag, die dag waarop die referendum sou plaasvind …”

      “Wat is dit?” wil Yhoshi weet.

      “Dis ’n volkstemming. Nu, wat sien ons – ek – toe op daardie oggend? Oral waar jy kyk, was Jode op hul knieë besig om die strate van Wene te skrop.”

      “Die stráte?”

      “Die strate, ja. Bejaardes en kinders, professors en munisipale beamptes, rabbi’s en vrydenkers, Ortodokse Jode en Jode wat hulle as Christene laat doop het …”

      “Jode het hulle laat doop?” vra Yhoshi ongelowig.

      “Die kapelaan van die klein Engelse kerkie kon nie voorbly daarmee om Jode te doop nie. As jy jou tot die Christendom bekeer het, was daar dalk meer opsies om weg te kom. Daar het toue mense buite die kerk gestaan, maar die doop het hulle nie gehelp nie. Hulle moes ook strate skrop. Almal. Onder die oë van die SS en die Gestapo. Daar was ook polisielede en die mense wat vir jare langs hulle gewoon het. Die Jode is uitgejou, bespoeg, beskreeu, geskop en geslaan. Elke teken van die Schuschnigg-volkstemming moes weggeskrop word. Wene moes weer skoongemaak word van die Hapsburgers en veral van Joodse besoedeling.”

      “Kon julle nog in jul huis bly?”

      “My ouers, ek en my jonger broer is uit die huis gejaag en moes in ’n kamer in die bediendekwartiere intrek.”

      “Was Hitler in daardie stadium al in Wene?” vra Marc.

      “Lo. Hy het eers die volgende dag met groot fanfare aangekom en sogenaamd sy ma se graf gaan besoek. Dit was immers sy geboorteland. Die volgende dag het hy sy oorweldigende toespraak gehou. Daarvan onthou ek net die rumoer in die stad. Toe ek baie jare later daaroor gaan

Скачать книгу