Vers en Vlam. Jeanette Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira страница 1

Vers en Vlam - Jeanette Ferreira

Скачать книгу

ion>

      VERS EN VLAM

      ’n Poësiebloemlesing

      Graad 10 Eerste Addisionele Taal

      Dr. Jeanette Ferreira, Erna du Toit,

      dr. Hanna Geldenhuys, dr. Michael le Cordeur

      en dr. Alicia van der Spuy

      Human en Rousseau

      Enige bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek.

      Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Vers en vlam mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

      Hoe om hierdie boek te gebruik

      Inleiding tot die Afrikaanse poësie maak jou vertroud met wat poësie is, hoe jy literêre begrippe onder die knie kan kry, die geskiedenis van die Afrikaanse poësie, soorte Afrikaans, wat die kanon is en hoe gedigte vir die bloemlesing gekies is.

      Pre-lees

      ’n Kort inleiding oor die onderwerp waaroor die leerder bloot kan nadink of oor gesprek voer of oor kan skryf.

      Biografiese inligting by elke gedig gee ’n oorsig van die digter se lewe en werk.

      Die gedig in konteks verskaf agtergrond vir die gedig wat volg en verduidelik kortliks waaroor dit gaan.

      Lees

      Die gedig is van versreëlnommers voorsien, wat nie deel is van die gedig nie, maar verwysing na versreëls makliker maak.

      Woordverklarings verduidelik moeiliker woorde in Afrikaans en bevat ook Engelse verduidelikings.

      Pitkos vestig jou aandag op sake wat vir jou ’n sleutel is na beter begrip van die gedig.

      Leerfokus is ’n samevatting van die kennis van poësietegniek waarmee jy in hierdie afdeling toegerus sal word.

      LET WEL: In Pitkos sowel as Leerfokus verskyn literêre begrippe wat nie by elke gedig weer verklaar kan word nie. Dit word wel in die Glossarium verduidelik. Raad­pleeg telkens die Glossarium wanneer jy begrippe teëkom wat jy nie verstaan nie.

      Post-lees

      Kontekstuele vrae is kortvrae wat jou help om soveel as moontlik van die gedig te verstaan en dit te interpreteer, asook jou gevoel daaroor weer te gee deur meer persoonlik daarop te reageer.

      Vir jou joernaal en/of in die klas bied jou die geleentheid om skeppend op aspekte van die gedig te reageer.

      Agter in die boek verskyn die volgende:

      Glossarium waarin literêre begrippe verduidelik word. Raadpleeg dit voortdurend wanneer jy ’n gedig bestudeer - soos hierbo aanbeveel - maar keer ook hier­die proses om: Lees die Glossarium onafhanklik en kyk of jy voorbeelde van hierdie begrippe in die gedigte vind soos in hierdie bloemlesing opgeneem.

      Erkennings verleen erkenning aan instansies wat toestemming gegee het dat gedigte in hierdie bloemlesing opgeneem mag word en dui aan uit watter bundels en ander bronne dit geneem is.

      Bibliografie bevat alle geraadpleegde bronne waarvan die samestellers gebruik gemaak het.

      Inleiding tot die Afrikaanse poësie

      Die Afrikaanse uitdrukking “iemand is vuur en vlam” verwys na iemand wat baie opgewonde en entoesiasties is. Hier­die bundel se titel is aan dié uitdrukking ontleen. Dit maak gebruik van woordspeling deur ’n deel van die bekende uitdrukking te behou en ’n ander deel te vervang. Dink aan ’n gedig soos aan ’n vlam. Wanneer ’n vlam aangesteek word, verdryf dit die koue en donker, daar is lig en waarde wat veel verder as die vlammetjie strek.

      Wat bied Vers en vlam?

      Vers en vlam stel jou in staat om te beleef hoe Afrikaanse gedigte kreatief, intelligent en vindingryk met die taal omgaan. Jy sal die geleentheid kry om die taal te hoor, te lees en te skryf en só te leer hoe taal gemanipuleer kan word om iets te beklemtoon en bykomende betekenis daaraan te gee. Die studie van elke gedig is verdeel in pre-lees, lees en post-lees om die verskillende fases van begrip te vergemaklik. Die doel is nie dat jy die “regte antwoord” sal vind nie, maar dat jy sal leer hoe om te verduidelik waarom ’n woord, frase of gedig ’n bepaalde betekenis vir jou skep. Ook sal jy leer dat gedigte mens kan ontroer, vermaak en jou verbeelding gaande maak. Jy sal ook die geleentheid kry om oor die tema of sentrale gedagte in verse na te dink en te sê of jy daarmee saamstem, daarvan verskil of heeltemal ’n ander mening huldig.

      Wat is poësie?

      Skeppende skryfwerk word ook fiksie genoem. Dit verskil van niefiksie in die sin dat dit nie net met feite werk nie, maar in die besonder met verbeelding. Fiksie kan verdeel word in prosa, drama en verse. Laasgenoemde is die afdeling wat in Vers en vlam verken word. Daar word ook na verse as poësie of gedigte verwys en al drie hierdie benamings kan gebruik word.

      In verse word taal só gebruik dat dit meer betekenis skep as wat die woord of frase in niefiksie kan. Die geheim is om met so min as moontlik woorde soveel as moontlik betekenis te skep. Poësie is so ’n gekonsentreerde vorm van taal dat dit as ’t ware taal onder die mikroskoop is; selfs ’n lettergreep kan meewerk tot ’n nuwe of breër betekenis. Elke spasie, leesteken, beklemtoonde woord, weglating van ’n woord, stylfiguur, ritme, rymwoord en herhaling dra betekenis.

      Ook die vorm van ’n gedig skep betekenis. Deur die eeue heen het vaste vorme ontstaan, waaronder koeplette, tersines, kwatryne, sonnette, haikoes, limerieke en ballades. In hierdie versvorme kan die leser ’n vasgestelde rympatroon verwag, asook ’n vasgestelde aantal versreëls en strofes. Wanneer daar van hierdie vorm afgewyk word, skep ook die afwyking nuwe betekenis, omdat dit indirek kommentaar lewer op die vasgestelde vorm. Vorm en inhoud kan egter net kunsmatig geskei word: Die wending – die versreël waarin die leser van iets nuuts of onverwags lees – verskyn gewoonlik in ’n vasgestelde strofe of versreël. Gewoonlik gaan hierdie inhoudelike wending ook saam met die een of ander wending in die aantal versreëls of rympatroon. Later het die vrye vers ontstaan, wat nie gebonde is aan rym of ’n vasgestelde aantal versreëls nie. Hoewel die vrye vers nader aan prosa of drama is, is dit steeds opsigtelik korter en gebruik dit steeds een of meer van die ander verstegnieke.

      Literêre begrippe

      In die studie van poësie het daar deur die eeue heen terminologie ontstaan wat dig­vorme en tegnieke beskryf: kwatryn, assonansie, ensovoorts. ’n Lys van hierdie begrippe en verduideliking daarvan verskyn agter in die boek onder die opskrif Glossarium. Dit is net prakties om hierdie terminologie onder die knie te kry, want só word daar met een woord ’n begrip beskryf wat andersins elke keer op omslagtige wyse beskryf moet word. Die maklikste manier om dit te doen, is om dadelik die glos­sarium te raadpleeg wanneer jy op ’n begrip afkom wat jy nie verstaan nie. Saam met die verduideliking daarvan kan jy dan in die gedig ’n voorbeeld daarvan sien. Voorbeeld en verduideliking is die beste manier om nuwe begrippe te leer ken.

      Poësiegeskiedenis

      Binne die groter raamwerk van ’n land se geskiedenis het die tale in die land ook ’n literatuurgeskiedenis. En binne die raamwerk van ’n literatuurgeskiedenis het die Afrikaanse poësie ook ’n geskiedenis. Dié poësiegeskiedenis is interessant, omdat dit ’n gedig en die digter

Скачать книгу