Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk страница 16

Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

“Wie gaan jou hoor, my liefste? Ek hou al die hele nag die huis dop. Ek weet jou mense slaap almal in die voorste kamers.”

      “My kamer is nie klankdig nie. Een skree en –”

      “En ek klim deur die venster,” val hy haar waarskuwend in die rede. Hy sug hoorbaar en vervolg op pleitende toon: “Ek het nie kom rusie maak nie, Lelani. Ek wil ook nie dreigemente rondslinger nie. Jy ken my tog. Al wat ek vra, is dat jy saam met my ’n entjie gaan stap … iewers waar ons ongesteurd kan gesels.”

      “Ek is twee-en-twintig, nie twee nie. Ek ken jou onsmaaklike reputasie,” sê sy, haar stem skor van weersin.

      Sy hoor hoe hy sy asem skerp intrek. “Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek ooit ’n meisie gedwing het om enigiets teen haar sin te doen nie,” sê hy geraak.

      “Moontlik omdat meisies jou so graag jou sin gee,” spot sy.

      “Is jy nou regverdig?” vra hy verwytend. “Ek het jou vanmiddag vertel hoe ek oor jou voel – hoe ek reeds jare lank oor jou voel. Ek het jou Estelle se verloofring gewys. Dink jy ek het gelieg?”

      “Jy laat my lag, Arno,” antwoord sy en beweeg ’n paar treë nader aan hom, bang dat sy die huismense sal wakker maak as sy te hard praat. “As jy my so onsterflik liefhet, waarom het jy my nie jare gelede daarvan vertel nie?”

      “Hoe kon ek? Toe jy op skool was, is jy nooit toegelaat om saam met seuns uit te gaan nie. Daarna is jy universiteit toe. Die paar keer wat ek jou op die dorp raak geloop het, was daardie ou oom altyd saam met jou.”

      “Ons het ’n telefoon,” sê sy, haar stem swaar van ongeloof.

      “Ek weet julle het! Ek het ’n paar keer gebel, maar ’n meneer Taljaard het elke keer geantwoord en gesê jy is nie beskikbaar nie.”

      Dis tipies van oom Giepie, dink sy met ’n innerlike glimlag. “Ek moes my stiefpa verpleeg.”

      “Ek het dit besef, daarom was ek geduldig. Ek het geweet daar was nie ’n ander man in jou lewe nie; ek kon dit bekostig om te wag.”

      “En terwyl jy geduldig op my gewag het, het jy aan Estelle Havenga verloof geraak?” vra sy onthuts en wonder of sy Arno in sy gesig moet uitlag en of sy hom moet bejammer.

      “My ma het my gedwing om aan die meisiemens verloof te raak! Ek het skuld gehad en… wel, my pa kon my nie help nie. Hy het ’n beroerteaanval gekry en van sy beloftes vergeet.”

      “Dobbelskuld?”

      “Nee! Om liefdeswil, Lelani, waarom glo jy ek is alles wat sleg en boos is? Ek het ’n motor gekoop. My pa was heeltemal gewillig om vir my geld voor te skiet, maar toe kry hy ’n beroerteaanval. Ek wou nie die motor verloor nie, daarom het ek my ma gevra om my te help.” Sy hoor die ondertoon van bitterheid in sy stem toe hy voortgaan: “My ma was alte gewillig, maar sy het haar pond vleis geëis: sy sou my help op voorwaarde dat ek aan Estelle verloof raak.”

      “Goed, ek glo jou, maar dit verander niks aan die situasie nie, Arno. Ek het jou nog nooit liefgehad nie en ek is –”

      “Jy het my nog nooit geken nie,” val Arno haar in die rede. “Asseblief, Lelani, klim deur jou kamervenster en kom stap saam met my langs die see. Ek beloof jou ek sal nie aan jou raak nie.”

      “Ek stel nie belang nie, Arno. Goeienag,” groet sy beslis. Hy huiwer, sy oë op haar gesig, swaai sy been onverwags oor die vensterbank en klim deur die venster.

      “Arno, nee!” roep sy ontsteld uit en retireer vinnig na haar kamerdeur.

      “Nie so haastig nie!” sis hy en gryp haar aan die arm. Hy ruk haar met ’n ruheid wat uit frustrasie gebore is nader en hou haar aan haar boarms vas. “Al wat ek vra, is dat jy na my luister, Lelani. As jy weet wat ek ter wille van jou moes deurmaak … Eers was dit Estelle se trane en daarna my ma se histeriese gekyf en geskel. Sy het gedreig om my te onterf en moontlik sal sy nog, maar dit alles …” Hy onderbreek sy sin en snak na sy asem toe die kamerdeur oopgaan en iemand die lig aanskakel.

      Lelani kyk na die deur en voel die bloed koud loop in haar are toe sy in Roland se granietharde gelaat vaskyk. “Jammer,” sê hy en begin die deur agter hom toemaak.

      5

      Lelani sien die kamerdeur agter Roland toegaan en besef dat hy haar sal ignoreer selfs al sou sy om hulp roep. Sy huiwer net ’n oomblik, gooi dan haar kop agteroor en gil so hard as wat sy kan: “Oom Giepie! Oom Giepie, kom help! Help!”

      Arno is nog besig om van skok na sy asem te snak, toe die kamerdeur oopbars en Roland hom met enkele tree bereik. Hy kry Arno met een hand voor die bors beet, ruk hom heen en weer en stamp hom teen ’n klerekas vas.

      “Is jy mal, man? Los my!” protesteer Arno paniekerig en probeer uit Roland se greep wurm.

      “Wat soek die man in jou kamer, Lelani?” knal Roland se woorde soos haelkorrels op ’n sinkdak.

      “Hy het deur my kamervenster geklim,” verduidelik Lelani bedees en dwing haarself om nie ’n impulsiewe vreugdesdans in die middel van die vertrek uit te voer nie. Sy voel lighoofdig van blydskap omdat Roland haar te hulp gesnel het. Maar het sy werklik rede om bly te wees? Die man met die granietgesig speel nie die rol van ’n weldoener omdat hy vir haar omgee nie. Hy sou dieselfde vir enige ander meisie gedoen het, dink sy afgehaal.

      “Jy het Lelani se kamer ongenooid binnegekom, Greyvenstein?” sê-vra Roland dreigend.

      “Ek kan alles verduidelik!” wurg Arno die woorde uit. “Ek het Lelani lief en ek glo sy is lief vir my. Ek … eina!” krys hy toe Roland sy kop hard teen die klerekas stamp. “Verduiwels, man, is dit nodig om my aan te rand? Al wat ek vra, is die geleentheid om met Lelani te praat. Ek het my verlowing verbreek omdat ek besef ek sal nooit vir ’n ander meisie kan lief wees soos wat ek vir Lelani is nie. Is dit sonde om lief te hê?”

      “Liefde!” Roland se lippe krul minagtend. “’n Man wat ’n meisie liefhet, dring homself nie op aan haar nie. Jy het veroorsaak dat Lelani deur jou ma afgedank is nadat jy haar in jou nagklere omhels het. Waar was jy toe sy ’n swaar bliktrommel moes huis toe sleep? Jy was vroeër vanmiddag hier en Lelani het jou laat verstaan ek en sy is verloof. Watter reg het jy om ná middernag by my verloofde se kamervenster in te klim en haar te dwing om dinge teen haar sin te doen?”

      Arno kyk op in Roland se smeulende, donker oë en sluk droog. Hy vrees fisieke pyn. Hy sal vinnig moet praat, anders vermorsel die groot man hom. “Dis alles ’n misverstand. Ek het nie geweet … geglo dat Lelani werklik aan jou verloof is nie. Ek en sy het afgespreek om vanaand ’n entjie langs die strand … Blikskottel!” krys hy toe Lelani se een seilskoen teen die hangkas langs sy regteroor vasslaan en op die vloer val.

      “Die volgende keer sal ek my teiken tref, jou ellendige leuenaar!” dreig Lelani met blitsende oë. “Smyt hom by die venster uit, Roland, anders doen ek dit.”

      Roland blik oor sy skouer na die tenger geboude Lelani en voel ’n onbekende emosie in sy binneste oprank. Hy wil lag, besef hy. Hy wil lag oor die uitdagende astrantheid van ’n meisie wat, met ’n seilskoen as haar enigste wapen, kans sien om ’n fris geboude man soos Arno Greyvenstein by haar kamervenster uit te boender. Maar hy het agt jaar gelede opgehou lag, want meisies – alle meisies – is bedrieglik. Hy kan Arno Greyvenstein selfs ’n bietjie bejammer. Meisies het die gewoonte om ’n

Скачать книгу