Regardt. Regardt van den Bergh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Regardt - Regardt van den Bergh страница 8

Regardt - Regardt van den Bergh

Скачать книгу

gesê: “Ou Reggie, ek kan dit nie doen nie, ek gaan my goed pak en waai.” Hy het geen verduideliking gegee nie, maar dit was vir my skrikwekkend.

      Nadat Manie vertrek het, het Jans ons as span bymekaargeroep en vir ons ’n pep talk gegee soos Hitler dit nie met sy generaals kon nadoen nie.

      Ek was in ’n sieleworsteling. Manie was sowat ses jaar ouer as ek, maar daar het ’n goeie vriendskap tussen ons ontwikkel. Hy het my oor die rolprent in sy vertroue geneem en vertel wat hy wou doen. Skielik moes ek my lojaliteit teenoor Manie vir Jans gee, wat vir my verskriklik moeilik was.

      Ek het gevoel hulle het die rolprent by Manie gekaap. Of dit was omdat Jans die werk nodig gehad het en of Emil werklik nie van Manie se werk gehou het nie, sal ons nooit weet nie. Niemand sê vir jou die een week jy is besig om ’n Tsjechov te maak en die volgende week vervang hy jou met ’n ander regisseur nie.

      Ons het toe weer begin skiet en daar was ’n paar dinge waarvan Jans nie gehou het, onder andere nie van Trudie Taljaard as die vroulike hoofrol teenoor Marius Weyers nie. Ek het ’n lang pad saam met Jans geloop en ken hom, want ek is die akteur wat die meeste rolprente saam met hom gemaak het. Hy is nie ’n maklike mens nie. Aan die een kant is hy ’n vriendelike en warm mens, maar hy kan in ’n oomblik in die teenoorgestelde verander en dan verskriklik skel en vloek.

      Hy het eendag op stel vir Trudie ’n rok laat aantrek, net om haar daarna te beveel om ’n ander rok te gaan aantrek. Dan moes sy haar hare so maak en dan so. Dit het die hele middag so aangegaan totdat Trudie se oë so geswel was van al die gehuil dat sy nie voor ’n kamera kon verskyn nie. ’n Dag of wat daarna het hy haar in geen onduidelike taal nie in die pad gesteek.

      Hierdie ontsaglike sielewroeging het steeds in my gewoed, want eintlik hou ek baie van Jans. Hy het vir my ’n fantastiese ding gedoen met Die kandidaat, want daar het ek die gewigtigheid besef van wat ons met rolprente kon doen. Jans word as die pionier van die rolprentbedryf van die 1960’s en -70’s beskou. Hy het baanbrekerswerk gedoen in ’n tyd toe die rolprentbedryf in Suid-Afrika nouliks die sosio-politieke werklikhede van die land weerspieël het. Met Die kandidaat het hy, terwyl hy sterk op Carl Jung se psigoterapie gesteun het, die psige van die Afrikaner ondersoek en die skynheiligheid van die sogenaamde “super Afrikaners” ontmasker. Katrina was een van die mees vernuwende rolprente in die 1960’s. Die rolprent fokus op ’n bruin vrou wat haarself as wit voordoen om vir haar en haar seun ’n beter lewe onder apartheid in Suid-Afrika te bewerkstellig. Met Jannie totsiens het Jans ’n sielsieke-inrigting as allegorie gebruik om die Suid-Afrikaanse samelewing onder apartheid uit te beeld. Dit was Suid-Afrika se eerste avant-garde rolprent wat ’n opskudding veroorsaak het. Pappa Lap en Eendag op ’n reëndag het die klasseverskille onder wit Afrikaners ondersoek. Ek het groot respek vir Jans se werk gehad.

      Daar was darem ook die ligter oomblikke op die stel van Ongewenste vreemdeling. Jans het ’n toneel opgestel waar ’n klomp bome in ’n ry die een na die ander moes val. Die toneel speel af in ’n plantasie waar bome gesaag word. Sandra Kotze, wat vir Trudie Taljaard vervang het, bring vir Marius Weyers koffie waar hy staan en werk. Terwyl sy in die voorgrond loop, moet die bome dan in die agtergrond val soos wat die skoot haar volg. Jans verduidelik vir Sandra die toneel en sê vir haar wanneer hy só maak – en hy wys hoe hy sy hand sal laat sak – moet sy loop en die bome sal dan begin val. Voordat hy nog verder kon praat, dog die ouens wat die bome moet laat val, dat hy vir hulle die teken gee. Hulle saag die laaste stukkie wat elke boom vashou en daar val die ry bome voor die kamera nog rol!

      Marié du Toit en Barry Trengrove het ook in die rolprent gespeel en iewers is daar ’n toneel waar Marié geskiet word. Dit vereis ’n kenner om hierdie tipe spesiale effek te doen, maar ons het nie iemand gehad nie. Toe moes ons maar ’n plan maak. Ek het die buskruit die vorige dag gekry en Jans wou dit toets voordat ons die toneel skiet. Ek sou die proefkonyn wees. Hulle maak toe ’n “squib” – dit is wat ’n mens die toestelletjie noem wat met die bloed ontplof wanneer iemand in ’n toneel met ’n vuurwapen geskiet word. Die buskruit kom onder die sakkie met bloed sodat wanneer die buskruit ontplof, die bloed “spat”. Deesdae kry ’n mens ’n slagdoppie wat dit laat ontplof, maar Jans-hulle vat toe ’n JIK-bottel se prop en sit dit op ’n leergordel vas en bind die gordel om my lyf. Hulle sit die buskruit in die JIK-doppie, sit die sakkie met bloed bo-op dit en plak die spul met kleefband toe. Die leergordel sit nou teen my lyf en die selfgemaakte squib aan die buitekant van die gordel. Die draad wat die squib moet afsit, word agterom my lyf geneem en hulle trek vir my ’n wit hemp aan. Daar was ’n paar mense by, onder ander my ma, maar geen kamera nie.

      Jans sê maak reg en ek staan met my hande in die lug, soos Marié gaan doen, en Jans sê, een, twee, drie. Boem! Jy kan nie glo nie. Daardie ontploffing ruk my byna van my voete af en blaas die hele voorste deel van my hemp weg. Dit wat van die hemp oorgebly het, hang in slierte langs my lyf en het met die ontploffing aan die brand geslaan. Daar waar die gordel gesit het, brand die squib my ’n helse blaas, tot onder my bors en onder my ken. Ek begin hardloop en skree en vloek terselfdertyd: “Ek brand, ek brand,” en ek hol in die rondte. My ma skree vir my: “My kind, moenie so vloek nie.” Jans skree vir haar: “Laat die kind vloek, jy kan mos sien hy brand.”

      Hulle het byna my dood veroorsaak. My wind was uit van die ontploffing en ek het gehyg om ’n woord uit te kry. Hulle het natuurlik te veel buskruit ingesit. Jy kan buskruit om ’n boom vasbind en dan blaas jy die boom weg.

      Streng gesproke moet daar ’n mediese offisier by oefeninge soos dié wees, maar daardie dag was daar nie. Gelukkig het ek net geringe brandwonde opgedoen. Die volgende dag was my lyf seer en die blase gevoelig. Jans het die oefening ’n paar keer herhaal, maar hulle het toe die squib om ’n boom vasgemaak. So het hulle geoefen totdat hulle die volgende dag die toneel met Marié kon skiet. Deesdae werk die squibs, wat om en by R800 kos, uitstekend. In daardie dae het ons baie dinge gedoen wat ’n mens nie mag gedoen het nie. Was daar maar ’n kamera wat gerol het, kon ons dit vir baie geld aan Funniest Home Videos verkoop het.

      Vir Manie moes dit ’n wrang smaak in die mond gelaat het toe ek aangebly het om vir Jans te werk. Daarna het Jans my die hoofrol saam met Katinka Heyns in Eendag op ’n reëndag (1975) gegee. Dit het die spanning in my en Manie se verhouding vererger. Hy het my daarna nooit weer gevra om vir hom ’n groot rol te speel nie – ek was hartseer daaroor. Ons het steeds saam gekuier, gedrink en musiek gemaak – hy het trompet gespeel en ek saksofoon – maar ons verhouding was nooit weer soos voor Ongewenste vreemdeling nie. Ek glo Manie het ’n vergewensgesinde hart gehad en my steeds soos ’n vriend behandel, maar ek het net hier en daar vir hom ’n rolletjie in ’n reeks gespeel.

      Ek en Jana was vriende met Grethe Fox en ons het Manie aan haar voorgestel toe hy alleen in Johannesburg gebly het. Sy was ook van die Kaap en ons het haar in Dokter, dokter leer ken. Daarmee het ons ons vriendskap hervat en effens nader aan mekaar gekom.

      Manie het aanvanklik teologie studeer en sy eerste kamera met geld gekoop wat hy as kerkorrelis verdien het. Hy was destyds die kameraman van onder andere die gewilde Hoor my lied (1967) waarin Gé Korsten gesing het.

      Saam met Jans was Manie definitief dié regisseur in die land, ’n kineas. Hy was ’n filosoof, maar hy kon nooit daardie filosofie uitleef nie. Sy werk was sterk histories en met die geskiedenis wou hy die nou belig en die toekoms verken. Hy kon ons Jean-Luc Godard geword het; iemand wat liefdesverhaaltjies vertel, maar eintlik besig is met die groot politiek van die lewe, soos met Die kandidaat. Laasgenoemde dateer uit 1968 en Manie sou twintig jaar later vir ons ’n nuwe perspektief op die Suid-Afrikaanse samelewing kon gegee het, maar hy het nooit die geleentheid gehad nie.

      Ons was vriende met Frederik van Zyl Slabbert en hy en Manie het groot pêlle geword. Hulle was deel van die groep Afrikaners wat in 1987 ’n vergadering met die ANC in Dakar bygewoon het. Dit het veroorsaak dat hy nooit weer by die SAUK werk gekry het nie. Hy het met homself begin worstel asook met die frustrasie van die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

Скачать книгу