Versamelde poësie. D.J. Opperman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Versamelde poësie - D.J. Opperman

Скачать книгу

daagliks digter tussen my en jou.

      Donker hart

      Soggens langs die hoogwaterstreep

      huiwer ek vir stukkies spons en kreef . . .

      Het ek lank gelede op ’n riet

      U die asynspons aangebied?

      Uit watter verborge water is

      my drome verbreekte dop en vis?

      en bosse, kranse om my uitgestort,

      gebroke tekens van ’n stryd geword?

      Die son verwaai . . . tot ’n verskeurde spinnerak

      van sterre aan ’n donker tak.

      Borrel

      Vanuit die binne-aarde

      langs die Swartfolosi styg

      gasse wat die modder stoot,

      laat opswel en plap

      en met die terugstort van klei in klei

      in skoner lug ontsnap.

      Gis siel na siel ook so

      vanaf U donker wese los

      om aarde tydelik te du tot my,

      tot Zoeloe, tarentaal en vingerpol?

      Maar met die terugsteier van klei in klei

      breek U suiwerder ooit los?

      Verbond

      Die apie deur die tierboskat gevang,

      kla droewig teen die berg se ruie hang

      met die verdriet van God, dog sterf sonder verwyt

      teenoor die tande wat hom byt;

      twee koedoes in die groot geveg

      met horings onontkoombaar vasgevleg

      kwyn nydig langs die spruit, maar deur hul stywe oë

      breek uiteindelik die wedersydse mededoë.

      Dertiende dissipel

      Toe die dassie huil onder die daeraad

      het ek verskrik die skuiling by die kruis verlaat,

      terug na U, o God, wat onvermoeid tot selfvolmaking

      deur gestaltes van die aarde wring,

      deur die geslote sluimer van die ysterklip, die tas

      in trae ranke van die wildedruif, die slu-gekaste

      oë van die mamba; terug om in alleengeveg

      volgens my sterkte U verlossing te besleg.

      Toe die dassie huil moes ek Sy kruis verlaat

      want teenoor U was dit my lang verraad.

      In die landskap

      Ek het vanmiddag in ’n halwe droom

      gevoel in oop velde warm gras,

      asof die stam van die maroelaboom

      tog êrens in my lyf gewortel was,

      asof sy takke en sy blare uit

      vervloeide grense van my liggaam kom:

      ek was die velde, kranse, elke kruid,

      die wolke en die boom wat drup met gom.

      Hoe heerlik is dit nie om God te wees

      met my gedagtes wat die wolke is;

      die berge, bome en die gras my vlees

      en elke neergetrekte bok my lis;

      hoe heerlik as my talle stemmings styg

      tot winde wat die takke snags uiteen

      verskeur maar in die gryse oggend swyg

      onder die drup van blare in die reën.

      Hy leef alleen wat saam met God kan droom,

      die wolk-wit visioene wat Hy het,

      aanvoel bo wind en windvernielde boom

      en onverskillighede van die wet

      waar Hy verdeeld saam met die visse gaan

      en met die blou visvanger langs die stroom,

      want in verdeling en die pyn bestaan

      Sy worsteling na ’n volmaakter droom.

      Water-engel

      Uit ’n afgestorwe wêreld duur

      boomvarings en die see wat slaat

      teen rotse in jou klare liggaam,

      soos ’n sprietjie mos gevange in deursigtige agaat.

      Jy is die water in die lyf se ope put

      waarin die nesvoël en die geel seringetros

      en alles aards tot trilling in jou stort

      en langsaam opgelos jou helder gestalte word;

      so bestendig jy bokant die eerste skepping

      grootser en wisselend in eie hemele,

      die palmtakke van die nag

      wat uit dun skedes van die skemering

      geel trosse sterre oopsprei oor die see

      met ver die wit magnolia van die maan.

      Vincent van Gogh

      Jy het as ’n miskende

      heilige vergeefs geveg teen die ellende

      en die onreg in die krotte van die myn,

      in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn

      en skriklike stryd van God

      leer

Скачать книгу