Versamelde poësie. D.J. Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman страница 10
![Versamelde poësie - D.J. Opperman Versamelde poësie - D.J. Opperman](/cover_pre707258.jpg)
en alles in sy skep vernietig:
leërs en stamme, strooise en gesaaides;
in vlaktes tussen berge en riviere
mans en meide met kleintjies klouend aan
die rug, in bosse en spelonke
ingedryf en oor die verre grense heen;
so het die punte van die horings nuwe
vergesigte oopgeswaai . . . En singend het
die impi’s teruggekeer met troppe vee,
bont en bruin, briekwa en wit; die beeste
van die koning het van bult tot bult gebulk . . .
En in somernagte swart soos nastergal,
dreun tussen berg en see die donderweer,
dreun tot die verte en verlig die strooise
van die Amazoeloe, die hemelvolk.
UNKULUNKULU
Onrustig het hy in sy stroois ontwaak
die nag, ’n waterkring was om die maan,
en met ’n vrees vir die groot magte
wat om hom ledig lê, het hy die stat
gewek en tot ’n offerdans gebied . . .
teen die lug het veer-dun wolke stil gehang
bokant die weemoed van die harde stemme.
Toe steek hy van sy swart-bont bulle dood,
en almal het geluister hoe ’n gees
aan hom verskyn het van Senzangakona
wat ontevrede word omdat die mans
die toorn van die ander wêreld wek –
want alle rus is swakheid en verraad
wat skuil in die verlange na die vrou –
ontevrede met die Amazoeloe
wat die stam se graan op siek en oud vermors,
en bang is vir die verste grense . . .
Knopkieries smak op grys ringkoppe.
En langs oop valleie het die buffel
deur groot stiltes dae lank verby
die swart geraamtes van latwerk gejaag,
verby opslag-pampoene en -patats,
waar bredie weeldrig in die beeskraal groei
en lui die duisendpoot en skerpioen
tussen potskerwe en hol skedels kruip.
Weg van Bulawayo met die leërs
het sy argwaan en sy jaloesie gegroei
teen mans wat in die koningstat moes bly,
tot hy vrywilligers gevra het
uit die kraal om saam met hom die ligging
en die grootte van ’n aanleg vas te stel,
maar onverwags beveel het in die veld:
“Wie tuis wil bly as ek vertrek, moet sterf !”
En Nandi wat sy meide moes oppas,
Nandi wat swanger vrouens snags laat vlug,
wat altyd pleit vir die veroordeelde,
sy wil versag, ’n week plek in hom is,
met die kort steel van sy assegaai geslaan.
Van die ongeduld en agterdog
as groepies mans gedemp of eenkant praat,
het hy na ruimtes van die jagveld
soms gevlug met sy keurbende, maar snags
herinner hy hom duideliker die fees
toe hy deur een gesteek is in die arm –
van Zwide? sy eie mense altemit? –
besef hoe alles om hom oud word,
Nandi en die wit bul van sy kudde;
dan groei sy vrees opnuut: geen kind sal ooit . . .
. . . weer sien hy die oopgevlekte meid
toe hy hom wou oortuig hoedat ’n kind
tussen die heupe van sy moeder lê,
die poeltjie water agter klip . . . geen kind
die eenheid van sy nasie breek. Hy moet
die vegter bly teen stamme op die aarde,
vir gees na gees tot by Unkulunkulu
wat die sterre en die riet geskape het
en uit die riet die mens; Sy taak voltooi,
eenkant gaan woon, geslote en alleen.
DUKUZA
Die eerste vlermuise het net gevlieg
toe moeë draers met die boodskap kom
dat Nandi sterf. Stil het Shaka van die vuur
se gloed gedraai, en al die jagters spraakloos
hom gevolg deur donker bos en vlakte;
weer was hy die kind wat na haar strooisie sluip
van hulle wat hom haat. By haar lyk
het hy gesnik en saam met hom sy volk;
maar toe hy droë oë om hom peil,
vermoed dat hulle Nandi nog verag,
en dat haar dood aantoon wie teen hom is.
Toe was sy agterdog en al sy woede
’n losgeraakte rots wat in sy vaart
klip na klip uitruk die helling af
en breed deur struike en deur bome breek;