Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter страница 5

Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter

Скачать книгу

dat my pa ’n fout was.”

      “Ek hou van jou ma.”

      “Ek hou van jou pa.”

      “Ek hou meer van my eie ma.”

      “Ek hou ook meer van my eie pa,” het ek hom getroef.

      “As hulle trou, sal ek vir jou ma Ma sê.”

      “Hoekom?”

      “Omdat ek van haar hou. Omdat my pa daarvan sal hou.”

      Ek het ’n rukkie doodstil gesit, dit oordink. Wat sou my pa daarvan sê as ek vir oom Danie ook Pa sê? Miskien, het ek gewonder, hoef hy nie te weet nie. “Dan sal ek ook vir jou pa Pa sê.” Ons het na mekaar gekyk, toe gelag.

      “Dan,” het Klein-Danie gesê, “hoef ons nie meer skaam te wees by die skool omdat ons pa’s en ma’s geskei is nie. Of omdat ek nie ’n boetie of sussie het nie.”

      “Ja.” Ek was nog nooit dáároor skaam nie, maar daardie dag vol son sou ek met alles wat Klein-Danie sê, saamstem.

      Ná aandete het oom Danie ons verras met ’n video wat hy gehuur het. “Vir die verjaardagnooi, omdat sy vandag so mooi in haar bikini gelyk het.”

      “Nou toe,” het my ma ons aangejaag, “trek julle nagklere aan, dan kan ons kyk.”

      Ek het gehardloop, al was dit streng teen die reëls, sodat ek die badkamer eerste kon gebruik. My ma het dié keer nie geraas nie.

      Die televisie was in my ma se kamer, en die twee grootmense het op die bed gelê en kyk. Ons twee kinders onder op die vloer, voor die bed.

      “Anna, kom lê hier by ons,” het oom Danie genooi. “Ons kan darem nie die verjaardagmeisie op die grond laat lê nie.”

      Hy het opgeskuif sodat hy in die middel lê, met ma en dogter weerskante van hom.

      Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, eers het ek gedink ek droom, maar dit was te werklik. Toe ek regtig daarvan bewus word, was sy linkerhand, die hand naaste aan my, oral op my onderlyf. Hy het my gevryf, dáár. Ek was lam. Van skok. Kon nie beweeg nie. My ma het niks gesien nie. Of het sy? Hoekom doen sy niks? Is dit wat pa’s, of amperstiefpa’s dan, veronderstel was om aan kinders te doen? Hoekom doen my pa dit dan nie? Of sou hy dit nog doen?

      Hy het sy mond teen my oor gedruk, ek kon sy warm asem voel. Die soet geur van Old Spice ruik. “Sjuut,” het hy baie saggies gefluister. “Dis ons geheim. Omdat jy so mooi is.”

      Hy het eers sy hand uit my broekie gehaal toe ek begin ruk. Verskriklik ruk. Hoekom was my bene so lam? Hoekom kon ek nie praat nie? Toe die lewe terugkom in my bene, toe my lyf ophou ruk, het ek opgestaan. “Ek’s vaak, ek gaan slaap.”

      “Maar die fliek is nie klaar nie!” het Klein-Danie gekeer.

      “Los haar maar, sy het te veel son weg, dink ek. Lekker slaap, Anna.”

      “Ma ook.”

      Ek het toilet toe gestap. Lank gewag om te kan piepie. Die piepie wou net nie kom nie. Toe bed toe. Ek het so koud gekry onder die kombers en deken dat ek na die gangkas gesluip het om nog ’n kombers te gaan haal. Nog steeds was dit nie genoeg nie. Ek het gelê en bewe. My lyf was yskoud. Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom? Ek het vir Spokie onder van my voete af opgetel, hom onder die komberse ingedwing, teen my maag, sodat ek ’n bietjie van sy warmte kon steel. Hy het hom lank uitgestrek, hard begin spin. “Ek is lief vir jou, Spook,” het ek vir hom gefluister.

      Diep in die nag het ek wakker geskrik, die nattigheid tussen my bene gevoel. Spokie was lankal weg, die plek waar hy gelê het, was koud en nat. Handdoeke gaan haal, styf om my lyf gedraai sodat ek die nattigheid nie voel nie. Vroeg die volgende oggend die nat handdoeke tussen die ander in die kas weggepak. Ek sou later vir Paulina van die nat handdoeke vertel, saam sou ons ’n plan kon maak. Die ekstra kombers in die gangkas teruggesit. Self my bed opgemaak. Ma was so trots op my. Sy moes nie weet van die nattigheid in my bed nie. Ek wou my ma vertel, maar hoe? Wat sou haar reaksie wees? Ná wat by die skool gebeur het, kon ek nie. Ek het nie die moed gehad om met haar oor sulke dinge te praat nie. Tussen my en my ma was daar nog altyd ’n kloof waaroor nie een van ons ’n brug kon of wou bou nie. My ma sou nie verstaan dat dit nie my skuld was nie.

      Die Maandagmiddag ná skool lê daar die mooiste pop op my bed. Met die fynste klere aan. “’n Porseleinpop. Is sy nie pragtig nie?”

      “Sy is! Dankie, Mamma!”

      “Dis nie van my nie, Anna. Dis van oom Danie. Hy bederf jou vreeslik.”

      Die pop wás mooi, maar as jy goed gekyk het, sou jy die spot in haar oë gelees het.

      Queenstown. Ek sal moet stop vir petrol. En ek is dors. Ek kyk weer op my horlosie, daar is genoeg tyd om in die Wimpy te gaan sit. Dis koud. Ek sal koffie drink, iets eet. Ek kry ’n plekkie naby die kombuis. Ek hou daarvan naby die kombuis, die stemme laat my altyd gerus voel, asof ek nie so alleen is nie. Vanaand het ek dit meer as gewoonlik nodig. Ek’s bang. Moenie! keer ek myself. Moenie. Konsentreer. Ek mag nie nou bang word nie. Ek moet deurdruk. Ek moet doen wat gedoen moet word. Wat ek lankal moes gedoen het. ’n Vakerige jong meisie kom neem my bestelling. Dis laat, ek wonder tot wanneer sy nog moet werk. Die plek is stil, dis net ek en ’n ouerige man wat kliphard aan sy koffie slurp. Wonder waarheen hy op pad is. Dis asof daar skielik lewe in die spul in die kombuis gekom het. Ek hoor die ge-tjie-tjie. Sien die onderlangse blikke na my kant toe. Ek behoort al daaraan gewoond te wees, maar ek is nie. Almal kyk, altyd. Omdat ek, ’n vrou, bid jou aan, vormlose klere dra en verkies om sonder grimering te loop. Van my lang hare het ek jare gelede afgesien. Afgeskeer. Met ’n knipper. Borselkop. Jeans, oorgroot hemde, tekkies, dis my uniform. Ek is die androgene wese waarteen my ma so hard baklei het. Een van my gereelde kliënte het eendag reguit vir my gevra hoekom ek, wat myself met soveel mooi goed omring, nie ook mooi aantrek nie, nie ligstrepies in my hare laat sit nie, nie grimering dra nie. Ek het net gelag. En die waarheid diep binne-in my gebêre: sodat geen man, jonk of oud, ooit weer na my sal kyk met lus in sy oë nie.

      Dis ’n ander meisie, wakkerder, wat my toebroodjie en koppie koffie voor my neersit, terwyl sy onderlangs na my loer.

      Ek het vroeg al geleer om die verlede in die verlede te los. Om vorentoe te kyk, vir vandag te lewe. Dís hoekom hierdie terugreis vir my so moeilik is. Hoekom ek die dood op elke telefoon- of kragpaal sóék. ’n Uil. My pa het geglo dat ’n uil die dood voorspel. Tot dusver het ek nog nie een gesien nie. Ek eet my toebroodjie klaar, sluk hard teen die bitterheid wat in my keel opstoot. Die laaste bietjie koffie is te soet. Ek roer nooit my koffie goed genoeg nie, daar bly altyd te veel soetigheid vir die laaste sluk oor. Sou hulle in die tronk vir ’n mens soet koffie gee? Lekker sterk, soet koffie? Moenie. Los dit.

      “Sal Pappa weer trou?” vra ek terwyl ons besig is om sy nuwe bakkie te was.

      “Trou? Ek? Nee, my skat, nie maklik nie.”

      “Hoekom nie? Mamma gaan tog weer trou.”

      Hy het stil gaan staan, die nat, skuimerige spons in sy hand. Ons het sy nuwe bakkie elke Saterdagoggend gewas. Hy was heilig daarop. “Ek wou nog altyd ’n bakkie gehad het, maar jou ma het ’n gesinsmotor verkies,” het hy trots gesê toe hy my die eerste keer daarmee kom oplaai. “’n Man moet ’n bakkie hê waarop hy sy visstokke kan laai.”

      “Pappa?” het ek versigtig gevra.

Скачать книгу