Vers en Vlam. Jeanette Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira страница 5

Vers en Vlam - Jeanette Ferreira

Скачать книгу

aarde

      1.Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

      2.Grootouma Geldenhuys met vier kinders

      3.in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

      4.’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

      5.Grootoupa te velde wie weet waar.

      6.Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

      7.gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

      8.die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

      9.Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

      10.twee bitter woorde: smaad en hoon

      11.en die droewe wete van familiegrond

      12.vir geslagte tevergeefs bewoon.

      WOORDVERKLARINGS

      agterhaal: uitvind / Eng.: find out

      beestrok: oop treinwa / Eng.: cattle train truck

      brokke: stukke / Eng.: pieces

      droewe: droewige, hartseer / Eng.: sad

      gerug: onsekere of onbevestigde berig / Eng.: rumour

      hoon: om iemand te spot / Eng.: scorn, mock

      konfiskeer: in beslag neem / Eng.: confiscate, seize

      smaad: skandelike belediging / Eng.: insult, scorn

      tevergeefs: nutteloos, sonder sukses / Eng.: in vain, for nothing

      velde: slagveld / Eng.: battlefield

      Pitkos: Die gedig bestaan uit een strofe van twaalf versreëls. Daar is nie deurlopen­de rym nie, net enkele rymklanke wat verspreid in die eindposisies voorkom. Verskroei­de aarde ver­onderstel dat alle lewe vernietig is en dat die omstandighede eers weer geskik sal moet wees voordat lewe uit die aarde kan voortspruit. Sommige lewe sal totaal vernietig en onvervangbaar wees en dus nooit herstel kan word nie. Die ironie lê daarin dat die spreker saam met haar ouma se bitterheid dié insig geërf het: Om op grond te werk en te woon, maak dit nie noodwendig jou grond nie.

      LEERFOKUS

      alliterasie

      assonansie

      ironie

      rym

      Post-lees

      Kontekstuele vrae

      1.Voltooi: Die geskiedenis waarna verwys word in versreël 1 is …

      2.a.Uit hoeveel sinne bestaan die gedig?

      b.Gee kortliks die inhoud van elke sin weer.

      3.Verduidelik waarom “brokke” in versreël 1 ’n goeie woordkeuse is.

      4.Verduidelik die ouma se bitterheid en waarom sy smaad en hoon ervaar.

      5.Skryf die rymwoorde wat wel voorkom neer en lewer kommentaar daarop.

      Vir jou joernaal en/of in die klas

      Gesels met jou ouers of grootouers oor julle familiegeskiedenis, waar hulle oorspronklik vandaan kom, watter terugslae hulle moes verwerk, watter prestasies hulle behaal het en watter invloed dit op hulle en jou lewe gehad het. Skryf dan ’n artikel daaroor.

      Charl J.F. Cilliers

      (*25 Januarie 1941)

      CILLIERS IS IN KAAPSTAD GEBORE en skryf al sedert hy veertien jaar oud was. Hy ontvang sy skoolopleiding in Engels. Later het hy afgetree as redakteur van Hansard en hom op Yzerfontein gevestig. Sy werk het in verskeie versamelbundels verskyn. Hy is enkelouteur van die volgende bundels: West-falling light (1971), Has winter no wisdom (1979), Collected poems (1960–2008) en die bundel kinderverse Fireflies facing the moon (2008), The journey (2010), A momentary stay (2011) en die twee haikoebundels: Karoo (2012) en Grains of sand (2013).

      Pre-lees

      Skryf ’n paragraaf oor een van die volgende onderwerpe:

      •Ek word nooit moeg vir die wisseling van seisoene nie, want . . .

      •Ek wens dit kon net somer/winter/herfs/lente bly, want . . .

      “die tak vol bloeisels” in konteks: Vir die spreker is die gewilde opvatting dat die lente ’n seisoen van nuwe lewe en groei is, nie die volle waarheid nie. Hy sien ook iets daarin wat nie nuut is nie, omdat hy hom bewus bly van kontras wat altyd in alles teenwoordig is en hom nie deur een gewaarwording laat oorrompel nie.

      Lees

      die tak vol bloeisels

      1.die tak vol bloeisels

      2.se een-tonige skadu

      3.teen die lang wit muur

      WOORDVERKLARINGS

      bloeisels: knoppe waaruit nuwe blomme sal voortkom / Eng.: blossoms

      eentonige: sonder afwisseling / Eng.: tedious

      Pitkos: Hierdie digsoort het sy oorsprong in Japan maar het ook in die Weste gewild geword. Die genre is uiterlik herkenbaar aan die bou (3 versreëls en 17 lettergrepe) en tema (iets wat met seisoene verband hou). Die tema sowel as die teenstelling in die vers dra by tot die grondpatroon van die tradisionele vorm waarin hierdie gedig voorkom. Die bloeisels en die wit muur verskil direk van mekaar omdat die een kleur bevat en die ander net wit is. Tog vorm dit ’n bevredigende eenheid.

      LEERFOKUS

      haikoe

      tema

      uiterlike bou

      woordekonomie

      Post-lees

      Kontekstuele vrae

      1.Wat word as eentonig beskou? Skryf net die regte antwoord neer: Die bloeisels. / Die skadu. / Die muur.

      2.Kan hierdie gedig op grond van die volgende kenmerke as ’n haikoe beskou word en waarom sê jy so?

      a.versreëls

      b.lettergrepe

      3.Een van die eienskappe van ’n haikoe is dat dit uiteenlopende sake met mekaar in verband bring, dus teenstellings bevat. Noem ten minste drie teenstellings in hierdie gedig.

      4.Wat is die tema van hierdie gedig en hoe sluit dit by die haikoe aan?

      5.Hoe het hierdie gedig jou indruk van ’n vers bestaande uit net drie reëls beïnvloed?

      Vir

Скачать книгу