Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 28

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman

Скачать книгу

meisie, net so fyn en mooi soos die Royal Albert-teekoppies. Tant Lily wys foto’s en babbel aanmekaar: oor haar drie maande oue naamgenoot, James se pos by die konsulaat en haar ander kleinkinders wat in ’n diaspora oor die wêreld versprei is. Engeland, Nieu-Seeland, Australië, Kanada … Samantha en Andy, Heidi, Peter en die tweeling … En nou Hongkong en Lilith Ann.

      Arabel het nie agtergekom sy raak lomerig, die foto’s al vaer en die stem al sagter nie. Toe sy haar oë oopmaak, lê sy op die bank, ’n kussing onder haar kop, ’n kombers oor haar en die glimlaggende Lucy Lei voor haar, met haar hande gekelk om ’n kommetjie groentee.

      “You better, you rested?”

      Arabel kan nie glo die son skyn en dis oggend nie. Sy onthou hulle het ryskoek geëet, later bobotie en sagopoeding. Hulle het gekuier en gesels en nege fotoalbums deurgewerk. Vanaf Lilith Ann tot by Samantha Jane, die oudste kleindogter. Daarna weet sy niks … Nie dat sy omgekantel het nie, en of sy darem vir tant Lily nag gesê het nie. Sy was vlugvoos, soos gebeur wanneer jy oos vlieg deur die tydsones, want jy verloor ’n dag en jou lyf se klok raak deurmekaar.

      Sy sit regop en proe aan die tee. Dis stomend en geurig.

      “I wake you soft, I give time for soul to come back in body.”

      Arabel ken dié mooi Chinese tradisie, beter as om met die skril geskel van ’n wekker jou dag te begin. Dalk is dit wat met haar verkeerd is: haar siel wat nog doer ver aan die Kaapse Weskus soekend rondswerf.

      Sy was haar gesig en gaan soek na tant Lily.

      Haar gasvrou is erger as haar kuiergas en lê nog opgekrul in haar verebed, hare in krullers, lyf toegewoel in ’n flennienagjurk en haar siel wie weet waar. Dalk in Havana saam met die “fraaie” James Bond.

      Arabel is bly oor die verposing, want dit gee haar tyd om te bad en aan te trek.

      Lucy Lei se ma, Anna Lei, is in die kombuis besig en maak ’n ouwêreldse kniebuiging toe sy Arabel sien. “You eat Chinese breakfast, Africa breakfast?”

      Arabel gee nie om nie, sy sal eet wat tant Lily eet. Dit, vind sy teen elfuur uit, is tipies Suid-Afrikaans. Pap en tuisgemaakte boerewors, met mosbolletjies en groenvyekonfyt.

      Tant Lily is apologeties. “Artritis en vroeg opstaan rym nie. Maar noudat hierdie ou vrou uiteindelik respektabel is, kom ons gaan sit buite op die balkon, dan vertel jy my hoe dit met jou en daardie fraaie kapteintjie gaan. Maar eers: hoe voel jou kop, poppie?”

      “Buitekant goed; die sny was nie diep nie. Maar binnekant is hy baie deurmekaar,” erken Arabel.

      “Jou hart ook,” raai tant Lily. “Jy is nie lekker nie, ek kan sien … Ons het baie tyd. Kom sit hier neffens my, kindjie, en vertel vir Ouma wat verkeerd is.”

      Dis soos ’n kraan wat verstop was en waaruit die water nou skielik stroom. Arabel vertel van haar katastrofiese huwelik, oom Gerber en hoe sy Henning sommer net so gelos en weggery het. Hoe hy teruggekom het, maar nou ’n ander vrou liefhet en hoe sy weer van voor af oor hom gaan treur.

      Tant Lily bring ’n boks snesies, maar beduie met ’n kwaai wysvinger voor Arabel se neus. “Dit beteken nie jy moet sit en huil oor daardie Kiki-vrou nie. Wil jy jou man terughê?”

      “Hy is nie meer my man nie.”

      “Het jy hom lief?”

      “Ek weet nie. Dis waaroor ek deurmekaar is. Een dag wil ek hom hê, die ander dag nie. Ek bid hy moet my soen, maar as hy wil, wil ék nie. Ek verlang my dood, maar as ek by hom is, baklei ek met hom. Wat is dit met my, tant Lily? Is ek siek of is dit die stamp teen my kop?”

      “Nee, poplap,” antwoord tant Lily met ’n glimlag.

      “Jy is nie siek nie en dis nie die stamp teen jou kop nie.”

      “Nou wat dan?”

      “Dis die liefde wat dit aan jou doen. Jy is verlief, hartjie, tot oor jou ore verlief op daardie mooie eksman van jou. Voel hy dieselfde?”

      Arabel vleg haar hande inmekaar en kyk radeloos op.

      “Ek weet nie, tant Lily, en dis wat my nog meer verwar. Want hy weet self ook nie. Hy sê as hy sy hande om my nek sit, is hy nie seker of hy my wil omhels of verwurg nie. Ek is kinderagtig en maak hom kwaad. Al wat hy vir my voel, is die … e … lyf se soort dinge … tante weet mos wat ek bedoel?”

      Tant Lily lag hardop. “Ek was darem ook jare lank getroud, met ’n man wat goed geweet het van daardie soort dinge. En ek kyk televisie; kyk nie net nie, maar sién ook. Dis ’n goeie begin – die heel beste pad na sy hart toe. Ou liefde roes nie, en as hy jou wil soen, staan stil en laat hom, sit jou arms om sy nek en soen hom terug. Dis mos lekker, nie waar nie? En as dit lekker is, sal hy nog wil hê en terugkom. Hy sal dié Kiki vergeet en weer met jou trou. Dis wat jy wil hê, is dit nie? Jy en hy wat saam die hele wêreld vol vlieg. Een lang wittebrood wat nie ophou nie …”

      Arabel skrik. “Nee, dis glad nie wat ek wil hê nie. Ek wil nooit weer saam met hom op een vliegtuig wees nie. Tante het geen idee hoe aaklig hy is nie. Hy vind fout met als, en niks wat ek of die eersteoffisier doen, is reg nie. Nie een van die ander kapteins het oor my aankondigings gekla nie, maar hy sê ek gee verkeerde inligting en praat onnatuurlik. My romp is te kort, ek oortree regulasies en is altyd laat. Ek gaan hom binnekort weer met ’n ding gooi, ek weet dit!”

      Tant Lily luister na die res van haar tirade, en toe Arabel klaar stoom afgeblaas het, sit sy rustig agteroor. “Jy is ’n mooie meisie en ek kan verstaan as hy gedink het jy verlei die ander offisier wat na die radio moes luister. Dis duidelik dat hy jaloers was, dis hoekom hy ook nie wil hê jy moet kort rompies dra nie. Jy ruk jou op oor niks. Sê liewer dankie dat hy so streng is, anders was ons almal nou haaikos.”

      “Aan wie se kant is tant Lily?” verwyt Arabel.

      Die fletsblou oë kreukel. “Aan jou kant, liefie, maar dis verkeerd dat jy hom hoog en droog by die hotel gelos het. Geen wonder hy word kwaad vir jou nie. Weet hy ooit waar jy is?”

      Die swart krulle skud heen en weer.

      “Het jy nie vir hom gesê jy kom hierheen nie?”

      Arabel lig haar ken. “Dit het niks met hom te maak waar ek in my vrye tyd is nie.”

      “Jy is obstinaat, poppie. Dis verkeerd.”

      “Hy is erger. Daag uit die bloute op, vra nie of ék dalk ook ’n kêrel het nie, aanvaar as vanselfsprekend ek sit ses jaar vir hom en wag.”

      “Hy was ordentlik om self vir jou te kom sê daar’s ’n ander vrou, eerder as dat jy dit later eendag by vreemdes hoor. Die minste wat jy kan doen, is om hom ook te konsidereer. Hy is verantwoordelik vir jou en as jy sommerso verdwyn, gaan hy mos bekommerd wees.”

      “Ek het ’n boodskap by ontvangs én by een van die kelners gelaat.”

      “Dis nie genoeg nie. Jy moes hom self gesê het en darem ’n foonnommer gegee het. Wat as ’n krisis opduik of hy kry nie die boodskap nie? Jy was dom, kind. Ek het ’n spesmaas hier kom moeilikheid.”

      Arabel het al van gisteraand af dieselfde spesmaas, maar was te trots om dit te erken. Sy wil nie agter Henning aan bel nie, netnou dink hy sy is verleë oor hom en wil

Скачать книгу