Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

      Sy steek haar blydskap nie weg nie en soen hom op albei wange, plaas haar hande op sy skouers, voel die spiere onder die hempstof, ruik sy skoon sweet. Haar hande bewe toe sy die koffiekan met haar voorskoot vat en van die vuur lig, ’n vars oondkoek breek en smeer. Sy laat hom eet, ook van die gekookte vleis, effe draderig al het sy dit voordag al opgesit.

      “Waar’s almal?” Hy vee sy mond met ’n vadoek af.

      “Pa is by die vee, die ander in die skool … dié wat nie werk nie.”

      Sy stryk ongemaklik met haar plathand oor die tafel. Is die koffie ooit nog warm? Merk hy hoe uitgetrap die vloer is? Dat daar bruin strepe teen die muur afloop waar die dak die winter gelek het, wat sy nie doodgewit kry nie? Dat sy twee tande verloor het en daar ’n gaping in haar regterkies is?

      Blykbaar nie. Hy sien vir Kattie raak wat skuinsweg in sy rigting loer, onder die tafel uit.

      “Jy ken my nie? Ek is Nieko.” Hy mik om haar te vang.

      Kattie roer nie, kyk hom net bedug aan.

      “Nee, want jou ogies was skaars oop toe ek hier weg is. Ek is jou broer. Wat’s jou naam?”

      “To-ma-si-na,” laat val Kattie die lettergrepe van haar tong af. “Maar jy kan Kattie sê. En hierdie is Kat.” Sy sit haar arms om die wollerige geelbont kat en sleep hom onder die tafel uit.

      “Maar dis die einste streepkat wat ek hier gelos het! En jy, wat hoor ek alles van jou?”

      Sy kyk hom vas in die oë. “Ek is nie dood nie. Antonie sê ek het sewe lewens soos ’n kat.”

      “En so bekkig soos ’n papegaai!” lag hy. “Wanneer gaan jy skool toe?”

      “Sy word sewe,” sê Ellen. “Maar soos jy sê, amper volleerd. Sy tel allerhande goed by die groter kinders op. Dis net, met so ’n alleenkind … jy weet nooit wat die regte ding is om te doen nie.”

      Nieko het vars groente saamgebring, en vrugte van die Kaapse Parade. Hy skil vir Kattie ’n piesang af. Sy gaan sit op die stoepie en eet suinig, rok netjies oor die knieë getrek.

      “Hoe lank bly jy? Jy’t dan niks by jou nie,” sê Ellen.

      “Nie lank nie, Ma. Ek het met ’n geleentheid gekom en moet vanaand weer terug.”

      “Sonder dat jy jou pa gesien het?”

      “Nee, ons het mekaar raakgeloop op Kalkrug. Ek het gou kom groet.”

      Groet asof hy weggaan? Waarheen? Om wanneer terug te kom? maal die vrae deur haar kop. Toe hy netnou so ewe daar in die deur staan, beeldmooi en geesdriftig, met die Prins-blos op sy gesig, kon sy breek van trots. Haar seunskind wat gereed lyk om die wêreld kaalhand aan te vat, maar terselfdertyd so weerloos jonk …

      Oorlog! tref die skrikgedagte haar. Dis al geruime tyd vandat Antonie die dag uit die skool aangekom het met die nuus dat daar oorlog in Europa is. Hulle is hier so afgesny van die groot wêreld daar buite dat sy vir nuus van die skoolkinders afhanklik is.

      Antonie het gretig vertel van die oorlog waarin Duitsland en Rusland, Frankryk en Brittanje aanmekaargespring het. En dat Louis Botha se Unieregering ’n veldtog begin het om die Duitsers uit Duits-Suidwes-Afrika te dryf.

      Vrees vir Antonie, wat byna so oud is soos Nieko toe hy destyds weggeraak het, het haar gepak. Veral toe die kind vuur en vlam raak oor bekendes wat deel is van ’n groep soldate op pad na Lüderitzbucht, onder andere die Moore-broers van ant Ellie van Mowbray. En niemand minder nie as Miekie Laumbaart, wat hoeka sy pa se geld met ’n leerdery op Franschhoek gesit en mors het. Esther wou glo die stuipe kry.

      Antonie is minderjarig, sy sal hom waaragtig nie laat gaan nie, maar Nieko!

      “Wat is dit, Ma?” vra hy toe hy haar verstarde gesig sien.

      “Ek wil dit nie hoor nie! Moenie vir my sê jy’s ook op pad Duits-Wes toe nie! En dit nadat die Duitsers so goed vir jou was … Het jy nie jou les geleer nie?”

      Hy skud sy kuif uit sy oë en gee ’n laggie. “Meer as een, Ma.”

      Onwillekeurig kry hy die reuk van vuilputte, die kuip waarin dierevuil gis, die vrot drilsel, die swart flodder waarmee die landerye bemes word, waarin sy voete wegsak. ’n Stank wat deur sy klere en vel dring, sy kooigoed en kamer. Maar dié besonderhede spaar hy haar.

      “As ek wou, het ek binne die eerste maand uit Philippi gedros. Maar ek het besef dis skoolgeld, om by die Duitsers van tuinbou te leer. Op een of ander manier moet ’n mens ly, niks kom maklik of verniet nie; betaal sal jy betaal. Dit moes ek, wat nie wou skoolgaan nie, op die harde manier leer.”

      “En nou? Waarheen gaan jy nou?”

      “Wat dink Ma? Dat ek teen die Duitsers gaan veg? Ná vyf jaar was ek soos een van daardie familie. Herr Heine was ’n vriend, ’n vertroueling, ’n raadgewer. Wat weet ek van oorlog af? Die Boereoorlog is skaars verby, waarvoor sal ek my laat fyn skiet van mense? En dit vir die Engelse. Hulle het hierdie land kaal gemaak, vir hulle voel ek niks.”

      Ellen kan maar net knik; sy is swak van verligting.

      “Ek wil nader aan die huis kom, Ma, terug na my omgewing. Ek voel skaam dat ek tot dusver niks vir julle kon doen nie. En dit help nie om nou verskonings te gee nie.”

      Nieko weet nie hoe om homself uit te druk nie. Maar hy moes self eers man word, homself leer ken, deurdruk. Meermale terwyl hy met ’n vurk die mis in die grond werk, gebukkend in die beddings plant en natlei, onder die son sweet totdat hy homself kan ruik, het hy aan sy pa gedink, in sy bokkniebroek waaraan die stank van gelooide velle kleef, die reuk van vaal voetwaswater en uitgeskopte velskoene. Vroeg verweer, geboë onder die houtbondels wat hy uit die duine aandra om die vuur aan die brand te hou vir die kinders om sy tafel. En nie die minste nie het hy aan sy ma gedink, sy ma in haar donker rok wat die hele boel bymekaarhou. Verlange en ’n gevoel van skuld het hom dag vir dag laat werk totdat hy wou omval, totdat daar geen gedagte meer in sy kop oorbly nie.

      Wat hom opnuut nederig maak, is dat sy ma hom nie verwyt nie.

      “Ek het so baie dae gewens ek hoor net jou stem,” sê Ellen sag, “dat ek ’n knoop kon aanwerk, jou voete kon toemaak … Wanneer het jy gesê kom jy weer?”

      “Ek wou dit as ’n verrassing hou, julle eers kom voorberei …”

      Só kom hy met die storie uit. ’n Storie met ’n ompad. Dit begin by Soutrivier se mark waar die gesketter van ’n visbeuel die vars vangste aankondig, en waens hoog gelaai met groente ingerol kom. Daar loop hy hom in ’n man vas, of liewer, die man herken hom.

      “Verskoon my, maar is jy nie Claas Prins … Nee, dit kan tog nie wees nie. Maar ek kan sweer, jy lyk op ’n druppel na ’n jong man wat ek eens geken het. Hy’t winters op my plaas kom jag. Ek dag nog hy vry na my dogter, toe’s dit al die tyd die skooljuffer …”

      Ellen Basson. ’n Vriendin van sy dogter wat by hulle vakansie gehou het, die jagters help onthaal het.

      Nieko stel hom toe voor as die einste Ellen en Claas Prins se seun, waarop die man vra maar wat soek jy dan hier, en hy vertel dat hy groente plant in Philippi op die Kaapse Vlakte.

      Die

Скачать книгу