Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 18

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

die kuiermense hier is De Hoop grênd en word daar in die groot eetkamer gedek. Soggens word lampetbekers met warm water ingedra en slopemmers leeggemaak. Laat saans sit hulle nog om die tafel en haal ant Esther die lekkers uit wat die gaste saamgebring het, suiglekkers wat na naeltjies smaak en lank hou. Die kinders kry nie van die tjoklits nie. Soggens lê die papiertjies opgefrommel in ’n asbak.

      Vir ou Tobie is Kattie bietjie wild. Hy staan haar voor in die donker gangetjie, vat haar gesig tussen sy hande. “K-K-K-Katy, beautiful Katy!”

      Glad soos ’n akkedissie glip sy onder hom uit na die beskerming van Lotjie. Hulle kyk hom agterna as hy die hond roep en buite gaan rook. Hy steek sy broekspype in sy sokkies en klim in een van die boompies voor die voordeur. Die hond bly onder staan en blaf.

      “Reken, nes ’n jongkêreltjie met ’n kamasbroek en kepsie,” spot Lotjie. En sy praat hom na: “As ek eendag ’n wewenaar is, kies ek vir my ’n jong nooientjie met kousies wat styf om haar bene pas!”

      Dít onthou Kattie van daardie eerste geil winter op De Hoop. Die Heroldts was toe al weg met ’n soetkys wors en ham en brood en botter uit die spens.

      Dit het goed gereën en die werf is oortrek met sagte oranjegeel tulpe. Dis giftig en die diere vreet dit nie, hulle blaas op daarvan. As Kattie en Janet in die veld loop, poeier die gansogies hul skoene goudgeel, en saans sing die kikkers in die dam. In die soutklofie blom die kattekie-lelies bloedrooi teen die rotse, en laer af varklelies wit soos room, met borriegeel stampers.

      Gewoond aan al wat veldkos is, maar nie aan die vleiblomme van die soutklofie nie, het Kattie ’n varklelie gepluk en daaraan geproe. ’n Snaakse brandsmaak in haar mond, wat na haar keel sprei en haar laat hoes en spoeg en opgooi. Bang sy gaan dood, hardloop sy en Janet huis toe, waar sy huil-huil neerval en na haar ma roep.

      “Varkkos!” raas ant Esther. “’n Mens kan sien wie op uintjies grootgemaak is. Kom julle nooit versadig nie? Is jy honger?”

      Grootoog en stom geskrik skud Kattie haar kop heen en weer, en drink die beker melk uit wat Lotjie aandra.

      9

      Voor Kersfees kom die slaghoenders in die hok en daag Cecilia op.

      Klein soos ’n tinktinkie lyk sy vir Kattie, wat dit nie verder as die middeldeur waag nie. Daarvandaan staan en verwonder sy haar aan die tweekleur-hoëhakskoene, wit en donkerblou en skerp gepunt, die sykouse aan Cecilia se voëltjiebene. Sy het oom Michiel se skraal gesig, reguit neus en ronde ken; sy’s fyn en vlug met fladderende handbewegings.

      Hulle sit soos kuiermense in die groot voorhuis, Cecilia slaan van Engels na Afrikaans toe oor. Sy het aan ’n Engelse college gestudeer en het ’n Engelse kêrel, vertel Janet, wat maak of sy alles weet.

      Kattie word gestuur om ekstra teemelk in die kombuis te gaan haal. Toe sy terugkom, het ant Esther dit oor die oorlog.

      “Die arme Ellie Moore se Johnny het gesneuwel by … Waar’s die brief, Kattie? … Ja, hier … Bellville-bos.”

      “Delville, Mammie, in Vlaandere,” help Cecilia haar reg.

      Hede, kraak die dun skryfpapier. “Hoe lees julle kinders?”

      Al hoor hulle nie van Miekie nie, moet hy nog iewers wees, glo ant Esther. “Anders het ons al berig gekry soos Ellie. Hulle het die telegram by haar huis kom afgee, in haar hand.”

      “Julle moes hom nooit laat gaan het nie!” Cecilia se aanvallende stem sny deur murg en been. “Miekie is nie oorlogmateriaal nie.”

      “Miekie skiet soos ’n perd skop,” val Janet tussenin. “Jy moet hom met die seloentjie sien, kolskote!”

      “Ag, al wat Miekie in sy lewe doodgeskiet het, was Mammie se twee mak tarentale.” Cecilia gaan onverwags aan die lag. “En toe maak hy of dit ’n ongeluk was. Ek het nog altyd gesê daar’s hopeloos te veel wapens in die buitekamer, die haelgewere, die Mauser én nog die pistole.”

      Hoe naïef kan mense wees? Om te dink die oorlog sal binne weke verby wees, en nou is dit al meer as drie jaar. Die Duitsers en Engelse slag mekaar af in die loopgrawe, die rotte vreet aan hul ontbinde lyke. En asof dit nie genoeg is nie, wil Amerika ook nou inklim.

      Die wind wáái oor die stoppellande en oor die werf, druk die bloekombome skeef, die hoenders se stertvere waaier oop.

      Die jêmtertjies het nie vanjaar na wense gerys nie, sal dit ’n voorbode wees?

      Cecilia maak ’n Krismisrok vir Janet. Kattie het gehoop sy kry ook een, daar is genoeg lap, maar dit gebeur nie. Sy kan knopies aanwerk en rafels opvee.

      Dan kom Cecilia met ’n bondeltjie wasgoed kombuis toe. “Vryf asseblief vir my uit, Katstertjie. Versigtig, hoor, en hang in die koelte op, nie oor die doringbosheining nie.”

      Kattie bevoel die onderklere. ’n Onderrokkie van blinkswart materiaal en broekies sonder rekke, ’n band om die middel wat soos ’n skirt in die sy vasmaak en wye pype met breë strokies kant daarom, pragtig met die hand genaai. Sy hou een op en pas dit teen haar lyf. Haar ou broek voel soos ’n stuk seil, dit skaaf tussen haar bene. O, hoe wens sy …

      Toe Nieko vir Kattie kom oplaai, roep ant Esther agterna: “Jy hou nie langer as ’n week Krismis nie, ons het nog mense!” Cecilia bly mos tot die end van die maand.

      Kattie kyk nie om nie, maar sit kiertsregop langs haar ouboeta, haar mond geplooi asof sy ’n soetigheidjie pruim.

      Nieko het tamaties en skorsies en geel spanspekkies op Rietvlei geoes; die namiddag eet hulle rooiryp waatlemoen. Hy het ook versierings van hout saamgebring vir ’n Krismisboom. ’n Tak van ’n doringbos met ryp oranje bessies word op die kombuis se vensterbank in ’n emmer staangemaak.

      Kattie mag een van die gekerfde takbokkies vir Janet saamneem. Só iets is daar nie in die Laumbaarts se huis nie; die krip en eseltjies en Josef en Maria en die Jesus-kind behoort net aan hulle. Julle is ons s’n, ons familiegoed, gesels sy met die Jesus-familie onder die doringbostakke op die vensterbank.

      Hulle smul aan al die heerlikhede, die Kaapse lekkergoed wat Ellie en Liesie gebring het, Wietie se vars kabeljou van Langbáán, en skaapboud en hoender en jellie en vla.

      “Jy het soos ’n derm gerek. Hoe oud is jy?” vra Nieko.

      “Nege,” sê Kattie en strek haar uit.

      Na regte – sy is Meimaand tien – moes sy nou in standerd een gewees het. Al het Ellen haar by die huis geleer, het hulle haar in die skool teruggehou sodat sy en Janet saam kan wees. Hulle leer uit dieselfde boeke. Sy is slimmer as Janet, maar sy mag haar nie wen nie.

      Nieko se wenkbroue klim teen sy voorkop uit. “En jy het nie ’n mond om te praat nie?”

      “Moenie die kind allerhande goed in die kop prent nie,” keer Ellen. “Sy’s kapabel genoeg en gaan rebél. Sy’s alte rapat.”

      Kattie weet selfs die dinge wat meester Senkiejôn die standerdsesse leer. Hoe die ysberge gesmelt het en die seë die land oorstroom en deurgestoot het van Saldanhabaai af tot in St. Helenabaai. Alles onder water; hier waar hulle nou sit, was miskien ’n paar eilandjies. Die Bergrivier het in die lagoon uitgeloop en die diere was nie gewone kleinwild soos bakoorjakkalse en steenbokke en skilpaaie en muishonde nie, maar olifante en bere, en gorillas

Скачать книгу