Regardt. Regardt van den Bergh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Regardt - Regardt van den Bergh страница 6

Regardt - Regardt van den Bergh

Скачать книгу

neem. Sy moes egter dringend op ’n ander plek wees. Ek het planne gemaak om by die oefening uit te kom, want ek het geweet as ek nie vir die oefening opdaag nie, gaan hulle my nie kies nie. Ek het die oefening gemis en toe nooit vir Transvaal gespeel nie – ’n teleurstelling wat ek vir jare in my omgedra het.

      Tant Anna Neethling-Pohl – sy was my peetma – wou gehad het ek moes na Tukkies se dramaskool toe gaan. Sy het geweet ek speel goed rugby en wou gehad het ek moes vir Tukkies en uiteindelik Noord-Transvaal (vandag die Blou Bulle) gaan speel het. Dit sou vir jou ’n goeie ding gewees het.

      My huismense was nie die tipe wat verskriklik gedruk en gesoen het nie, maar daar was liefde in ons gesin en ek het altyd geborge gevoel. Dit was ’n huis van gesprek, boeke en stories. In die winter het my pa die kaggel gepak en dan het ons na sy stories gesit en luister. Vroeg in die oggend oor naweke wanneer ons opstaan, het my pa vir ons gedigte gelees. Ons het veral van AG Visser se lang spookgedig “Die ruiter van Skimmelperdpan” gehou: “Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan, by ’n draai in die mond van die kloof, het ’n bom in die oorlog ’n vlugtende man op ’n perd soos ’n swaardslag onthoof …” Later het my pa vir ons NP van Wyk Louw se werke gelees, soos Lojale verset, en artikels wat oom Wyk in die koerante geskryf het.

      Daardie wonderlike samesyn en die bewustheid van ons as gesin – my pa, ma, suster en boetie, wat toe nog jonk was – het ’n blywende indruk op my gelaat. Wanneer ons saans vir aandete aangesit het, het ons eers na die radioverhaal “Soetmelksvlei” geluister.

      Daar was kere dat dit nie met my pa se akteurswerk goed gegaan het nie. Ek onthou die paar kere wat hy in woede uitgebars het. Een keer was hy so moedeloos dat hy die radio – waarop ons dikwels sy stem in die verhale en radiodramas gehoor het – in die vuur gegooi het.

      Hy was dikwels van die huis af weg, want hy het elke jaar in twee of drie rolprente gespeel. Wanneer hy dan terugkom, het ons hom oor alles uitgevra en soms het ons na die rolprente gaan kyk. Dit het ek baie geniet. In 1962 het ons saam met hom na die première van Stropers van die laeveld, waarin hy die hoofrol en saam met onder andere Brian O’Shaughnessy en Patrick Mynhardt gespeel het, by die Veldskoen-inryteater gaan kyk. Dit was lekker, want dit was nie vir my nodig om ’n pak klere aan te trek nie. My pa het met die mense oor die mikrofoon gepraat en daarna het ons na die rolprent gekyk. Die lekkerste vir my was dat wanneer die rolprent klaar was, die mense in plaas van hande klap, hul toeters aanhoudend geblaas het – dan het ek sommer baie trots gevoel op my pa se prestasie.

      Sommige van die rolprente het ons nie gesien nie, spesifiek die paar Duitse rolprente waarin hy gespeel het. In Der Rivonia-Prozess (1966) wat oor die Rivonia-verhoor gehandel het, het hy die rol van Percy Yutar gespeel wat die aanklaer in die verhoor was. Yutar was die eerste Suid-Afrikaanse Jood wat as prokureur-generaal aangestel is. Tydens die verhoor is meneer Mandela en sewe ander lewenslange tronkstraf opgelê.

      Toe ons in Bez Valley gebly het, het my pa en ma deur moeilike tye gegaan, waarvan ek nie veel geweet het nie omdat ek te jonk was. Hulle was vir ’n tyd lank uitmekaar en ek en my suster het vir ses maande by oom Gordon Vorster en sy vrou in Parkhurst gaan bly. Hulle is toe versoen en my pa, wat in daardie tyd baie gedrink het, het ophou drink. Toe ek op laerskool was, het hy nie gedrink nie, maar ek onthou nog goed die keer – ek was rondom standerd 5 – toe hy in ’n bieradvertensie gespeel en dronk by die huis gekom het. My ma het my vertel hy het haar gevra dat sy hom moet toelaat om vir ’n week lank te drink waarna hy dadelik sou ophou. Indien hy nie sou ophou nie, sou hy na die rehabilitasiesentrum gaan waar hy voorheen was.

      My ma was die vrou agter my pa. Sy het hom bygestaan en gehelp om die sterhoogtes te bereik. Dit was net aan haar te danke dat daardie wonderlike dag van oorwinning vir hom aangebreek het – die dag toe hy met ’n sterk stem kon sê: “Dankie, nie vir my nie. Ek drink nie meer nie.” Met my ma se hulp het hy die talentvolste maar ook nederigste rolprentster geword. In 1965 het hy die Akademie se erepenning vir sy spel in Wild Season gekry.

      Akteurs praat oor karakters en analiseer karakters. Ek kon vir ure sit en luister na die stories tussen my pa en oom Gordon. Saans het hulle en Emil Nofal, David Millin en Harry Hughes, ’n filmredigeerder, gesit en stories vertel.

      Donderdagaande het my pa en ma saam met oom Gordon en tannie Vonnie Vorster brug gespeel. Dan het ek op die bank gaan lê, na hul stemme en stories geluister wat al hoe verder weg geraak het en uiteindelik het ek aan die slaap geraak. Daar was vir my niks lekkerder as dit nie. Tussen die kaartspelery deur het ek stories en staaltjies en grappe gehoor. My pa was ’n verstommend kreatiewe mens en ’n groot sport by die huis – ’n platjie wat dit nie kon weerstaan om met iemand die draak te steek nie.

      Ek het altyd gedink my pa is die skoonste akteur in die hele wêreld. Ek het hom nooit, maar nooit, ’n telefoon sien antwoord nie. My ma het altyd die telefoon geantwoord en as die persoon dan met my pa wou praat, het my ma altyd gesê: “Jong, Gert is in die bad!” Hy was gedurig in die bad.

      Een naweek toe daar baie mense by die huis was, het my pa my ’n koppie brandewyn gegee om te drink. Ek was lekker gekoring en vat toe nog my fiets en ry kafee toe. Hoe ek op die fiets gebly het, was ’n wonderwerk, maar toe ek die huis slinger-slinger nader, het ek in die hekpaal vasgery en my halfdisnis geval. Die buurtannie het my opgehelp en my kamer toe geneem om my roes te gaan afslaap.

      ’n Ander keer in standerd 8 toe my pa al oorlede was, het ek en ’n pêl ’n hele bottel soetwyn in die garage uitgedrink. Ons het so getrek geraak dat ons nie op ons voete kon staan nie. Ek het by die huis ingekruip en weer uitgekruip om te gaan opgooi. My ma was verskriklik kwaad. Sy het in die kombuisdeur gestaan en vir my geskree: “Vrek in jou drankroes!” Ek verstaan nou dat sy dit teen ’n bepaalde agtergrond gesê het.

      Daarna het ek nie juis weer op skool gedrink nie. Miskien net ’n bier by tye soos met ons matriekafskeid toe die onnies ons vir ’n bier uitgeneem het.

      As vryskutakteurs het my pa en ma nie ’n vaste inkomste gehad nie. My pa se inkomste was van rolprent na rolprent met tussenin ander vryskutwerk. Ek onthou my ma het Woensdae op haar Olivetti-tikmasjien aan haar radioprogram Hospitaaltyd gesit en tik – my hele kinderlewe wat ek kan onthou, het sy dit gedoen. Sy het die program geskryf en aangebied, briewe voorgelees en goeie wense vir luisteraars in die hospitaal toegewens. Ná my pa se dood was dit ons enigste inkomste. Dit was ’n wonderwerk hoe sy ons vier kinders met Hospitaaltyd grootgemaak het.

      My pa, wat in 1968 oorlede is, het nooit die geleentheid gehad om TV te beleef nie. Met die aanvang van TV in 1975 het my ma in een van die eerste TV-reekse gespeel, Net ’n bietjie liefde (1977). Dit was ’n gesinskomedie oor die Vermaak-gesin waarin onder andere sy, Julie Strijdom, Esmé Euvrard en Dana Niehaus gespeel het.

      Vir my ma was dit ’n opwindende tyd van haar lewe. Sy het min geleenthede as aktrise gehad, want sy het haar lewe vir ons as gesin gegee. Rayford Daniel, ’n hoogaangeskrewe teaterresensent, en Percy Venable het my eendag vertel van my ma se uitstekende spel in die Moliére-stuk, Die vrek, en in Nag het die wind gebring, ’n stuk wat deur WA de Klerk geskryf is. Sy het toe nog as Dulcie Smit gespeel.

      Sy het natuurlik landswyd bekend geword as Ant Stienie in die TV-reeks Agter elke man (1985-1988). Dit het vir haar baie beteken. Ek was toe al uit die huis en net my jongste suster, Liesl, was nog in die huis. Met Vyfster (1981) het ek vir my ma ’n rol gegee en van toe af het ek haar gereeld, as ek kon, in my rolprente gebruik. In Circles In a Forest (1990) en in The Sheltering Desert (1992) het ek haar ’n rol gegee waarin sy regtig mooi gespeel het. Die Suid-Afrikaanse akteur Joe Stewardson het saam met haar gespeel. Joe het dronk daar in Knysna, waar ons Circles In a Forest verfilm het, aangekom en sy mond stukkend geval toe hy uit die vliegtuig geklim het. Dit het ons drie dae geneem om hom nugter te kry. Sy mond is met steke toegewerk en ons moes die res met grimering doen. Arnold Vosloo, wat ook in die rolprent gespeel het en vir wie ek later daar tydens die verfilming na die Here gelei en

Скачать книгу