Regardt. Regardt van den Bergh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Regardt - Regardt van den Bergh страница 7

Regardt - Regardt van den Bergh

Скачать книгу

tafel in ’n kombuis. Ek sê toe vir my ma sy moet maak soos die ou mense gemaak het en hom was. In die toneel het my ma ’n emmer water en ’n waslap en sy pak die “dooie” Joe en was hom dat die water spat. Sy het haar so goed in die toneel ingeleef.

      Dit was vir my baie spesiaal en ’n voorreg om haar voor die kamera te kon hê. Die lekkerste was om die rolle met my ma te bespreek en ek het teruggedink aan die dae toe sy en my pa en oom Gordon om die tafel gesit en oor rolprente gepraat het. Daardie tye sit nog vas in my.

      Oom Gordon wou destyds ’n rolprent met die titel Kaalgat tussen die daisies maak. Koos Roets het toe uiteindelik die rolprent in 1997 met Zack du Plessis, Frank Opperman en Willie Esterhuizen gemaak. Dit was iets anders as wat oom Gordon in gedagte gehad het, maar Koos het die titel by my gekry, want ek het hom die storie vertel. Ek het baie keer in my lewe gewonder hoe dit sou gewees het as my pa nog geleef het …

      Daar was mense wat agteraf gepraat het omdat ek my ma in my rolprente gebruik het, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. My ma was reg vir die rolle. So het sy dan ook ’n rol gehad in die TV-reeks Meisie van Suidwes (1984) wat ek vir die SAUK gemaak het. Vir Jana het ek ook dikwels in my rolprente of TV-reekse gebruik en dieselfde kritiek verduur. Jana het vir my in die gewilde TV-reeks Die dood van Elmien Adler (1984) gespeel. Toe ek Acts (1993) in Tunisië gaan skiet het, het ek Jana vir ’n klein rol laat kom, want sy was die regte akteur daarvoor – ek het net gedink, ag, nepotisme se voet.

      In matriek het ek besluit om drama te gaan studeer en nadat ek met my ma daaroor gepraat het, het ek besluit om Ikeys toe te gaan. Die vernaamste rede waarom ek die Universiteit van Kaapstad gekies het, was dat ek Engels beter wou leer praat. Ek het ingeskryf vir ’n BA-graad in drama en vir die Performance Diploma in Speech and Drama.

      In my eerste jaar het ek Engels liederlik gedruip, maar 66 persent van die klas het gedruip. Ons het ’n nuwe dekaan van Cambridge gehad wat vir ons ’n Engels doseer het wat geen egte boerseun kon praat nie. Dit was iets verskrikliks. Hy het ons kwaai gedruk, maar ek was dankbaar, want net soos met my Latyn-onderwyser, het ek ’n dissipline aangeleer. My liefde vir taal en woorde het ook in Engels posgevat. In my tweede jaar het ek ook nie Engels geslaag nie, maar ek het meer geleer in die Engels wat ek gedruip het, as in die ander vakke. Oom Merwe Scholtz was my dosent in Afrikaans-Nederlands.

      Ek het nie my kursus voltooi nie, waaroor ek altyd jammer was, maar my studentelewe was baie moeilik – ons het nie geld gehad nie. Ná matriek het ek eers vir ’n jaar gaan werk. In 1971 het hulle die spoorlyn verwyder wat deur die Krugerwildtuin geloop het, aangesien te veel diere doodgery is. Hulle het toe die spoorlyn langs die wildtuin gebou en ek het gehelp om die slote te grawe waarin ons die telegraafkabels gelê het. Vir die werk aan die spoorlyn het ek daardie jaar R900 verdien en dit het my eerste jaar op Ikeys betaal. Aan die einde van my eerste jaar het ek die dramaprys gewen en ’n beurs gekry wat toe vir my dramavak in die tweede jaar betaal het. ’n Neef van my het my R50 ’n maand gegee en daarmee kon ek die ander vakke betaal, maar ek het swaar geleef. Ek het wortelsop en roosterbrood geëet. As ek kon, het ek Marmite gekoop. My begroting per dag was 50 sent – 45 sent vir ’n omelet en 5 sent vir ’n koffie. Dit was al wat ek kon eet.

      Die eerste ses maande op Ikeys het ek en ’n BCom-student in Claremont ’n kamer in ’n huis gedeel. Ná die vakansie het ek vir ses maande by die akteur Cobus Rossouw se ma, tannie Susan, gaan bly. Dit was hemel op aarde. Ek het elke oggend ’n heerlike ontbyt gekry en sy het baie mooi na my gekyk. Aan die begin van my tweede jaar het ’n pêl my oortuig dat vier van ons ’n huis moet huur. Dit is waar die moles begin het. Ek het nie meer so hard gewerk nie en begin jol. Alhoewel ek nie gedrink of gerook het nie, want ek het nie geld gehad nie, het ek partytjies begin bywoon en meisies en drank is nooit ’n goeie ding nie. Dit alles het gemaak dat my studies tweede viool moes speel, en ek was nog my hele lewe lank spyt dat ek nie my kursus voltooi het nie.

      ’n Oproep van regisseur Manie van Rensburg in September van my tweede jaar het verder bygedra tot die beëindiging van my studies. Manie het my gebel en gesê hy is besig met ’n rolprent genaamd Ongewenste vreemdeling (1973, waarin my ma ook ’n rol gehad het), en hy wou weet of ek nie wil kom help nie. Hy sou my ’n klein rol gee en betaal. Ek was buite myself van blydskap toe ek hoor wat die vergoeding sou wees. Ek het met Manie afgespreek en toe die September-vakansie aanbreek, het ek my tas gepak en koers gekry Knysna toe waar hulle die rolprent geskiet het. Ek het daardie geld broodnodig gehad vir my studies.

      Ná twee weke se skiet het Jans Rautenbach vir Manie van Rensburg as regisseur vervang. Ek het aangebly en aan die einde van die September-vakansie vir Jans gesê ek moet teruggaan al is hulle nie klaar geskiet nie. Jans wou hê ek moes later teruggaan, maar ek was baie agter met my studies. Ek het ’n klomp dramastukke gehad om te lees, en ek het stadig gelees. Dit was dramas van Ben Jonson tot Alan Ayckbourn tot Samuel Beckett. Jans sê toe vir my: “Jy kan nie nou teruggaan nie. Los die universiteit, man. Moenie worry oor die universiteit se papiertjie nie, ek sal vir jou aan die einde van die jaar ’n papiertjie gee. Dan kom jy saam met my Johannesburg toe en help my om die rolprent te redigeer.”

      Toe Jans dit sê, kon ek natuurlik oor die maan spring – enigiets om in die rolprentbedryf te kom. Dit was regtig my kaartjie tot die bedryf waaroor ek jare al gedroom het. Sonder om twee keer te dink het ek my ma gebel en gesê ek gaan nie terug universiteit toe nie; ek het ’n werk by Jans gekry. Ek het my rol klaargemaak en vir Jans met eenvoudige produksiewerk gehelp.

      Toe ek later teruggaan Kaapstad toe om my goed te gaan haal, was professor Robert Mohr, by wie ek drama geloop het, baie teleurgesteld dat ek nie die kursus sou voltooi nie.

      Ons is Johannesburg toe om die rolprent te gaan redigeer. Jans was baie lief vir pap en ek het seker drie tot vier keer in die week vir hom pap en wors op braaihout gemaak. Ek het hout daar by Lonehill gaan haal toe daar nog nie huise was nie en dan sy pap en wors vir hom gemaak en koffie aangedra. Dit was my eerste ervaring van filmredigering.

      Net so skielik soos my kortstondige studies tot ’n einde gekom het, net so skielik het ek in die rolprentbedryf beland. Ek was 21 jaar oud en ek was presies waar ek wou wees.

      Daar is op hierdie aarde geen sekuriteit nie; daar is net geleenthede.

      – Douglas MacArthur

      Hoofstuk 3

      Ongewenste dilemma

      As jy iewers ’n pad sonder enige struikelblokke vind, lei dit waarskynlik nêrens heen nie.

      – Frank A Clark

      As Die kandidaat my denke gevorm en my oor ’n bestemming laat droom het, was Ongewenste vreemdeling my kaartjie na daardie bestemming. Tog was Ongewenste vreemdeling vir my op ’n persoonlike vlak sleg.

      Ek was ’n week op Knysna op stel, toe ’n ingenome Emil Nofal, die vervaardiger van die rolprent, vir Manie bel en sê: “Dit lyk soos dié Suid-Afrikaanse Tsjechov wat julle daar maak.” Manie was so opgewonde. ’n Week later, op die Sondag, bel Emil egter weer en sê net vir Manie: “Ons kom af Knysna toe.” Manie het my vertel hy het dadelik geweet Emil het bedoel hy en Jans Rautenbach kom Knysna toe. Emil en Jans het saam die rolprentmaatskappy Emil Nofal Films besit.

      Emil en Jans het die volgende dag op Knysna aangekom en saam met Manie het hulle in ’n hotel agter ’n toe deur vergader. Ek het tee aangedra en gehoor hoe hulle daar in die kamer op mekaar skree. Toe ek op ’n keer tee wou inneem, het hulle net vir my gesê: “Gaan uit!” Emil het die tee deur ’n skrefie in die deur geneem en toe het ek geweet daar is groot moeilikheid. Dit het vir nog ’n dag so aangehou waarin die produksie stilgestaan het. Die ooreenkoms was toe dat Jans elke skoot van Manie sou goedkeur in terme van beligting, hoeke en kamerabeweging. Nodeloos om te sê, is van die skote afgekeur.

      ’n

Скачать книгу