Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 17

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

De Hoop hang daar ’n lamp bo die tafel en ly niemand ooit honger nie. Drie maal op ’n dag is daar vleis of wors op tafel, en gekerfde biltong op vieruurbrood wat hulle in die spens eet. Die koffie word warm gehou op ’n blink konfoor met kole. Partymaal het Kattie nog lus vir ’n skeppie van iets op tafel, maar is te skaam om te vra. Dis nie goeie maniere nie, het Ellen hulle geleer. Janet eet soveel sy wil en help haarself nog tussenin aan koekies en beskuit uit die spens; sy kou aan droëwors en tasaaltjies wat in die vuurherd hang.

      Sommer gou span ant Esther vir Kattie in. Sy is die stuurdingetjie wat heen en weer tussen die vleis- en melkkamer en kombuis draf, ’n mes in die hand gestop word om aartappels en pampoen en patat te skil. “Dun, gehoor?”

      Asof sy doof is, herhaal ant Esther alles, totdat sy “Ja, antie” antwoord.

      Soggens gee sy die hoenders kos. Namiddae help sy vir Lotjie melkemmers en roosters en strykysters skuur agter die houthoop waar die wind koud waai. Sy wat tot onlangs nog met Kat in ’n sonstreep kon sit en speel, soos ’n klipspringer oor die plat klippe rondom die werf kon wip, oor die kant van die puts kon hang en haar gesig in die diep weerkaatsing spieël, word nou sitgemaak met die mandjie stopgoed. Die kouse se dun plekke word eers deurgeryg, dan oorlangs geweef. Los ’n ogie aan die kante, sodat die stopsel nie koek as die wol in die was krimp nie.

      Sy word aangesê om die silwer en kopergoed blink te vryf. Met as en paraffien. Daarna word dit in warm seepwater afgewas en met droë lappe blinkgevryf.

      “Ma laat ons skuurklip op die strand optel en fyn kap,” gesels sy met Lotjie.

      “Krap dit nie julle goed nie?”

      “Ons sif dit. En dit stink nie soos paraffien nie.”

      “Ongesjineerd!” Ant Esther vat eksepsie oor die stink-woord. Asof De Hoop se kraal en varkhok nie ruik nie? En al die vlieë!

      Ons koeistal het Pa ver van die huis af gebou, dink Kattie.

      Sy moet die teekoppies een vir een in ’n kommetjie was sodat die porselein nie tjip nie. Dis familiegoed, erfgoed, sê ant Esther. Geërf by wie? wonder Kattie.

      Hulle het net gebruikgoed, wat nie mag breek nie, want daar is nie ander nie. En familie is verweg mense soos haar ma se suster by die Piketberg van wie hulle nog net af en toe hoor, en die Milanners.

      Janet oefen klavier in die voorhuis. Kattie kry ’n bloekomtak om die hoendermis voor die agterdeur houthoop se kant toe te vee.

      “As daar nou een Prins is wat sal leer om sy arms uit sy moue te steek, is dit jy,” sê ant Esther. “Kom, vat die besem, stof af die stoele, vryf blink die lampglas.”

      Kattie skroei goed met die strykyster, en tjip koppies. Toe ’n ornament breek, skel ant Esther: “Dis hoekom julle mense nooit iets sal hê nie!”

      Al was dit die katte wat ingeglip het toe die spensdeur per abuis oopgestaan het, kry Kattie die skuld. Sy knyp haar mond styf toe. Sy sal nie sê sy’s jammer nie.

      Wanneer sy binne afstof, raak sy net versigtig aan die porseleinfigure op die rakkie en streel oor die brokaatstof van die sofa. Gaan aan die droom in die vrykamer voor die portret van prinses Juliana van Nederland in ’n room-en-groen wyehalsrok, juwele om haar nek en ’n kroontjie bo-op haar opgekamde hare.

      As Kattie naweke by die huis kom, kry sy nog ’n keer raas.

      “Kyk hoe verbrand is jy! Het jy nie ’n kappie opgesit nie?”

      “Ant Esther sê ek het ’n vaste vel.” Kattie hou haar arm teen Ellen s’n. “Wat is dit, Ma?”

      “Jy aard na die Bassons, ons is van Franse afkoms. My ma was ’n Rousseau.”

      Terwyl Ellen die kind insmeer met harde bokvet, vertel Kattie van die mooi pop met die kop, arms en bene van porselein en die laplyf. Dit het aan Cecilia behoort, en die fraai kleertjies het Cecilia alles self gemaak, ’n ingeplooide rok met ’n groot strik, en ’n broek met opnaaisels en kant.

      “Sal Ma vir my ook so ’n broek maak, van sulke sagte lap?”

      “Ai, kind, met jou ydelhede,” sug Ellen. “Wie het jou kop so versnipper? Met ’n skaapskêr bygekom?”

      “Ekself. Omdat my vlegsels losspring. Ant Esther sê ek het perdestert vir hare. Toe knip ek dit af.”

      Toe Kattie ná haar eerste naweek by die huis die sandpad De Hoop toe vat met die aandson agter haar, het Kat haar soos ’n hond gevolg, met ’n klaaglike gemiaau. Sy moes hom by die plaashek omjaag. Hy het nooit weer huis gehaal nie. Weke lank moes sy ’n knop wegsluk elke keer as sy aan Kat dink. As sy maar net kon weet wat van hom geword het.

      Vir ’n lang tyd wil Kattie nie na haarself in die lang spieël kyk as sy binne werk nie. Lelike regaf rok met ’n uitgeholde hals wat haar nek nog langer laat lyk, moue tot op die elmboë. Hoekom het haar rok nie ook plooie en valle soos Janet s’n nie?

      “Omdat jy nie so dik soos Janet is nie, nie tetjies het om weg te steek nie,” sê Lotjie. “En om vir my minder strykwerk te gee.”

      Kattie weet dis net om haar beter te laat voel. Daar is nie genoeg lap nie. Sy moet altyd met die oorskietstroke tevrede wees.

      Sy vryf die spieël met verwoede hale blink. Pluk die gordyne met soveel krag toe dat kleistof saggies agter die muurpapier af sif. Of is dit dalk rysmiere wat die messelsand tussen die stene uitwerk? Wanneer vreet hulle nie deur die papier nie? Dan moet die mure van nuuts af geplak word.

      Eendag sal dit haar beurt wees om te help, die gekookte meellym aan die stroke te verf en teen die muur vas te druk, dit versigtig gladstryk sodat die papier nie skeur nie.

      “Jy’s al lekker lank, jy kom oral by,” het ant Esther anderdag gesê toe hulle die spensrakke regpak.

      Hulle maak reg vir die kuiermense uit die Kaap. Wat elke jaar op De Hoop kom afpak, winter en somer, tjommel Lotjie in die kombuis. Sodra alles skoon en blink is, kom hulle op ’n streep aan, eers die Heroldts en dan die Simenhoffs, en Cecilia.

      Die Heroldts is vanjaar vroeg en betrap hulle onkant, in die middel van die varkslagtery. Ant Esther is besig met die hamme, en eenkant word vleis gemaal en speserye geskroei vir die wors. Lotjie roer die vetpot op die werf. Sy is blink gesweet en reg om die beker soetmelk by te gooi om die kaiings te verbruin toe die Kaapnaars se swart kar by die voordeur stilhou.

      “Hulle moet my maar verskoon, ek kan nie nou hier los nie,” sê ant Esther.

      Janet kruip agter haar ma se voorskoot weg en Kattie word aangekeer om tee te maak vir die vreemde mense en by hulle in die voorhuis te sit.

      Miemie Heroldt se gekrulde hare is in ’n wors om haar kop gedraai en met haarnaalde vasgesteek. Sy dra ’n borsspeld op haar kraag en hakskoene met ’n streppie, vasgemaak met ’n knopie. Haar kouse sak af om haar bene. Tobie Heroldt dra ’n silwer horlosieketting oor sy ronde magie. Hy draai sy duime dan linksom en dan regsom.

      Kattie, nie gewoond aan sulke hoë mense nie, sit serieus op ’n regop stoel. Sy soek na iets om te sê, grootmensdinge soos troues en babatjies, siekte en die hoenders wat sleg lê.

      Tobie fluit ’n deuntjie. Miemie haal haar breiwerk uit, ’n paar sokkies vir die soldate. Die een ’n bietjie groter as die ander, maar lekker warm. Sy was ’n nooi Losper

Скачать книгу