Vers en Vlam. Jeanette Ferreira
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vers en Vlam - Jeanette Ferreira страница 4
Pre-lees
Wuppertal is ’n afgeleë dorpie in die Sederberge en slegs bereikbaar deur middel van ’n grondpad. Die omgewing is ongerep en daar kom fynbos asook veldblomme in die lente voor.
Die gedig in konteks: Die gedig het ’n speelse klank met ’n hartseer ondertoon, wat die musikaliteit van Boerneef se poësie reflekteer. Hierdie gedig is een van dié wat getoonset is (gaan luister gerus by https://www.youtube.com/watch?v=7oMKwxizkNU om die melodie te hoor), juis omdat dit so klankryk is.
In hierdie speelse dog nostalgiese vers sê die spreker hy stuur vir sy geliefde ’n veer van die berggans. Daarmee wil hy vir haar sê hoe lief hy haar het.
Die berggans kom wydverspreid in Afrika voor, maar veral suid van die Sahara. Dit is een van die voëlsoorte wat gewoonlik lewenslank net een maat het. In die Antieke Tyd het Egiptenare die berggans as heilig beskou. Sy pragtige veredrag vertoon grys, bruin en wit. Hoewel dit nie direk gesê word nie, dra dit ook by tot die berggansveer se simboliese waarde.
Lees
Die berggans het ’n veer laat val
1.Die berggans het ’n veer laat val
2.van die hoogste krans by Woeperdal
3.my hart staan tuit al meer en meer
4.ek stuur vir jou die berggansveer
5.mits dese wil ek vir jou sê
6.hoe diep my liefde vir jou lê
WOORDVERKLARINGS
berggans: soort gans, (ook genoem kolgans, Nylgans, wildegans: volksname vir Alopochen aegyptiacus) / Eng.: mountain goose, Egyptian goose (common names for Alopochen aegyptiacus)
krans: groot rots / Eng.: cliff
mits dese: met hierdie / Eng.: herewith
tuit: om lippe spits te maak / Eng.: pout
Woeperdal: ouer spelwyse van Wuppertal / Eng.: older spelling of Wuppertal
Pitkos: ’n Rympatroon, assonansie en alliterasie versterk die klankrykheid van die gedig en bind dit. Die aantal lettergrepe – 8 per versreël buiten versreël 2 - in versreëls dra ook by tot die musikaliteit. Ouderwetse kontreitaal skep ’n romantiese en nostalgiese atmosfeer.
LEERFOKUS
alliterasie
assonansie
koeplet
kontreitaal
leestekens
musikaliteit
paarrym
ritme
sestet
simboliek
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.Waar is die spreker? Gee ’n rede vir jou antwoord.
2.Waarvan is die gansveer ’n simbool? Kies die regte antwoord.
a.hoogtes
b.liefde
c.skoonheid
3.Waarom is paarrym so gepas in hierdie gedig?
4.Hoe dra die mees opvallende assonansie in versreëls 1-3 by tot die atmosfeer?
5.Die spreker stuur vir sy geliefde ’n berggansveer. Hoekom, dink jy, stuur hy juis hierdie item?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Skryf ’n brief van 100 woorde waarin jy verduidelik hoekom jy iets (enigiets van jou keuse) stuur aan iemand vir wie jy omgee sodat dié persoon sal verstaan hoe jy oor hom/haar voel. Dit kan ook ’n vriend(in) of familielid wees.
Martjie Bosman
(*19 September 1954)
BOSMAN WORD OP GROBLERSDAL GROOT, waar haar ouers taalonderwysers was. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1985 ’n meestersgraad in Afrikaanse letterkunde behaal en daarna wiskunde aan die Hoërskool Warmbad gee. In die tagtigs is sy as letterkundenavorser by die RGN werksaam en doen later navorsing oor sosiale vraagstukke en landelike ontwikkeling. Nadat sy ’n ruk as argivaris by ’n radio- en televisiediens gewerk het, is sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel. In 2003 debuteer sy met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. Haar tweede bundel, Toevallige tekens, verskyn in 2010.
Pre-lees
Konflik is deel van die lewe. Vroeër jare is konflik gesien as iets wat jy tot elke prys moet vermy. Vandag word daar gereken dat mens konflik moet erken en bestuur.
Bespreek in klasverband die maniere hoe julle konflik hanteer.
“Verskroeide aarde” in konteks: Die gedig kom uit die bundel Landelik (2003). Die verskroeideaardebeleid is die beleid wat lord Kitchener gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) deurgevoer het. Hy het opdrag gegee dat die plase afgebrand moes word, die huise en huisraad ook. Die diere wat nie gekonfiskeer is nie, is ook doodgemaak. Daarna is die vroue en kinders, gewoonlik op hulle eie waens, getrek deur daardie plaas se diere, na die naaste van verskeie stasies geneem en van daar in oop beestrokke na konsentrasiekampe. Daar word bereken dat meer as 26 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf het. Veral kinders was die slagoffers van ontoereikende mediese sorg en voedsel en sommige moeders het die meeste van hulle kinders in die kampe verloor. Geld of hout vir kiste was daar nie en gestorwenes is gewoonlik net in ’n kombers begrawe, kinders soms in seepkissies. Boereplaashuise wat nie afgebrand is nie, is partykeer deur die Britse magte gekonfiskeer en as hospitale ingerig. Die enigste vee wat behoue gebly het, was dié wat inderhaas deur die Boere op die plaas versteek is voor die Britte opgedaag het om die plaas te vernietig. Oor al hierdie dinge het Boere wat dit oorleef het, en hulle nageslag, nog vir dekades groot bitterheid jeens die Britse volk gekoester. Die beleid is deurgevoer, omdat die Engelse besef het so lank as die plase bestuur word, sou die Boere die voorraad gehad het om te kon voortveg. Ná die oorlog moes die agtergeblewenes hulle boerderye van voor af opbou. Die Merebank-kamp was naby Durban.
Lees